Die toffie raak nog taaier PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 25 September 2018 13:17
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Datums, datums en nogmaals datums . . . Om kop te hou van wat wanneer ingedien moet word, is nie aldag ‘n maklike takie nie. As jy iemand is wat slegs een maal ’n jaar ‘n inkomstebelasting-opgawe voltooi, is dit heelwat makliker. 

As jy egter vir voorlopige belasting geregistreer is, kom daar twee datums by wat jy in gedagte moet hou: 28 Februarie en 31 Augustus moet IRP6’e ingedien word. Dan is sommige ondernemings ook vir BTW en/of werknemersbelasting geregistreer. Hier raak die toffie nog taaier. BTW kan twee-maandeliks gelyk of ongelyk geregistreer word.

Gelyk of ongelyk
Gelyke registrasie beteken dat twee maandelikse tydperke eindig op Februarie, April, Junie, Augustus, Oktober en Desember. ‘n Ongelyke registrasie eindig op Januarie, Maart, Mei, Julie, September en November.

Indiening van so ’n opgawe moet voor of op die laaste dag van die daaropvolgende maand wees.  As jy BTW vir die tydperk Maart en April moet indien, moet dit nie later as 31 Mei ingedien word nie.

Werknemersbelasting moet voor of op die 7de van die daaropvolgende maand geskied. ’n Augustus-opgawe moet nie later as 7 September ingedien word nie. As dié indieningsdatums op ‘n naweek of vakansiedag val, sal die laaste besigheidsdag voor dit die nuwe indieningsdatum word.

Rekonsiliasies
Dan is daar ook die EMP501 rekonsiliasies waarvan werkgewers bewus moet wees. Dit is om die werknemersbelasting wat reeds betaal is te rekonsilieer ná die belasting wat van die werknemers se salarisse afgetrek is.

Die interim rekonsiliasie vir die tydperk Maart tot Augustus is tussen 17 September en 31 Oktober, terwyl die jaarlikse rekonsiliasie vir die tydperk Maart tot Februarie tussen 1 April en 31 Mei is.

Dit is belangrik om te onthou dat, alhoewel die IRP5 by SARS deur die werkgewer ingedien word, dit slegs vir rekonsiliasiedoeleindes is en nie beteken dat jou persoonlike belasting nou ingedien is nie.

Ongelukkig is daar ‘n onmiddellike 10% boete indien ‘n opgawe laat betaal word. Daar sal ook rente gehef word per dag wat die betaling laat is. Selfs al dien jy die opgawe betyds in, word die boete bereken volgens die betalingsdatum.

Jaarliks
Heelwat ondernemings wat by die Maatskappykantoor of “Companies and Intellectual Property Commission” geregistreer is, vergeet soms dat hulle jaarliks ‘n opgawe by dié kantoor ook moet indien.

As dié opgawes nie ingedien word nie, sal dit na ‘n paar jaar van wanbetaling gederegistreer word.

Maak ‘n lysie en plak dit op jou yskas sodat jy nie onkant betrap word met al hierdie datums nie.

 

© 2018 Die/The Bronberger