Mense beweeg aan – dinge bly agter PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 25 September 2018 13:29
Untitled Document

Met ons verjaardag onthou ons 16 dinge wat uit toeka se dae agtergebly het nadat hulle mense aanbeweeg het – van koeëldoppies en blikbekers uit die Anglo Boere-oorlog tot ou notules, ‘n hoeksteen by ‘n sendingstasie, ‘n spookhuis en ‘n krinolet; van sketse, ‘n veldfles, vergete fontein en tremspore tot ‘n sak vol dokumente en ‘n rookbaadjie.

Sketse uit ’n ‘moordkamp’

In Junie 2016 vertel ons dat ‘n tienermeisie se sketse 114 jaar ná haar dood in ’n ‘moordkamp’ herleef het. Nico Pohl van Donkerhoek het dié sketse van Christiana Johanna Ferreira (Chrissie) Pohl, wat as ’n 15-jarige tiener in die Irene Konsentrasiekamp dood is, met die Bronnie gedeel.
Chrissie is as ’n 15-jarige op 24 Januarie 1902 in Irene-kamp dood waar sy en haar gesin gevange gehou is. Haar nommer was 715 op die kamp se sterftelys. 

Chrissie se kort lewensbeskrywing in CF Pohl se onlangs gepubliseerde geskiedenis en genealogie van die Pohl-familie bevat ’n aantal foto's van potloodsketse wat sy in die kamp gemaak het van haar kleintyd op hulle familieplaas, asook ‘n bladsy van ’n briefie wat sy geskryf het en haar sterftekennisgewing.

Dit is al nalatenskap van Chrissie wat oorgebly het en maar kort gelede bekend gemaak is. Nie eers ’n foto van haar kon tot dusver opgespoor word nie. 

Oorlog-oorblyfsels op die Bronberg

In April 2003 het die 84-jarige Francois Annandale vir ons die Anglo-Boere-oorlog oorblyfsels wat hy in die verskansings op die Bronberg agter sy huis gekry het, gewys. Hy het ook die oorspronklike kaart en transport uit 1895 van sy grond in sy besit gehad.

In 2003 het die Annandales al 108 jaar lank in Tierpoort gebly. Die dam net bokant Nkwe-ontspanningsoord se bekende swemgat is geskep toe Francois se pa, George Annandale, die wal in 1930 gebou het om sy landerye te besproei. Die plaas was 385 morg groot met landerye tot onder by Lynnwoodweg. Francois het in 2003 nog meer as ’n 100 morg aan weerskante van die Tierpoort-teerpad, besit.

Hy het vertel dat mense toe reeds 45 jaar lank oor naweke in die poele van die Pienaarsrivier swem.

Nkwe-oord het homself gemaak, het hy gesê en al wat hy en sy vrou Bettie gedoen het, was om ’n toegangsprys te begin vra.

Piet Retief se veldfles

Piet Retief se veldfles is al persoonlike herinnering aan hom wat oorgebly het. In Oktober 2015 het ons vertel van dr Jan van der Merwe se navorsing oor Voortrekkers, generaals en presidente wat Vrymesselaars was.

Piet Retief het Dingaan in November 1837 ontmoet en ’n verdrag onderteken wat grondgebied aan die Voortrekkers sou toeken. Op 6 Februarie 1838 het Dingaan Piet se geselskap uitgemoor en hulle beendere is by Moordkoppie laat lê.

In Desember daardie jaar het Andries Pretorius se kommando Piet se beendere gaan soek. Sy oorblyfsels is op 21 Desember 1838 uitgeken aan stukkies van sy satyn onderbaadjie, ‘n verweerde leersak waarin die traktaat tussen hom en Dingaan was en sy waterfles met Vrymesselaar-simbole: die kompas, tekendriehoek, twee pilare van Boas en Jakin, die alsiende oog van Osiris, die son, maan, geruite vloer, ’n hamer en driehoek met ’n straalson daaragter.

Eeu-oue skool se notules

In Junie 2004 het ons oor Laerskool Witpoort se eeufeesviering berig. Dié skool is in 1904 gestig toe Meester Bos na die Witpoort-omgewing gekom het om met 32 kinders ‘n skooltjie te begin in ‘n kamer wat Hendrik Prinsloo van Kameelzynkraal beskikbaar gestel het.

Eers op 28 Julie 1909 is grond vir ‘n nuwe skoolgebou afgestaan. Witflip Opperman het die gedeelte waarop die huis staan geskenk. Die aangrensende deel, waar die skool en westelike sportgronde is, het van JL Smit van Vlakfontein gekom.

