Wit olifant glo Januarie in werking PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 September 2018 12:52
Untitled Document

Cullinan se grootste wit olifant staan steeds leeg. Ná jare word daar nou belowe dat die dorp se biblioteekpark in Januarie 2019 sal oopmaak.

Die sooispit-seremonie was ses jaar gelede, op 28 September 2012. Toe is daar gesê dat die dié munisipale projek teen die einde van 2013 klaar sou wees.

Die destydse uitvoerende direkteur van streek vyf, advokaat Frederick Lekwane, het in sy toespraak vertel dat dié projek van R51 miljoen gaan bestaan uit ‘n biblioteek, gemeenskapsaal, sportsaal, gimnasium, ouditorium, kunsgalery, ‘n amfiteater, rekenaarlaboratoriums en speelplek vir kinders sowel as buite-ruimtes waar besoekers kan ontspan en parkeerplekke.

Die biblioteekpark was die metro-raad se eerste projek van dié aard en daar is beraam dat dit werksgeleenthede aan 306 mense sou verskaf. Later is daar gesê dat die projek R80 miljoen kos.


Die voltooide gebou staan al langer as twee jaar leeg

Die hartseer realiteit was dat die dorp aanvanklik vir jare gesit het met ‘n onooglike krater oos van die polisiestasie, waar eens ‘n mooi rantjie was. In Oktober 2013 het advokaat Frederick Lekwane ontken dat hy beloftes gemaak het dat die projek volgens skedule sou vorder. Hy het die vorige hoof van Sport en Ontspanning blameer, wat glo met die sooispit-seremonie aan die gehoor sou gesê het dat die projek in Desember 2013 voltooi sal wees.

Die projek het by die grondwerke-fase vasgesteek en bly staan. In Julie 2014 het ons berig dat werk aan die Cullinanse Biblioteekpark uiteindelik ná ‘n jaar en ‘n half se stilstand, weer op dreef gekom het.

Die biblioteek-gebou is nou al langer as twee jaar lank staande en is op 19 April 2016 amptelik deur burgemeester Kgosientso Ramokgopa van stapel gestuur. Tog kon die plek se binnewerke glo nie afgehandel word nie.


Die leë binnewerke

Volgens die Diamant Kamer vir Koophandel is daar ná uitgerekte konsultasie met die kontrakteur ooreengekom dat alle werk teen einde September vanjaar afgehandel sal wees. Dié kontrakteur het glo eers in die begin van Augustus met werk begin.

Die kamer sê dat die metroraad vir ‘n jaar en ‘n half in ‘n beregtingsproses met die hoof kontrakteur betrokke was. Dit is glo dié proses wat die oorhandiging van die biblioteek vir openbare gebruik vertraag het.

Ná die afhandeling van werk teen die einde van September word daar ‘n addisionele drie maande gegee vir alle uitstaande vertragings om opgeklaar te word, wat hopelik beteken dat mense vroeg in Januarie boeke daar sal kan begin uitneem.

 

© 2018 Die/The Bronberger