Uitstekende nuus PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 25 September 2018 12:37
Untitled Document

Juanita Jamneck van Mooiplaats skryf:
Baie geluk aan die Bronnie met sy 16de verjaarsdag! Ons lees dit al van die heel eerste een af en kan nie wag vir ons s’n, wat elke maand deur ‘n onbekende weldoener by ons hek afgelewer word, nie! Baie geluk ook met die feit dat die volle Bronnie nou op die web verskyn. Dit is uitstekende nuus vir adverteerders!

Ek wil nie klink soos iemand wat elke maand in die Bronnie neul nie, maar ek wou laas winter al iets daaroor sê. Ek wonder wat laat mense dink dat hulle, net omdat hulle iewers ‘n oop stuk grond tot hulle beskikking het (hetsy dit huur of dit aan hulle behoort), daar mag gaan teikenskiet met hulle groot kaliber jaggewere en ander mense en hulle diere se rus verstoor?

Elke winter wanneer die jagseisoen nader, het ons dieselfde probleem. Daar word reg agter ons geskiet en al my diere is op hol. Menere, julle moet dalk gaan vasstel wat die wetgewing sê oor ‘n skietery binne sekere afstande van huise af.

Sekerlik gaan jag julle op ordentlike jagplase waar daar inskietfasiliteite is of kan julle ook maar, soos ander ordentlike mense, Bluegum of Wattlesprings toe ry? As dit weer gebeur gaan ek maar ‘n formele klag lê, want wie nie wil hoor nie, moet voel.

 

© 2018 Die/The Bronberger