In die volronde 16 jaar wat ek en Metgesel kuierplekke in die gebied ‘beproe’ en beleef en dan in die Bronnie bespreek, is dit telkens daardie landelike uitspannings, waarmee Bronnieland so ryklik geseën is, wat die vreetsaamheid ekstra aangenaam maak.
Daarom vat ons jou hier in die Bronnie se 16e verjaarmaand vlugtig terug na 16 plattelandse plekke ‘in die oopte’ waar ons oor die jare heen loop afsaal het. Die 16 kuierplekke wat ons uitlig, bestaan na my beste wete nog. Die klem val hier op die landelike ligging en die atmosfeer van die buitestedelike aansitplekke, eerder as op die spyse en dranke.
Bronberg Restaurant (Zwavelpoort)
Dié plotplek wat wyle Faan Smuts op die hoek van Lynnwoodweg-verlenging en die Boschkopteerpad in Zwavelpoort gebou het, het ons gereeld in sy leeftyd en ook daarna besoek.
Destyds het Faan se grasdakhuis en ruim tuin ingestaan as die vergaderplek vir ‘n ‘speelgroepie’ wat haweloos gelaat is toe Nico Breytenbach se Nikos by die Zwavelpoortsentrum, gedwing is om toe te maak.
Ná die onlangste kuiertjie aldaar, kan ons berig dat die atmosfeer, die mense en tradisionele geregte in dié ruim kuierplek steeds heilsaam en gemoedelik-plattelands is.
LJ’s (Tierpoort)
As jy met Garstfonteinweg-verlenging langs van stadskant af beweeg en jy ry verby die Tierpoort-koopsentrum, sit LJ’s net regs van die pad af.
Die plek staan amper eensaam in die oopte van sy plotperseel. Ruim kuier- en braaiplek is buite onder staansambrele ingerig en binne is ‘n gawe kroeg en ‘n knussige eetvertrek.
Die grasdakbedekte kuierplek amper op die grens van Tierpoort en Bashewa
Ná ‘n besoek in 2014 het ons onder meer as volg in die Bronnie berig: ‘Ons voel ons tuis. Eenkant by die kroeg sit ‘n groepie ‘locals’ en gesels. Hulle gesels ook met ons, soos dit ware plattelanders betaam.’
Kakiebos (Kaalfontein)
Langs die bedrywige pad tussen Rayton en die N4-snelweg sal jy die geel windpomp op die groen grasperke sien staan. Ná ‘n aangename besoek aan dié Kakiebosplek het ons die volgende kwytgeraak: “Van ons stoeptafel af kan ons die bedrywighede in die kombuis gade slaan, waar eienaar, Theunette, self agter die potte bontstaan. Ek hou van ‘n plek waar hulle nie wegsteek wat in die kombuis gebeur nie.” Kakiebos bied ruim aansitplek op ‘n onderdakdek en in die oop ruimtes wat ook ‘n kwekery huisves.
Tina Skukan (Faerie Glen)
Ja, ‘n rustige kuierplek op ‘n plot in die hartjie van ‘n besige voorstad, kan jy by Tina Skukan Kunsgalery in Koedoebergweg kry. Só het ons in 2009 daaroor berig: “Teen die hang van die Bronberg, in die hart van die woelige Faerie Glen is ‘n uitspanplek waar die stilte jou omvou; ‘n verskuilde kuierplek waar jy sielerus vir die gemoed en heilsame spyse vir die binneste kan geniet. Die atmosfeer by dié tuinkafee is rustig en ontspanne.”
Raarsoortige rustigheid in ‘n woelige woonbuurt
Rosemary Hill (Mooiplaats)
Jy draai af uit die Mooiplaatsgrondpad, Donkerhoek se kant toe, tot daar waar ‘n groepie mense koppe en geesdrif bymekaar gegooi het om ‘n baie uitsonderlike kuierplek op ‘n mooi hoewe te vestig.
Hier kan jy rustig op een van die stoepe of onder die afdakke in die groot tuine gaan plaasneem en ontbyt geniet. Jy kan ook heeldag ligte etes bestel of jy en ‘n groep vriende of vriendinne kan loop ‘high tea’ geniet.
Kitty Hawk (Boschkop)
’n Kuiertjie by Kitty Hawk is iets waarvoor baie mense baie ver sal ry. Gelukkig is dit vir Bronbergers nie nodig om die lang pad aan te durf vir dié voorreg nie.
Uitsig vanaf die klubhuis se stoep
Die grootste vliegveld in private besit wat die suidelike halfrond het om te bied, sit vlak onder ons neuse ingewig tussen die mooi en rustige rante van Boschkop. Jou ete en drinke kan jy in ’n imposante klubhuisrestaurant geniet of jy kan buite, vlak langs die aanloopbaan op die stoep of onder ‘n grasperksambreel loop sit.
Du Plooys Melkery (Kaalfontein)
Die klem val by Du Plooys se Pienk Koei-teetuin vierkantig op die ‘tuin’ in teetuin. Jy stap ‘n ligte oerwoudjie binne waar piesangbome, laventelbosse, struike en blomplante baldadig onder die invloed van boorgatwater en kraalmis gedy. Lekker beskut teen die wind, is dit by die betontafeltjie waar jy aansit.
Die Piek Koei se ingang
Buite die grense van die tee-oerwoudjie hoor jy die plaas: Die beurt- en koorklanke van lammetjies en kalfies wat hulle blêr- en bulkvernuf opskerp, ‘n werfhaan wat kraai en die gerunnik van ‘n hingsperd.
Jy draai af uit die Raytonpad, naby waar dit die ou Bronkiepad kruis.
Anja’s Tea Garden (Zwavelpoort)
As jy skuins oorkant die Zwavelpoortteerpad en vlak neffens die Bafana Kafee afdraai uit Lynnwoodweg-verlenging kry jy die hoewe waar Anja haar kuierplek ingerig het.
Ná ‘n kuierslag by Anja saam met vriende in 2016, sê ons: “Ons neem plaas by ‘n tafel op die punt van die baie groot, winkelhaak kuierstoep. ‘n Strelende windjie spoel met reëlmaat oor die wye stoep heen – die hetige son te versmaai.”
“Oral op die groot groen grasperk is kuiergroepies onder sambrele, afdakke en koeltebome gesellig aan’t kuier. Genoeg plek hier om baie mense soos min te laat voel.”
Galagos (Kleinfontein-pad)
Galagos sit binne in ’n digte wattelbos neffens die afdraaipad na Kleinfontein. Oor naweke kan jy hier in die stilte ‘n selfhelpontbyt inwerk. Die groot kuierdek is op stelte maak staan en so sit jy hoog in die takke en kan jy jou verbeel jy bevind jou in ‘n reuseboomhuis.
Wandelpaadjies, waterlope en woud op pad na Galagos se uitspanplek
Die mense van Galagos (nagapie) het die onmiddellike omgewing van die wandelpad met inheemse en ander bome en struike beplant. Oral is afdraaipaadjies na stegies en inhamme met dammetjies en waterlopies wat volgens Metgesel werklik ‘magic’ is.
Boskombuis (Kleinfontein-pad)
Net ‘n klipgooi van Galagos af, verder met die Kleinfonteinteerpad langs, swaai jy slap regs in na Die Boskombuis, waar dit ook oor naweke kook.
Kuierplek tussen die bome van Boskombuis
Hier is ‘n lapa tussen die bome in ‘n ware, landelike uitspanplek omgetoor. ‘n Groot oopvuur word gemaak en gaskunstenaars vermaak naweekbesoekers. Jy voel jou by Die Boskombuis werklik weg. Die plek se ontbyt is vervullend aangenaam.
La Vie Lente (Tierpoort)
Vlak langs Lynnwoodweg-verlenging, in Tierpoort se wêreld, sit daar ‘n mooi uitspanplek in die oopte met die volksvreemde naam van ‘La Vie Lente’.
‘Lente’ het in dié geval niks met seisoene te doene nie. ‘n Mens spreek dit uit – ‘Lant’, met ‘n sagte ‘t’ – en dis die Frans vir ‘stadig’. ‘La vie lente.’ Die stadige lewe, of die rustige lewe, dan.
Hulle het die opstal op die uitspanplot baie stylvol en keurig ingerig. Dis ruim en oop en jy kan ook rustig buite op die stoep of grasperk plaasneem en die uitsig oor die bykanse bosveld geniet.
Broodblik en Koffiepit (Bapsfontein)
Vyf kilometer van Bapsfontein af, neffens die vaal, reguit pad na Springs, staan ‘n ou opstal met ‘n lekker rondomstoep. Hou gerus stil as jy dalk daar verbybeweeg. Of rig ‘n tydjie in en ry aspris soontoe. Jy sal nie spyt wees nie.
Die agterplaas van Broodblik en Koffiepit
Want in dié ou plaaswinkel wat hulle oupa Watkins in 1933 gebou het, het sy nasate ‘n baie spesiale kuier- en koopplek ingerig. Jy kan op die agterstoep of in die plaaswerf se tuin uitspan en tuisgemaakte, tradisionele lekkernye geniet. Elke laaste Saterdag van die maand word hier ook kontreimark gehou.
Cafe One 9 ate (Zwavelpoort)
Aan die voet van die Bronberg se Elliott-rif op die langdraai in die Zwavelpoort-teerpad sit ‘n pragtige perdeplot – donkiejare al. Graceland is die perdeplaas se naam en dit huisves ook ‘n eiesoortige kuierplek. Ons het lekker gekuier in die oopte van One 9 Ate en ons het lekker geëet ook. Dit is ‘n baie mooi plek en dit is baie mooi ingerig ook. Veral is dit ‘n kinderparadys waar die kortvolk vir ure met gesonde, opelug-plaasvermaak besig gehou kan word.
Ndlovu (Zwavelpoort)
Die blote ligging van die Spaanssoortige restaurant (El Encuentro), in ’n bewarea aan die voet van die Bronberg, sorg vir die sielstrelendste uitsig denkbaar. Die kuierplek sit ook neffens die Zwavelpoort-teerpad wat vanuit Lynnwoodweg-verlenging uitdraai. Dit is ‘n imposante gebou wat Peter Harris toentertyd onder groot protes op ‘n baie mooi berghoewe staangemaak het. Die omgewing is mooi, die uitsig is mooi en die stilte is mooi.
Dit is wat op die oog val
Vlakvark (Boschkop)
Vlak neffens die Boschkopteerpad en vlak oorkant die polisiestasie, sit die Vlakvark waar jy jou sitvlak in ‘n ruim kuierplek onder ‘n rektent op die platteland kan neerplak en gemoedelike saam met die plaaslike inwoners kan kuier.
Die Vlakvark was vir ‘n wyle in ‘n winterslaap verwikkel, maar ons is bly om te kan berig dat hy onlangs met oorgawe wakker geword het en dat die kuierseisoen nou weer volstoom oop is.
Tin Roof Café (Mooiplaats)
Toe Francesco nog sy Italiaanse restaurant op dié Mooiplaatsplot met die fraai uitsig bedryf het, het Metgesel sonder skroom laat hoor dat dit haar gunstelingkuierplek in die Bronberg se wêreld is.
Toe Francesco sy vertrek geneem het, het ‘n nuwe restaurateur die plek oorgeneem en dit na die Tin Roof Café herdoop. Dit is nog oop, mooi, rustig en netjies by Tin Roof en die plek bied die ideale wegkomkans vir diesulkes wat vir ‘n wyle uit die gewoel uit wil ontvlug. |