Spinnekop draf lang pad kaf PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 23 October 2018 09:17
Untitled Document

Eric Nefdt, die 32-jarige Faerie Glen-inwoner bekend as Spinnekop, het die 1 550 km roete van Pretoria na Lüderitz in Namibië op 15 September voltooi.

Eric het op 4 Augustus op dié epiese tog weggespring. Hy het die roete in ‘n super-heldpakkie gedoen as ‘n simbool daarvan dat enigiemand ‘n held kan wees en ‘n verskil kan maak deur orgaanskenking.


Spinnekop en Normie in die woestyn

Hy het die roete per voet gedoen en het omtrent 40 km, wat ‘n maraton-afstand is, elke dag afgelê. Eric is in die ondersteuningsvoertuig vergesel deur Normie Eckard, wat Ventures4Jesus gestig het, ’n organisasie wat mense met gebreke help. Normie het elke dag ’n klein deel van die roete in sy rolstoel afgelê. Kragman Kobus Pieterse van Tierpoort het elke nou en dan by dié twee aangesluit.

Uitdagings wat Eric op die roete ervaar het was die swerm irriterende muggies wat in die drie dae voor hy Ariamsvlei bereik het, om sy gesig gemaal het. Hy sê dat hulle by sy oë, neus en mond ingekom het.


Spinnekop en Normie op 15 September by Lüderitz, die eindpunt van die roete
Foto’s: Verskaf

Die geweldige hitte het dit amper onmoontlik gemaak om in sy super-heldpakkie in die son te draf. Nog ‘n uitdaging was beserings soos blase op sy voete, inflammasie in sy hakskeensening en die opbou van melksuur in sy spiere. Tog moes hy aanhou om elke dag 40 km af te lê. Wanneer hy nie kon draf nie het hy gestap en het dit hom 12 tot 14 ure ‘n dag geneem.

Vir meer inligting oor orgaanskenking, besoek die Suid-Afrikaanse Orgaanskenkingsvereniging se webtuiste by www.odf.org.za of skakel 080-022-6611. Vir meer inligting oor die Sentrum vir Weefselingenieurswese, bel Julie Purkis by 072-233-9345 of besoek www.tissuedonation.org.za

 

 

 

 

 

© 2018 Die/The Bronberger