Ons kuier weer by 16 voorbladmense PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 25 September 2018 13:12
Untitled Document

Ons het deur 16 jaar se Bronnies gesoek en gesif om 16 voorblaaie te kies waarop mense uit die Bronberg-gebied gepronk het. Ons vertel hier ’n ietsie oor hoe die voorblaaie 'gebeur' het en oor die mense op die foto's.

Jaar een

Julie 2003: Die vier-jaar oue Elicia Smit op ‘n outydse trekker by die Willem Prinsloo Landboumuseum op die ou Bronkhorstspruitpad.

Jaar twee

Desember 2003: Alindi Scheffer van Klipkop het saam met Charlotte die Friesperd gesorg vir ‘n Kersfeesfoto op ons voorblad. Sy is die dogter van Schef en Arna wat daardie jare Langa Voere en hardeware in die ou Zwavelpoortsentrum bedryf het.

Jaar drie

Julie 2005: Hannerie de Wet was saam met twee Pirenese bergbokkies by Kekkel en Kraai op dié voorblad. Dié plaasdier-pretplaas was op dieselfde plot as Hedera Kwekery in Bashewa. Hannerie was drie jaar oud toe die foto geneem is en sy is die dogter van Hannes van Hedera en Riana, sekretaresse, jeug en musiek, by die NG Gemeente Tygerpoort.

Jaar vier

April 2006: Sussies Talana en Alta Badenhorst het in die padreserwe langs Lynnwoodweg-verlenging tussen die kosmosse gaan uitspan. Ou inwoners van dié gebied meen 2006 was die heel beste jaar vir kosmosse.

Jaar vyf

Januarie 2007: Wyle Gert Vorster van Tierpoort was bekend vir die dwergdiertjies en uitheemse diere wat op sy hoewe geteël is. Gert en sy diere het gereeld by skole en kinderpartytjies opgetree. Gert en sy Alpakka, genaamd Mandela, het mekaar geluk toegewens met die nuwe jaar.

Jaar ses

Augustus 2008: Winter is voertyd vir grasvreters. Maar pa en ma se maaltyd word maklik speelplek vir dié rooi bulkalfie en sy maatjie, Frederik Potgieter.

Jaar sewe

Januarie 2009: Vroeg in 2009 het Charl van der Merwe ‘n uitgevrete krokodil in sy dam in die Zwavelpoortspruit gevang en was daarna bekend as die Bronberg se eie Krokodil van der Merwe.

Jaar agt

Februarie 2010: Jani-Mae en Nina-Jane Potgieter het piekniek gehou op die voorblad van 2010 se gewilde ‘dinge-om-te-doen-uitgawe’. Hulle is die dogters van Tania Potgieter, die Bronnie se advertensiemens, en haar man, John.

Jaar nege

Augustus 2011:  Cecile Brody het ‘n oordadige jasmynbos in Cullinan bewonder toe dié foto geneem is. Cecile het intussen na Australië verhuis en die jasmynbos wat teen die hoërskool se heining floreer het, is uitgehaal.

Jaar tien

Januarie 2012: Dié windmaker Ford-bakkie het ‘n draai by ‘n Bronbergse kuierplek gegooi en Lushano Forssman het die rooi gevaarte van nader bekyk.

Jaar elf

Junie 2013: Dit was die begin van ‘n koue winter en Liam du Plessis, toegewikkel in ‘n wolmus en -serp, het nader aan die braaivleisvuur gestaan. Die foto is by ‘n kuierplek naby Kleinfontein geneem.

Jaar twaalf

Desember 2013: Rudi Aschenborn het dié foto van ‘n besondere Bronbergse Kerswindpomp geneem. Ons het ‘n storie hieroor gedoen, genaamd ‘Bottelsterre skitter aan Kerswindpomp’.

Jaar dertien

Mei 2015: Die vierjarige Jessica en haar kapokkiepop, Tamagotchi, het die koppe behoorlik laat draai by dié jaar se Cullifest. Volgens Jessica se ouma, Cathy du Plessis van Cullinan, is die kapokkie  baie tuis in haar poprol en sit tevrede in die waentjie tot sy uitgetel word.

Jaar veertien

Maart 2016: Beloftes van reën . . . Cloete Oosthuizen van Rhenosterfontein staan in die takelwerk van ’n plaasskuur met die wolke wat in die agtergrond saampak. Die foto is met die Boekedag by Diamantvallei geneem.

Jaar vyftien

April 2017: Die tien-jaar-oue Angelique Pieterse van Kaalfontein vertroetel Blitz, die dwergperdvulletjie met sy ligte blou oë. Leila Steyn het die foto by Du Plooy Melkery geneem.

Jaar sestien

Oktober 2017: Vicky van den Berg van Die Wilgers Hoërskool het haar ryvernuf op Nandi, die Elandshoekse sebramerrie, uitgestal. Foto: Henry O Photography

 

© 2018 Die/The Bronberger