Dié skool het die 1914–1918  Rebellie, die Spaanse Griep van 1918, die 1933 Depressie en die leegloop van plaasskooltjies oorleef. Met ‘n onlangse viering is ou notules uitgestal en daar is lekker gelag oor inskrywings, soos toe die skool in 1949 in oestyd gesluit is omdat die kinders moes help om die oes in te samel.

Presidentsvrou se rok

Mary Burgers se krinolet kan in die Nasionale Kultuurhistoriese Museum se versameling gesien word. In November 2016 vertel ons dat ZAR president Thomas Francois Burgers se Skotse vrou Mary, gebore Bryson, in Europa studeer het en lief daarvoor was om die nuutste modes te dra, veral die busselrok, wat  in die 1860’s en 70’s hoogmode was.

Die krinolet was ‘n kleiner weergawe van die hoepelonderrok of krinolien. Party modelle het ‘n busselstut daarby ingebou gehad, maar ander het ‘n los bussel bo-oor gehad.

Pretoria is in 1855 gestig – reg in die ‘dik-aantrektyd’ toe rokke wyer geraak het en ‘n hele klomp onderrokke aangetrek moes word om die rok van die lyf af te laat wegstaan. Toe die hoepelrok in 1857 uitgekom het was Pretoria se vroue lam van verligting. Om só ‘n rok aan te skaf het beteken dat jy van jou stelle dik onderrokke bevry kon word.

Leiklip-grafstene langs Garstfonteinweg

In Januarie 2005 het ons vertel dat Woodhill Gholflandgoed in die hartjie van die destydse spog melkplaas, Wolfaardt Landgoed, gebou is. Knap drie jaar later, in September 2008, berig ons dat ’n ou begraafplaas met meer as ’n dosyn grafte deur padwerkers met die verbreding van Garstfonteinweg gevind is.

Stootskrapers en kettingsae het dié begraafplaas naby die ingang van Woodhill Gholflandgoed en die kruising van Garstfonteinweg met De Villebois Mareuilrylaan per ongeluk blootgelê. Een van die leesbare leiklip-grafstene dra ’n datum van 1908.

Wolfaardt Landgoed was 980 morg groot en Wolfaardt het dit in 1926 by Gey von Pittius gekoop. Hy is in 1954 oorlede en sy seun Pieter het op die melkplaas aanhou boer.

Die stadsraad het Pieter in 1974 onteien om dorpsontwikkeling te doen, maar danksy ‘n groot geveg is sy grond eers in die 1980’s aan die stadsraad verkoop. Pieter het tot 1993 as huurder daar aangebly.

Auntie Evy se rookbaadjie

In Julie 2012 het ons vertel dat die eerste huis wat in Cullinan gebou is, vandag nog in sy oorspronklike baadjie in Oaklaan staan en bekend is as die McHardy Huismuseum. Die huis is in 1903 vir die Premier Diamantmyn se eerste algemene bestuurder, William McHardy, sy vrou en sewe kinders gebou.

William is in 1913 oorlede en die myn het aangebied dat sy vrou en kinders lewenslank in die huis kon aanbly. Twee dogters, Evalena en May, het tot hulle dood ‘n paar dae ná mekaar in 1984, daar gewoon. So het die McHardy’s die huis 81 jaar lank bewoon en die museum spog met die gesin se oorspronklike meubels, ornamente, kombuisware en foto’s.

By die artikel het ons ‘n foto geplaas van ‘Auntie Evie’ se rookbaadjie op haar bed by ‘n portret van haar. Ná haar man se dood het sy na die warm slaapkamer aan die westekant van die huis getrek. Evie was 88 jaar oud toe sy dood is.

Die Erasmusse se kasteel

Steek daar enige waarheid in die spookstories en gruverhale oor die Erasmuskasteel? In Julie 2006 het ons vertel dat die Erasmuskinders wel aan melaatsheid oorlede is, maar dat die feite oor die jare uit verband geruk is.

Die kasteel is in 1903 deur Jochemus Johannes Petrus Erasmus en sy vrou Johanna Jacoba, ‘n nooi van Schalkwyk, gebou. Jochemus is op 30 Augustus 1863 in Pretoria gebore. Hy was die tweede seun van Carel Jacobus Erasmus wat ‘n deel van die plaas Garstfontein, waarop die kasteel gebou is, besit het. Carel is in 1832 gebore en is met Martha Louisa Prinsloo getroud.

Daar word gesê dat Jochemus die plaas vir ‘n perd en ‘n fluweelbroek geruil het, maar dit is nie waar nie. Hy het ook nie die hele plaas besit nie. In 1900 was die plaas Garstfontein reeds onder 13 eienaars opgedeel.

