Sestien jaar saam met die Bronnie en sy kontrei PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 25 September 2018 13:30
Untitled Document

Ons het lesers uit verskillende dele van Bronbergland gevra om hulle ervaring van die Bronnie en hulle omgewing en oor hoe dinge in die afgelope sestien jaar (of langer, of korter) verander het, met ons te deel. Ons bydraers is vrye teuels gegee om ook oor hulle eie sestiende verjaardae te vertel.


Koos Reynecke
van Wapadrand is ‘n veteraan-Bronberger wat hier in sy eie woorde oor die Bronnie se 16 bestaansjare en oor sy omgewing vertel:

“Ja, sestien was die ouderdom wat ‘n Groot-Trek-seun of Voortrekker sy volwassenheid bereik het en mog vrou gevat of getrou het.

“Vanaf elf jaar oud is veldseuns opgeroep om in oorloë te veg om huis en haard, hulle gesinne, te verdedig en te beskerm. Leeus, wat vee kom vang het is al gejag van tien jaar af, maar sestien was die belangrikste ouderdom.

“In jou sestiende jaar, ja, vanaf jou vyftiende verjaarsdag, is jy deur ‘n predikant of ouderling begin leer en gekatkiseer oor die Bybel se dieper betekenisse sodat jy op jou sestiende verjaarsdag of so gou moontlik daarna, deur ‘n predikant en ouderling, ondervra kon word om te bepaal of jy volwasse is: Volwasse genoeg om nagmaal te gebruik en om vrou te vat en met jou eie huisgesin te begin.


Die kleinkinders geniet uitstappies in die Bronberg saam met oupa en ouma

“My eie 16-jarige boerematriek en matriek het saamgeval in 1964 maar ek kon darem drie jaar wag voor ek vrou vat, en uiteindelik in ‘83 begin huis bou, sonder planne, op my klein plasie hier in die Bronberg. Hier waar ek nou al 35 jaar woon, met ons kinders deur Tygerpoort Laerskool en die ‘nuwe’ Wilgers Hoër.

“Die boerematriek-Bronberger het oor die afgelope sestien jaar, heeltemal volwasse geword.

Inteendeel: vanaf die heel eerste kinderskoene, het Die Bronberger vir ons lesers vertel en geleer van báie dinge – die omgewing, die natuur, die mense, gebeure en toekomstige gebeure van ons omgewing, maar veral ook waar ons vandaan kom, die geskiedenis van hierdie geliefde wêreld om ons en ons huise.

“Wapadrand is in 1983 begin as ‘n droom van ses mense met ideale oor blyplek vir hulleself en toekomstige gesinne en die strate is in ‘85 voltooi.

“In een van die eerste Bronnies, toe ek al in my derde huis hier in die Bronberg woon, is reeds geskryf oor die naam Wapadrand, die plek op die rand van die ou transportryerswapad, waarlangs lewensnoodsaaklikhede tussen die eerste goudmyne van Johannesburg, Barberton en Pelgrimsrus met ossewa vervoer is.

“Aanvanklik het ek nie gedink dat hierdie pragtige, stewige kleurvolle gladdepapiertydskrif dit langer as ‘n jaar of twee sou kon volhou nie.

“Danksy die puik span wat agter die skerms werk om die Bronnie te behou en selfs nóg verder te verbeter, asook die inwoners en lesers van die omgewing, ondersteun deur ‘n gebalanseerde hoeveelheid adverteerders, het ek in 16 jaar, nooit een duim agteruitgang gesien nie, nee, nét vooruitgang!

“Aangesien Die Bronberger nou boerematriek-volwassenheid bereik het, mag ek dalk met die nodige toestemming, twee volwasse stories oor die Bronberg, Juliana se Goue Kruipmol – wat meer as 20 jaar gelede deur my kat herontdek is en ‘n hele konsternasie en geskarrel in omgewingsbewaringskringe veroorsaak het – en die skaars plantjie, ceropegia, skryf en ook hóé Wapadrand oornag sy straatname gekry het . . .”


