Spinnekop, Normie en Kragman Koos vat die pad PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 25 September 2018 13:00
Untitled Document

Eric Nefdt, bekend as Spinnekop, het op 4 Augustus ’n epiese tog van Pretoria na Lüderitz in Namibië in ’n ‘Spiderman’-uitrusting aangepak. Hy doen die 1 550 km roete per voet en dek omtrent 40 km, wat ‘n maraton-afstand is, elke dag om mense van orgaanskenking bewus te maak.

Dié 32-jarige Faerie Glen-inwoner poog ook om ’n Guinness Wêreldrekord op te stel vir die verste maraton in ’n super-heldpakkie afgelê. Hy word in die ondersteuningsvoertuig vergesel deur Normie Eckard van Brits, wat elke dag ’n klein afstand van die roete in sy rolstoel aflê.

Kragman Kobus Pieterse van Tierpoort sluit elke nou en dan by dié twee aan. Kobus is van die Tierpoort-gebaseerde Afriqcut, die hoofborg van dié projek wat deur die Suid-Afrikaanse Orgaanskenkingsvereniging en Sentrum vir Weefselingenieurswese onderskryf word.


Eric Nefdt, bekend as Spinnekop
Foto’s: Verskaf

Spinnekop en sy makkers se wegspringplek was by Lagom Café in Lynnwoodweg, Die Wilgers. Die afskopgeleentheid op 4 Augustus het om 8 vm met toesprake begin en teen 11 uur het Spinnekop in die pad geval. Hy is tot by Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) deur mede-drawwers in super-held pakkies en Harley Davidson-motorfietsryers vergesel.

Deur die roete het die Tierpoortse Kragman Koos elke nou en dan vir Spinnekop 10 km ver gedra. Normie, wat meestal die ondersteuningsvoertuig bestuur het, is al vir meer as 20 jaar ’n parapleeg. Voor sy motorongeluk het hy in sport uitgeblink en het provinsiale kleure in rugby en atletiek verwerf. Hy was kaptein van die SA o/19 rugby-span.

Ná sy ongeluk het Normie Ventures4Jesus gestig, ’n organisasie wat mense met gebreke help. Normie is nie net Spinnekop se ondersteuningspan nie, maar het 5 km ’n dag in sy rugby-rolstoel afgelê as deel van sy veldtog, genaamd 100Miles4Jesus. Normie het ook onlangs sewe avonture oor sewe dae gedoen om ’n agtjarige meisie wat aan serebrale verlamming ly, te help.


Spinnekop saam met Normie Eckard in sy rolstoel, links en Kragman Kobus Pieterse
van Tierpoort, regs

Spinnekop, Eric Nefdt, is nie ’n nuweling as dit by maraton-met-‘n-doel kom nie. Hy het die 2017 Comrades in sy spinnekoppakkie voltooi om mense bewus te maak van aangebore hartsiekte en om fondse in te samel vir ’n meisie genaamd Elisa, wat toe net drie jaar oud was en aan verskeie operasie-verwante komplikasies gely het ná vier opeenvolgende ope-hart operasies.

Spinnekop het vir meer as ’n jaar in oggendpiekverkeer in sy spinnekoppakkie geoefen en baie Bronbergers het hom langs die pad gesien. Teen die Bronnie se saktyd op 11 September was hy 228 km vanaf Lüderitz.

Vir meer inligting oor orgaanskenking, besoek die Suid-Afrikaanse Orgaanskenkingsvereniging se webtuiste by www.odf.org.za of skakel 080-022-6611. Vir meer inligting oor die Sentrum vir Weefselingenieurswese, bel Julie Purkis by 072-233-9345 of besoek www.tissuedonation.org.za.

 

© 2018 Die/The Bronberger