Die Bronnie het my oë oopgemaak PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 23 October 2018 09:12
Untitled Document

Angelique Flynn van Shere skryf:
Maak nie saak of ’n mens by die tandarts, veearts of mediese sentrums is nie, oral waar ek myself in die laaste paar jaar in ’n wagkamer bevind het, was daar vir seker tussen die tydskrifte ’n Bronberger

Van die wagkamers het sommer elke uitgawe van ’n jaar of twee. Dis vir my altyd so lekker as ek die Oktober een sien met die dogtertjie op die sebra, want ek weet my Piet-my-vrou-foto’s is daar in met die spesiale storie wat julle daar bygesit het.

’n Klomp jaar terug was die hout potlode wat ek gemaak het ook in Die Bronberger met die oordoen van Woes Lekker se speelparkie-gebied. Daar was ook ’n uitgawe waar my dogter Chanelle die mooiste sampioen by Kikuyu Lodge afgeneem het. In Julie vanjaar was daar selfs ’n klein beriggie oor die ‘Kinders in die Bos’ kampe wat ek aanbied.

Die Bronnie het my oë weer oopgemaak vir die mooi dinge in die lewe. Ek het my kamera afgestof en weer begin foto’s neem. Dit is net ongelooflik dat ’n mens so bevoorreg is om aan die voet van die Bronberg te kan bly. Die natuur en al sy verrassings is prysloos. 

Ek het vir die eerste keer in my lewe gesien hoe ’n stokkiewurm uit die kokon kom. Dit was ’n tydsame proses en hy het sy stokkie-kokon saamgesleep tot waar hy gevoel het hy is gereed en veilig om dit wat hy ken, af te skud.

Vanoggend (28 September) hoor ek sowaar my ou vriend – die Piet-my-vrou is terug, maar wat sy nie weet nie is dat sy haar eier laas jaar in die katlagter se nes gelê het, soos ons gelees het toe dit gebeur het. Die katlagter-kuiken was uitgeskop en die groot Piet-my-vrou-kuiken was die troppie voëls se alles. Hulle het sommer drie op ’n slag die groot baba se kroppie vol kos gestop.

Die Bronnie was 16 jaar ’n handige gids en ek persoonlik het baie geleer. Ek sien weer mooi dinge om my raak. 

Baie geluk en baie dankie aan Gerhard, Angie, Tania en Jeanette en span. Ook dankie vir al die lesers en adverteerders wat “Die Bronnie Wat Niemand Weggooi Nie” lewendig hou.

 

© 2018 Die/The Bronberger