Engela Hennop en haar gesin bly die afgelope 30 maande op die wildhoewe, wat jare reeds bekend staan as Kiepersol Kamp, in Zwavelpoort. Die Bronberg loop deur die hoewe.

Engela sê sy ken die Bronnie sedert hulle skuif na die gebied en sy kry haar eksemplaar gewoonlik by die koopsentrum in Zwavelpoort of by Ludwig Rose.

Sy hou van die geskiedenis-artikels en sy maak staat op die advertensies uit die omgewing.

Volgens Engela is die bure in haar gebied baie vriendeliker as dié in die stadsgebied. Dit is vir haar wonderlik dat die inwoners saamstaan – iets wat sy weer met ‘n onlangse veldbrand by hulle ervaar het.

Haar sestiende verjaardag het sy as deel van ‘n groot gesin aan die Oos-Rand gevier en sy verlang na destyds se familiesamekomste.


Karel Gerber van Donkerhoek woon al die afgelope 17 jaar in die omgewing, maar hy sê hy ken al van die ander inwoners vir baie langer en hy lees die Bronnie van die heel eerste uitgawe af. Dis seker maar die ouderdom, sê Karel, maar hy kan om te dood nie onthou waar hy die eerste Bronnie gekry het nie.
Die Bronberger is altyd vol interessante artikels en advertensies. Hou dit so,” vra hy.

Die skuif van Oukraalbewoners en ander plakkers na Lethabong in sy onmiddellike omgewing, het die rustige lewe wat hy op Donkerhoek geniet het, heeltemal omvêr gegooi. Om te sien hoe die natuur ‘verkrag’ word, is volgens Karel ‘glad nie lekker nie’.

Hy was in standerd agt toe hy sestien geword het en hy onthou die opwinding om toe ‘n ID-nommer, ‘n weermagnommer en, die belangrikste van alles, ‘n lisensie vir ‘n bromponie van 50cc te kon kry.

Die Bronberger is baie belangrik vir die mense van die gebied, omdat dit ons op hoogte hou van gebeure en ook ‘n blik gee op die verlede. Hou aan en sterkte,” sê Karel.


Esmé Meyer van Murrayfield vertel dat haar “lip lank is,” want as sy die lysie van haar “geliefde Bronnie’ se verspreidingsgebiede lees, dan val sy met ‘een draad van haar agterwerf,  buite die voorkamers van voorreg”.

Maar, sê Esmé, simpatie soek sy nie, want vandat sy die Bronnie ontdek het, is hy oral binne die bereik van haar “gretige hande”.

Sy loop Die Bronberger se pad van 16 jaar net ses jaar saam met hom. Sy het nooit geweet wat sy mis nie, want sy “loop mos verby gratis goed – te ordentlik grootgemaak,” sê Esmé.

“Toe gaan kind des huises uit en raai wat word afgelewer by haar kompleks? En sy wys vir Ma en Ma slaan ‘n super-ses en Ma sê: Gee! Myne! Want die swart-en-wit-toeka-jare se foto’s en artikel laat haar net daar van die wêreld vergeet. Vandaar is die res . . . geskiedenis.”

Sedertdien pik haar ouers wat binne die Bronnie se verspreidingsgrense val, eksemplare op en kuier die Bronnie deesdae by die uitgebreide familie – tot in Skotland.

“Die aanskoulike advertensies, een en elk in kleur, en die plekke en dinge wat dit verteenwoordig trek mens onvoorwaardelik in om selfs dit met genieting aandag te gee. (Iets wat nie maklik met my gebeur nie).”