Vergete delwersdorpie se fontein

In Julie 2017 het omgewingskonsultant, Marinda le Roux, vertel hoe ‘n historiese fontein vanuit ‘n lank vergete delwersdorpie verskuif is.

Hallsdorp of Holtzdorp was ’n delwersdorpie suid van die Premier Diamantmyn op die plaas Byenestpoort en is na die diamantmyn se ingenieur, Holtz, vernoem. Die dorpie is teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog tot niet gemaak, maar die dorpsfontein, wat in 1943 deur Italiaanse krygsgevangenes van Zonderwater-prisonierskamp gemaak is, het behoue gebly.

Ons het in Mei 2015 vertel hoe die delwers elke Vrydag diamante aan besoekende diamanthandelaars verkoop het. Ná Koos Jonker in Januarie 1934 ‘n diamant van 726 karaat uitgehaal het, het diamantkoors hoog geloop.

Mense het op die dorpie toegesak en ‘n skool is begin, ‘n poskantoor is gebou en daar was ’n Jode-winkel met ‘n slaghuis, twee Indiër-winkels, ‘n ystersmid en sinkkerk. Baie delwers is hier dood en is in die begraafplaas, wat vandag oorkant Windy Brow Natuurreservaat is, begrawe.

Bashewa se datum-klip

In Oktober 2007 het ons vertel dat die datum 6/1/1907 op ’n klipstruktuur in Bashewa gegraveer is, saam met ‘n paar amper onleesbare name. Die naam wat duidelik te siene is sê H Larkins, Esq en onder dit in ‘n minder netjiese skrif iets wat lyk soos P de Hark.

Ons het by Francois Breytenbach gaan kuier en hy het vertel dat sy ouers in 1955 dertien aangrensende plotte in Bashewa gekoop het en ‘n lewe rondom die oorspronklike 1908 opstal van die Erasmusplaas, Rietfontein gebou het.

Die ou plaas se meule is nou op ‘n buurplot en staan as die oudste struktuur op Bashewa bekend. Die enjin, wat met lampolie gewerk het, is nog te siene, maar die geboutjie by die meule het lankal bykans heeltemal afgebrand.

Francois se pa en ma, Francois Jacobus en Maria Susanna Breytenbach, het die plotte aan hulle kinders verkoop en vandag bly daar nog Breytenbachs rondom dié geskiedkundige opstal.

Skatkis vol ou dokumente

Die foto wys ‘n kwitansie van Hatherly Distillery, gedateer 18 Februarie 1900 en is in Februarie 2017 in die Bronnie gepubliseer. ‘n Skatkis vol inligting oor toeka se dae op die plase Rietfontein en Pienaarspoort is ontdek toe Bernice Roets ‘n sak vol dokumente by haar ouma, Winnie van Molendorff, gekry het.

Dié dokumente strek vanuit die 1800’s en sluit oorlogskompensasie vir Rietfontein se Van Molendorffs in, ‘n dreigbrief van ‘n diamantmyn, die verkoopkontrak van Pienaarspoort en transaksies met De Eerste Fabrieken op Hatherley, ‘n handelaar op Hazeldean en treinkaartjies van die ou Van Der Merwe-stasie.

Die dokumente vertel die verhaal van Bernice se groot-oupagrootjie, Joseph Willem van Molendorff. Kwitansies en prokureursbriewe wys dat Joseph reeds vanaf 1883 betalings aan die Wolmaranse gemaak het om Pienaarspoort te koop. Hy is toe met die dogter van die buurplaas, Rietfontein, getroud. Sy was Hendrina Maria Cornelia, ‘n nooi van der Merwe.

Willem Wragtag se horlosie

In Augustus 2008 het ons vertel dat Willem Petrus Prinsloo, bekend as Willem Wragtag, die noordelike deel van die plaas Elandsfontein in 1896 van Roelof Minnaar gekoop het.

Hy het vroeër twee plase afgestaan nadat prospekteerders minerale daarop gekry het. Toe hy hom op Elandsfontein kom vestig was hy mooi keelvol vir trek en het hy verklaar: “As daar weer ’n prospekteerder naby my plaas kom, skiet ek vir hom wragtag”. Vandaar sy bynaam.

Thomas Major Cullinan se stokperdjie, om te prospekteer vir diamante, het hom na Elandsfontein gelok. Willem het verseg om hom op dié plaas te laat prospekteer. Die geskiedenis bewys egter dat Thomas Cullinan nie ’n man was wat maklik bes gegee het nie.

