Dit was ’n besonderse kappertjie-
seisoen in die Bronberggebied
se grasvelde. Die
vroeë en aanhoudende reën het
die Kleinfontein-omgewing in ’n
pers wonderwêreld omskep.
Plantkenner Petro Lemmer van
Pienaarspoort sê dat sy nog nooit
in haar lewe so iets gesien het nie.
Cleome maculata, wat geen volksnaam
het nie, is redelik volop en
groei gewoonlik op versteurde
plekke soos ou landerye, maar
nooit in so ’n skouspel nie.
Cleome maculata
Dié is ’n regop eenjarige kruid met
byna haarlose stingels. Die blare is
handvormig en saamgestel met
drie tot vyf smal blaartjies wat
haarloos is of met heel klein growwe
haartjies.
Die blomme is onreëlmatig en die
boonste twee kroonblare het in die
middel ’n geel streep omlyn met
pers. Die vrug is ’n smal kapsule
wat 40-100 mm lank is.
Dié wydverspreide kappertjies kom
in grasveld voor en is dikwels ’n
onkruid op versteurde sanderige
plekke.
Dié kappertjies kan ook in die
Pretoria Nasionale Botaniese Tuin
gesien word en ’n woordvoerder
vir dié tuin vertel hoe belangrik
blomme in ’n grasveldomgewing
is. Heuwels en
vleilande moet nie
afgesonder word van
graslande nie omdat dit
alles integrale dele van
die Bankeveld ekosisteem
vorm.
As grasveld afgesonder of
verkeerd hanteer word,
sal spesie diversiteit
afneem – nie net van die plante
nie maar van alle lewende wesens
wat deel vorm van die netwerk in
die grasland.
Met minder veldblomme sal daar
minder insekte wees, wat dan minder
voëls lok en so ook minder
soogdiere. Die uiteinde is dat die
grasland verval in ’n gebied met
onaantreklike lang of stekelrige
grasse. |