“Ek mis nie een woord van dr Van der Merwe se diere-raad nie en die mens-dinge in al sy variasies regdeur die tydskrif is ewe ryk en waardevol. Die snaaksie op naas-laaste bladsy is malvapoeding vir die siel en die lewens-rigtende raad en waarhede van die laaste bladsy laat mens met die toemaak en opstaan jou aan jou innerlike loop en bepluis en besiel met nuwe insigte. Ryk, ryker, rykste,” sê Esmé.

“Aan die Bronnie en sy hartsmense wil ek sê, soos die tydlose Emmet Brown dit kwytraak in 1990 se ‘Back to the Future 3’ – “Your future hasn’t been written yet. No-one’s has. Your future is whatever you make of it. So make it a good one.”


Helena Naude Potgieter sê dat hulle in Oktober al 23 jaar in ‘die Bronnie se omgewing’ op Tweedracht woon. Een van die hoogtepunte in haar ‘leeftyd hier’, was toe sy die eerste Bronnie uit die posbus haal – want toe was dit nog in hulle posbussies gesit.

“Van daardie dag af was hierdie interessante omgewings-boekie ‘n absolute noodsaaklikheid vir my. Nou kry ek hom op ander plekke en my inkopieroete word altyd so beplan dat ek my Bronnie kan gaan optel.

“As ons dienslewering benodig, is die antwoord altyd: Kyk in die Bronnie vir ‘n advertensie,” sê Helena.
“Ons het hier gekom toe daar nog ‘n melkplasie op die hoek van Hans Strydom- en Lynnwoodweg was, waar nog net ‘n stopstraat was. Op die Boschkoppad was ook ‘n melkery, wat nou verander het in Waterlake Farm.”

“Oorkant ons is nou ook die ‘Boschkop Primary School’ waar daar vroeër net weiveld was. Ai, maar ‘n gawe verandering is die helder kat oë van vele kleure op die Boschkoppad wat sorg dat jy lekker veilig kan ry in die donker. Nuwe tegnologie het dit ook moontlik gemaak om sommer almal gelyk te laat weet van probleme via ons WhatsApp-groepie.”

“Ek was ‘n volwaardige stadsjapie van Pretoria, waar ek ook my 16de verjaardag gevier het. Hierdie feit het my laat twyfel of ek die trekkery na ‘n plot sou baasraak. Toe oorrompel die Bronberg-omgewing my egter totaal en dit word die wonderlikste 22+ jaar van my lewe.

“Ek het so baie geleer hier: om myself te beveilig en oplettend te wees, selfverdedigingsklasse in die omgewing bygewoon, om my vrese te oorkom, my eie groente te produseer, om plaasdiere aan te hou en te versorg, hoe ‘n veiling werk en meer.”

“Ek het ook ervaar dat die mense hier goeie mense is. Mense wat in die nag opstaan om te help met veldbrande en jou bel as hulle rook naby jou plek sien, wat ‘n rinkhals uit jou groentetuin kom haal en veld toe vat, wat met ‘n trekker kom om afleweringsvragmotors uit die modder te sleep, wat kom help voorbrande maak, wat bel om te hoor of alles reg is by jou, want hulle het skote gehoor, wat uitkyk vir mekaar as hulle iets sien of hoor wat dalk ‘n probleem kan word of is.”

“Die lewe gaan aan, dinge verander, en al word daar gepraat van ‘lyste van onteiening’, ek woon en werk rustig voort, my hart sal nooit verander nie. Moet ek ooit eendag hierdie area verlaat, bly ek in my wese ‘n Bronberger-Tweedragter, al bly ek nou ook in Timboektoe.”

“Mag die Bronnie nooit verander nie, want hy bly noodsaaklik en tops nes hy is! Lekker verjaar, liewe Bronnie!”


Rosalie Wheeler lived and worked in Namibia for 15 years until the mine there closed when she retired and came to Cullinan in 1995, where she lives in the Lewzene Estates.

Rosalie got her first Bronnie at OTK. She finds it a very interesting magazine and can’t wait to get it monthly. She loves reading history stories and the whole magazine. According to Rosalie, Cullinan has changed from a quiet to a rowdy town as more people from outside ‘our town’ visit and settle there.
Rosalie says she can’t remember much about her 16th birthday.


Trix van den Berg
het vir vyf jaar op Pienaarspoort gewoon voor sy en haar gesin tien jaar gelede Tierpoort toe getrek het. Hulle is nou in die proses om te verhuis na Mooiplaats.

Trix, wat jare reeds geesdriftig betrokke is by gemeenskapsbeveiliging, sê sy gooi nooit ‘n uitgawe van die Bronnie weg nie. Sy het al ‘n hele vrag versamel met die oudste een uit November 2008. Sy hou baie van die inligting en berigte oor ‘ons area’ en al die gebeure en doen en late van die omgewing.

Sy het al baie keer Die Bronberger gebruik vir sy advertensies. Dit is ‘n handige boek om byderhand te hê as jy byvoorbeeld dringend op soek is na ‘n loodgieter of toerusting, of as jy hulp met enigiets nodig het, sê Trix.

Die Van den Bergs het hulle Bronnie gewoonlik by Star Trading of Bronberg Vleismark gekry, maar deesdae bring die kinders een van Tygerpoort Laerskool af saam huis toe.


Trix se Bronnie-versameling

Volgens Trix het die omgewing in die afgelope tien jaar nogal drasties verander. Daar is baie meer ligte snags en baie meer plotbewoners. Dit was vroeër baie donker as jy snags uit die stad uit huis toe moes ry. Die verkeer het ook kwaai toegeneem en baie nuwe funksieplekke en ander ondernemings is in die gebied gevestig.

Sy onthou dat haar sestiende verjaardagpartytjie by die Espada Ranch (nou Betsan) gehou sou word, maar toe by hulle huis in Garsfontein gehou is. In daardie jare was dit veilig vir kinders om met hulle fietse vanaf die voorstede na die plotgebiede toe te ry, sê Trix. Haar man, Jaco, het as jong seun per fiets saam met sy vriende Willem Prinsloo toe en terug gery.

“Ons kon winkels toe loop en na maatjies toe stap om te gaan speel – ongelukkig is dit nie meer die geval nie,” sê Trix.


Emma Koekemoer
en haar gesin bly sedert 1984 op Rayton. Destyds was dit nog net grondstrate en baie stil. Gelukkig is hulle huis in ‘n doodloopstraat en geniet hulle nog die stilte met min verkeer, sê Emma. Sy sê die bure het met die jare soms gewissel, maar hulle kom nog altyd goed met die mense van die dorpie oor die weg en het nog ‘geen moeilikheid’ met die mense in hulle straat gehad nie.

As sy reg onthou, het sy haar eerste Bronnie omtrent twaalf jaar gelede by die apteek gekry. Deesdae kan hulle nie wag dat hy verskyn nie en ekstra eksemplare word op versoek elke maand na Pretoria en Centurion gestuur.

“Ons lees die Bronnie deeglik van voor tot agter en geniet veral ‘Toeka se dae’ en kontreigebeure en -nuus. Dalk kan julle weer ‘n slag iets oor die geskiedenis van Cullinan en Rayton en oor die oorlogstydse kampe waar Italiaanse krygsgevangenes aangehou is, skryf. My pa vertel dat hy as kind op ‘n plaas op Onverwacht gebly het en toe met die Italianers te doen gekry het,” sê Emma.
Haar sestiende verjaardag is in Pretoria gehou en sy onthou dat dit ‘n heerlike familiesaamtrek was.

Haar pa was in die Polisie wat meegebring het dat hulle dikwels na klein plekkies, soos Soekmekaar, Roedtan, Verena en Warmbad verhuis het. Dit het daartoe bygedra dat hulle dit verkies om op plattelandse dorpies, eerder as in stadsgebiede, te woon.

 

© 2018 Die/The Bronberger