Grootste KragDag bied oplossings PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 25 September 2018 13:03
Untitled Document

Die tiende jaarlikse KragDag ekspo is deur ‘n rekordgetal van 15 700 mense bygewoon. Dié ekspo is van 9 tot 11 Augustus op Diamantvallei Landgoed, Rhenosterfontein gehou.

Deur uitstallings, produkdemonstrasies en spesialis sprekers in die opvoedkundige raadsaal het besoekers die geleentheid gekry om inligting te bekom, selfbehoudoplossings beter te verstaan en beter toegerus te word om die regte besluite te neem.


Daar was 410 uitstallers op die 2,4 hektaar ekspo-terrein

Tema-uitstallers het ’n magdom oplossings vir ’n selfstandige lewenstyl aangebied, van sonkrag tot batterye; van waterpompe en waterstoor tot rioolwater herwinning; van eenman-plaasimplemente tot toekomstegnologie; en van entrepreneurskap tot gemeenskapsnetwerke.

Besoekers kon uitvind hoe om verlore hitte in elektriese energie te omskep, kon elektriese motors en selfs Suid-Afrika se eerste eie elektriese plaasbakkie besigtig. Ander leefstyl-uitstallings het temas gedek van herwinning tot nuutskeppings en van tuisleer tot tersiêre studies.


Goeie outydse sakresies

In die junior entrepreneurskompetisie het die jongelinge uitgeblink met ondernemings soos byeboerdery, skaapskeer, ’n koekiebakkery en selfgemaakte vuuraanstekers. Aan die genotkant was daar vir die kinders net soveel verskeidenheid: boeresport, ’n spookhuis, klim-en-klouter en laseroorlog.

Baardman se baardkompetisie is in die biertuin gehou met kategorieë vir kragbaard, boerbaard, skoubaard en bokkapater. Verskeie kraampies het sowat 50 verskillende kosse en knibbelgoed aangebied.


Die spookasem was ‘n wenner

In die Sakeliga KragDag raadsaal-tent is aanbiedings en paneelbesprekings gedoen en deur lewendige uitsendings op Facebook uitgesaai waar dit steeds beskikbaar is. Sommige lesings was op praktiese temas soos besproeiing, die inrig van ’n eetbare tuin en entrepreneurskap,  terwyl ander oor aktuele kwessies gegaan het, soos veiligheid, grondgryp, opvoedkunde en ekonomie.

Nog ander het gehandel oor vryheidsfilosofie en -tegnologie, soos die rol  van gemeenskappe, ’n libertariese lewensbeskouing en die vooruitsigte van eksponensiële tegnologie.  


Deelnemers en beoordelaars van die junior entrepreneur kompetisie, van links na regs: Darian Grobler (Apis Beekeeping); Phillip de Beer (Phillip’s Flames); Jacques Basson (klipkouers beoordelaar); Michelle van der Vyver (Valtaki Varsgebak); Fergus Ferguson (beoordelaar); en Cloete Oosthuizen (Vlymskerp Skaapskeer)

Daar is vanjaar geskiedenis gemaak met die kLiber, ’n blokstring kriptografiese betaalmiddel (amper soos Bitcoin) waarvoor jy jou foon as beursie gebruik. Besoekers kon kLiber gebruik om transaksies, sonder enige transaksiekoste, met verskeie uitstallers aan te gaan.

Met Sakeliga KragDag 2018 agter die rug, is die organiseerders reeds besig met groot planne en nuwe inisiatiewe vir volgende jaar se ekspo, wat van 8 tot 10 Augustus gehou sal word.

 

© 2018 Die/The Bronberger