Oop polisiedeur verwelkom Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 18 May 2009 06:08
Untitled Document

Dit is altyd bemoedigend om ‘goeie’ nuus uit polisiegeledere te kry. Dalk is dit veral verblydend omdat die spreekwoordelike ‘goeie goed’ in hierdie geval uitsonderlik ‘skaars’ is.

Maar ’n onlangse persverklaring van die Boschkopse polisiestasie was uitsonderlik verblydend. Daarin word vermeld dat ’n verdagte aangekeer is weens die moord op die Van der Bosch egpaar van Mooiplaats - skaars ’n maand ná die voorval. Goeie nuus, wat met dankbaarheid ontvang word en wat ’n klop op die skouer van die Boschkopse geregsdienaars verdien.

In dieselfde persverklaring word nog twee suksesverhale opgehaal. ’n Dief en ’n verkragter is te wete in twee verskillende sake in ons gebied in hegtenis geneem. Ons neem met dankbaarheid daarvan kennis en is veral trots op die enkele polisieman wat daarvoor verantwoordelik was.

Ook wil ons welkom sê aan die nuwe kommissaris van die Boschkopse polisiestasie, supt JG The Kisho, en ook geluk sê aan die ander nuwe lede van die stasie se bestuurspan, soos in die verklaring bekendgemaak. Ons wil graag glo dat dit ’n geval gaan wees van ’n nuwe bestuursbesem wat, met die geesdriftige hulp van die gemeenskap, skoon sal vee

Supt The Kisho se mededeling dat hy ’n ‘oop-deur-beleid’ wil handhaaf en sy uitnodiging aan die gemeenskap om enige probleme wat hulle sou hê, met hom te kom bespreek, is veral bemoedigend. Want dat daar probleme is, ly geen twyfel nie. Ons kan, terwyl die spreekwoordelike deur nou oop is, aan talle ‘probleme’ dink en wil op uitnodiging enkeles ophaal:

Op Oujaarsaand van 2006 is ’n jong man by sy ouerhuis in Zwavelpoort deur gewapende mans doodgeskiet. Ons inligting is dat die polisie-ondersoek op die moordtoneel ietwat oppervlakkig was. Familielede het die volgende dag patroondoppies uit die moordwapen op die toneel opgetel. Geen poging is glo aangewend om die spoor van die moordenaars in die tyd van die voorval te volg nie. Sedertdien is alle navrae van gesinslede oor die vordering van die ondersoek met vae antwoorde en selfs ongeduldige aggressie omseil. Met die laaste navraag is hulle meegedeel dat die ondersoekbeampte in die saak intussen oorlede is. Is die saak nou ’n ‘cold case’? Probleem.

Dit het al bykans algemene kennis onder inwoners van die gebied geword dat klaers in sekere sake en van ’n bepaalde ras min of geen samewerking van minstens een polisielid kry nie. ’n Mens wil geensins hier ongegronde aantuigings van openlike rassisme maak nie, maar dit word as ’n ‘probleem’ deur etlike mense in die gemeenskap ervaar, en verdien om ondersoek te word.

Die gewone klagtes van telefone wat nie beantwoord word nie, klagtes wat eers baie lank ná aanmelding aandag geniet en afsprake wat nie nagekom word nie, is nie beperk tot ’n enkele stasie nie, maar dit bly ’n probleem. En ’n probleem is tog nie werklik ’n probleem as dit opgelos kan word nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger