Ou Ore drink ‘n huildronkie PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 25 September 2018 13:20
Untitled Document

Hy onthou nou só met die Bronnie se 16e verjaardag saam, sê Gert Mossie, dat hy tienertyd nogal op baie van die partytjies was waarmee sy grootworddorpie se ouers uitgehang het as hulle bloedjies die groot sestien bereik het. Dit was ‘n hele gedoente. En as dit ‘n meisiekind was wat verjaar het, het die tannies kwaai uitgehang en ewig gekloek oor die soete sestiener wat nog nooit eers gesoen is nie.

Moenie glo nie, sê Gert Mossie.

Maar dit was ‘n wilde wedywering onder die voorvroue van die dorp om te kyk wie die uitspattigste en grootste partytjie vir hulle dogters kan opdis as die ‘rype’ ouderdom van 16 bereik word. Erger was dié mededinging om die beste 16de verjaardagpartytjie selfs as die jaarlikse grootkoekkompetisie op die landbouskou, sê Gert.

En toe, een mooi somer, breek die dag van die fraaie Dottie du Randt se 16e verjaardagpartytjie aan.

Die Du Randts was stinkryk. Almal het dit geweet. Al die tieners van die dorp en dié van die ganse distrik is per spoggerige, goudgedrukte kaartjie genooi om die ‘jeuglike’ gebeurtenis te loop bywoon.

Ook die jonge Gertjie Mossie het ‘n kaartjie per pos ontvang en hy was erg in sy noppies daaroor, want soos die meeste ander outjies in die skool, was ook sy tandjies waternat vir die deftige Dottie, sê Gert. Sy plaasvriend, ou Ore du Toit, se tande was seker die natste van almal vir Dottie en ou Ore het glo saans met sy uitnodiging onder sy kopkussing geslaap.

Natuurlik het die Du Randts in die duurste en deftigste huis in die groter skuldbultgebied van die dorp gewoon. Die huis was groot genoeg vir die genooide jongmensgaste om Dottie se verjaardag in hulle eie onthaalvertrek te vier en die grootmense kon hulle ding eenkant in ‘n ander vertrek doen. Dit was die plan.

Jy het met ‘n stel steil trappe op, verby Griekse pilare tot in die ontvangslokaal van die massiewe huis beweeg. En hier, in die portaal, het hy vir die eerste keer in sy lewetjie ‘n ding gesien wat hom vandag nog fassineer, sê Gert Mossie: ‘n Sjampanje-fonteintoring, kan jy dit seker noem.

Die vonkelwynglase is van onder na bo in ‘n piramiedetoring van etlike meter hoog opeengestapel en doer heel bo, bokant die heel boonste glas was ‘n standhoudende sjampanjefontein waaruit ‘n egalige stroom vonkelwyn gevloei het. Die stroompie stort sy borrelende vloeistof in die glas wat die kruin van die toring vorm en dan vloei dit wonderbaarlik af teen die piramide en vul die glase ondertoe al om die beurt oorlopens toe vol. Al die oorloopdrank beland eindelik in ’n dammetjie aan die voet van die toring van waar dit weer na die spits gepomp word. Sy bek het behoorlik oopgehang. ‘n Mens sou dit seker as ‘n ‘toring van babelaas’ kon beskryf, sê Gert Mossie.

Dottie se ma het die gaste (tieners en regte mense) in die groot portaal ontvang, waar gaste met iets anders te drinke in die hand gestaan en wag het vir die groot oomblik wat sou aanbreek as almal teenwoordig was. Dan sou elke gas, netjies en om die beurt, ‘n glasie van bo af na onder toe van die toring afhaal en ‘n heildronk sou dan op Dottie gedrink word.

Nou moes ou Ore du Toit dié dag met sy fiets van die plaas af dorp toe ry en het hy effe laat en duidelik behoorlik moeg by die voordeur ingebars net voor die beplande en geordende aftakeling van die sjampanjetoring sou begin en die heildronk op die verjaardagmeisie gedrink sou word.

Dis ‘n stowwerige en dors pad van die plaas af dorp toe en hy kon sien hoe ou Ore se oë met die intrapslag al op die lafenistoring op die tafel in die middel van die vertrek fokus, sê Gert Mossie. En nog voor iemand iets kon sê of kon keer, steek die ou sy gretige hand uit en hy trek ‘n glas uit die onderste sirkel van daardie toring van babelaas nader.

Ja, ‘n babelse verwarring het losgebars toe die vonkelwyntoring met groot vertoon na benede tuimel en die marmervloer en die windmaker gaste om die toring vol sjampanje en glasskerwe en daarby in diepe skok laat.  

Later, sê Gert Mossie, het hy en die stomme ou Ore maar elders onder ‘n boom met ‘n botteltjie koeldrank ‘n huildronkie op die gebeure gedrink en gewonder wat die mense nou op Dottie se partytjie doen en sê.

 

© 2018 Die/The Bronberger