Vandag is die geskiedkundige plaaswerf die Willem Prinsloo Landboumuseum. Die ou opstal het behoue gebly en daarin kan van die Prinsloo-familie se waardevolle besittings nog gesien word, soos die horlosie wat van Willem se era af al tydhou.

Anna se hoeksteen

In Julie 2016 het Jan Malan vir ons gaan wys waar toentertyd se sendelinge naby die Mamelodi-kruising op Zambeziweg begrawe is. Dié grafte lê op die Edendale Skool se gronde, waar die sendingstasie begin is.

Die Berlynse Sendinggenootskap is in 1824 in Duitsland gestig en die eerste sendelinge is in 1833 na Suid-Afrika gestuur. Edendale-plaas, Nooitgedacht, het aan die Murray-familie behoort en in die laat 1800’s en vroeë 1900’s is die sendingstasie op ‘n 11 hektaar gedeelte van die grond gestig.  

‘n Kerk is gebou en vroeg in 1900 is ‘n sendingskool daar oopgemaak deur die Schloemanns. Hermann Heinrich Theodore Schloemann was getroud met Anna Luise Friedricke, ‘n nooi Kratzenstein, dogter van ‘n sending-inspekteur van die Berlynse Sendinggenootskap.

Anna is op 5 Mei 1908 op Edendale oorlede. Haar graf is in die klein sendeling-begraafplasie te siene en die hoeksteen wat haar naam dra het ook behoue gebly.

Gehate plakkaat ná eeu nog te siene

In Januarie 2008 het ons vertel dat ‘n foto wat in die 1860’s van die langste en kortste man in Pretoria geneem is, nou nog bestaan. Lang Piet Marais was ’n oom van die digter Eugene Marais en Generaal Koffie, alias Baby Brown, was ’n dwergie wat sirkustoertjies uitgevoer het.

Dié foto was oral in Pretoria te koop en toe Lang Piet later ‘n vername man in die mynwese geword het, het hy probeer om al die foto’s te vernietig. Tog het die Pretoriase stadsraad so eeu later weer ‘n groot plakkaat van dié foto gemaak.

In die middel tot laat 1800’s het Lang Piet Marais se naam voortdurend in die koerante verskyn. Hy was een van die veroordeeldes wat met die burgeroorlog in 1863 bedags in die blok opgesluit is en het ’n Volksraadsverkiesing met vyf stemme verloor.

Generaal Koffie het later by ’n professionele sirkusgroep in Engeland aangesluit.

Napoleon se Wilgerboom

In Januarie 2011 het ons vertel dat lote van die wilgerboom by Napoleon Bonaparte se graf op St Helena hulle pad na Pretoria gevind het deur Boerekrygsgevangenes wat in die Anglo Boere-oorlog daar in ‘n interneringskamp aangehou is.

Dr Brandt, ’n vorige direkteur van die Pretoriase dieretuin, het bevestig dat die lote by die dieretuin se eendedam geplant is.

Napoleon is begrawe onder die wilgerboom waar hy daagliks op die eiland gesit het. Jare later het die wilgerboom by Napoleon se graf doodgegaan en Jan Smuts, wat toe eerste minister was, het lote van die dieretuin se wilg terug gestuur na St Helena.

Hedendaagse foto’s van Napoleon se graf wys egter geen wilgerbome nie. Die groot ou wilg by die dieretuin se eendedam is intussen ook deur die wind omgewaai. Van sy lote is weer in die dieretuin geplant, maar dit is nie duidelik presies waar hulle vandag staan nie.

Tremspoor uit vervloë dae herontdek

In April 2015 het ons vertel dat ou tremspore op Kerkplein ontdek is met uitgrawings vir ‘n nuwe vinnige busdiens. Die plan was om die tremspore te bewaar, al moes die busdiensroete rondom Kerkplein herontwerp word.

Openbare vervoer het in 1897 in Pretoria begin toe die Pretoriase Tremmaatskappy met agt trems en 50 perde aan die werk gespring het. Met die oorlog het die projek tot stilstand gekom omdat die perde op kommando nodig was. Die trems het weer in Julie 1903 begin loop.

Veertien elektriese trems het die perde-trems op 2 November 1910 vervang en 21 km tremspore is gelê waarmee passasiers vanaf Kerkplein na Sunnyside, Pretoria-wes, die stasie, dieretuin, die ou Volkshospitaal en later na die Uniegeboue kon reis.

In 1935 het dubbeldekkerbusse die trems begin aanvul en die laaste tremrit was op 19 Augustus 1939.

 

© 2018 Die/The Bronberger