Grondgrypers slaan toe in Faerie Glen PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 September 2018 12:53
Untitled Document

‘n Onderonsie tussen grondgrypers en inwoners van Faerie Glen het in Augustus uitgebreek. Vyf mans het ‘n baksteenstruktuur opgerig en water na die perseel aangesluit sonder die metroraad se toestemming.

Volgens raadslid Ernst Botha was die gepoogde grondgryp in Plastonstraat op grond wat aan die munisipaliteit behoort. Mpho Dlamini was een van vyf mans van Mamelodi wat die grond onwettiglik beset het. Hy het gesê dat die grond aan sy voorvaders behoort het en dat hulle omtrent 70 jaar gelede, in die tyd toe die gebied as die plaas, Wilgers bekend gestaan het, daar verwyder is.

Ernst het dadelik die lid van die bestuursraad en voorsitter van paaie en vervoer gebel en daar is bevestig dat geen munisipale grond aan dié ‘eienaars’ verkoop is nie. Die Tshwane Metroraad het later amptelik bevestig dat die grond aan sy department van paaie en vervoer behoort en dat dit nie aan enige iemand verkoop of verhuur is nie.


Werkers op die perseel met die gebou wat die grondgrypers wou oprig in die agtergrond

Volgens Mpho is ‘n grondeis reeds in 1996 ingedien en is in 2015 in die Staatskoerant gepubliseer. Hy het gesê dat die grondeis-proses te lank neem en dit is hoekom hulle self die grond wou terugvat.

Ernst het die grondgrypers gevra om die perseel te verlaat en hulle het volgens hom aggressief geraak en gedreig om die gemeenskapslede se huise af te brand en hulle te vermoor. Die Metropolisie en later die SAPD het die onderonsies onderbreek.

‘n Onderhandelaar het Ernst gevra om die gemeenskap deel van samesprekings gedurende die week te maak. Die grondgrypers is 15 minute later daar weg, al skreeuend dat hulle die grond met geweld sal neem.

Die mans het glo met luukse motors, insluitende ‘n Mercedes Benz en Range Rover, daar weggery. Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is gemobiliseer en sekuriteitsmaatskappye het die gebied gepatrolleer.

Die volgende dag, 13 Augustus, het ‘n vragmotor boumateriaal op die perseel afgelaai voor die sekuriteitswagte hulle kon keer. Op 14 Augustus het die metroraad ‘n uitsettingsbevel gekry, wat deur die hoof van paaie en vervoer, Pheko Letlonkana, geteken is.


‘n Onderhandelaar, polisie en metropolisie het probeer om die onderonsie tussen Faerie Glen-inwoners en die grondgrypers te ontlont
Foto’s: Verskaf

Mpho het gesê dat hulle die bevel gaan teenstaan en sal veg vir wat regmatig aan hulle behoort. Raadslid Ernst Botha het gesê dat die mans vir betreding gearresteer sal word as hulle weer ‘n voet op dié grond sit.

Die struktuur op die oop stuk grond is op 16 Augustus afgebreek.

Ernst het gesê dat mense altyd dink so iets sal nie met hulle gebeur nie. “Maar dit gebeur, en in dié geval in ‘n baie stil straat in Pretoria-Oos. Die gemeenskap het hulle kaliber gewys en het dadelik opgetree,” sê hy.

“My pleidooi is, wees waaksaam, raak betrokke by jou plaaslike GPF, maak seker jy is op jou gemeenskap se WhatsApp-groep en bou ‘n persoonlike verhouding op met jou sekuriteitsmaatskappy.

Ons kan net suksesvol wees as ons saamwerk as ‘n gemeenskap,” het Ernst gesê.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 12 Augustus ‘n lys bekendgemaak van plase wat glo onteien gaan word. Plase in ons gebied sluit in hoewegebiede soos: Witpoort 563 JR, Nooitgedacht 564 JR, Tweedragt 516 JR, Vaalbank 511 JR en Elandsfontein 352 JR.

 

© 2018 Die/The Bronberger