Feeste vier hoogty in ons kontrei PDF Print E-mail
News - Artikels
Friday, 17 August 2018 09:15
Untitled Document

‘n Groot hoeveelheid feeste word oor die volgende maand in ons kontrei gehou, van ‘n Duitse Bierfees met oempa-orkes tot ‘n Hippie-lentefees, ‘n Grasfees, Gemeentefees, Genealogie- en Familie-erfenisfees, Proe’toria Fees, Fijnwyn Innie Lente, Kinderkarnaval en die Kleinfonteinfees.


Genealogie en Familie-erfenisfees


Die elfde Genealogie- en Familie-erfenisfees is op Saterdag 8 September van 8:30 vm tot 2 nm by die Atrium, Lynnwoodrif-gemeente in 269 Lanciastraat, Lynnwoodrif. Gaan bou saam met ervare navorsers jou familie-legkaart. Neem familieleidrade saam, soos volle name (ook nooiensvanne), plekke en datums van geboorte, huwelike en sterftes. Die fees word deur genealoog Isabel Groesbeek, wat die aanbieder van die genealogie-werkswinkel, ‘Van waar Gehasi?’ is, gereël. Toegang is gratis en boeke, eetgoed en drinkgoed is te koop. Gelyklopend met die uitstallings is daar twee inligtingsessies: 9:30 vm – Paneelbespreking: ‘Genealogie: van teorie na praktyk’; 11vm – GGSA gasspreker, Prof Jaco Greeff, UP: ‘The genetic roots of the Afrikaner population’. Bel Isabel by 082-441-2325; e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . GPS koördinate: E28.17’56.1” S25.45’49.3”

~*~

Hippie Lentefees

Dit is tyd vir die Hippie Lentefees in Cullinan. Die Premiermyn Hervormde Kerk hou op 1 September van 8 vm tot 3 nm fees. Daar gaan vetkoek, pannekoek, skaapkerrie en rys, tuisgebakte brood, nagereg, gebak, groente, tombola, skyfskiet, ‘n skattejag, speletjies vir jonk en oud en ontbyt wees. Die aand voor die tyd, 31 Augustus, gaan pap en kaiings beskikbaar wees. Die gemeente se 50-jarige bestaan word met dié fees gevier. Bel Alta by 082-682-1252 of Dina by 082-410-6823. Die kerk is in Zonderwaterweg, Cullinan, oorkant die landdroshof.

~*~

Kleinfonteinfees en sportdag

Kleinfonteiners gaan fees vier op 22 September. Vat die hele familie, oupa en ouma ook, en gaan geniet die dag wat vermaak vir jonk en oud bied. Kleinfontein se jaarlikse fees en sportdag word dié jaar saam met Pretoria FM gevier. Daar gaan wildsvleis- en biltong-verkope wees, ’n potjiekoskompetisie, kraampies, ‘n biertent, musiek en springkastele. Die sportdag sluit rugby, netbal en jukskei in. Parkering kos R10; kraampie-besprekings is R100 en middagete-potjiekoskaartjies kos R100 en kan bespreek word by 083-570-2117 of 082-783-3468. Stuur ‘n epos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Neem die N4-oos snelweg vanaf Pretoria en draai regs op die R515 by die Cullinan/Rayton-afrit. Draai weer regs met die eerste pad.

~*~

Tygerpoort Gemeentefees

Elvis Blue tree om 7.30 nm op by NG Gemeente Tygerpoort se gemeentefees op 24 Augustus in Shere. Die fees begin 2 nm met ‘n pretpark. Die aandmark, wat ook ‘n verskeidenheid koskraampies insluit, begin 4 nm en besoekers kan tussen die vure, onder die bome en by die feesliggies kuier. Besoek www.ngtyger.com vir meer inligting of skakel 012-809-0107 in die voormiddag. NG Gemeente Tygerpoort is in Henryweg 51, uit met Lynnwoodweg-verlenging (Grahamweg).

~*~

Duitse Bierfees

Cullinan Junction hou op 1 September van 10 vm tot 6 nm ‘n Duitse Bierfees. Die fees word deur Echo Wine Events aangebied en daar gaan bier by die liter, tradisionele Beierse kos sowel as pasteie, burgers, kitskoswaentjies, Indiese geregte en egte oempa-musiek wees. Vir diegene wat nie bier drink nie, is daar ook wyn, gemmerbier en non-alkoholiese drankies. Toegang tot die fees kos R50, wat ‘n gewrigbandjie en bierglas insluit. Goue-ry kaartjies kos R170 en sluit ook ‘n outentieke Duitse ete in op die grasperk by die Duitse Oempa-orkes. Kaartjies kan aanlyn bespreek word by qkt.io/germanbeerfest. Skakel 083-646-3686 vir meer inligting. Cullinan Junction is in Hotelstraat, Cullinan.

~*~

ValleiPartei Kinderkarnaval

ValleiPartei se KinderKarnaval is op 25 Augustus op die hoek van Tipperary- en Mayostraat, Faerie Glen. Die dag begin om 8 vm met die amptelike opening. Daar is ‘n honde-opleidingsvertoning om 9.30 vm; trompoppies van Laerskool Garsfontein om 10.15 vm; danspassies met ‘n verskil om
11 vm; trompoppies van Laerskool Constantia Park om 11.30 vm, ‘Amazing Race’ om 12 uur en musiek vanaf 1 nm. Toegang is gratis en besoekers kan uitsien na verskeie kraampies, soos wit olifant, kinder-aktiwiteite en ‘n veiling. Buite-uitstallers is welkom. Skakel die kerkkantoor by 012-991-1542 voor 1 nm op werksdae.

~*~

Proe-toria Fees

Die Proe-toria Fees word op 25 Augustus vanaf 12 uur by Weiveld in Zwavelpoort gehou. Dié buitelug feesdag bied ‘n verskeidenheid kunstenaars op die verhoog, vele kraampies, gourmet kos, kuns en landgoedwyne. Speelplek vir die kinders is die hele dag lank beskikbaar. Proe-toria ondersteun hierdie jaar ook vir Caring Daisies, wat hulp bied aan diegene wat finansieel vasbrand. Kunstenaars wat gaan optree strek van Spoegwolf, Jemma, Elvis Blue, Leah en Ampie tot Nadine, Tussen Sterre, 2nd Life, Touch of Class en Muzik Kids. Toegangskaartjies kos R180. Die feesterrein is op die hoek van Lynnwoodweg-verlenging en die Boschkoppad. Skakel 071-471-669.

~*~

Grasfees

Die eerste Grasfees word op 8 September van 8 vm tot 1 nm op die grasperk by B-House se perseel op die hoek van Garstfonteinweg-verlenging en Blesbokstraat, oorkant Mooikloof, gehou. Helping Hands, LA-Sport, Rafters, Presto Print, Limpopo Readymix, Home-Link, Barber@Rafters en Huurman neem aan die fees deel. Daar gaan demonstrasies wees deur Eureka, Matus en Tork Craft en mense is welkom om kraampies te bespreek om uit te stal. Bel Andries by 082-558-9722 of Chris by 078-942-5424.

~*~

Fijnwyn Innie Lente

Fijnwyn Innie Lente is ‘n wyn- en kosfees wat op 22 en 23 September van 10 vm tot 5 nm op ‘n werkende plaas op Tierpoort in ‘n plantasie van 500 pekanneut- en 200 amandelbome gehou word. Kaartjies kos R160 vir volwassenes, wat wynproe en ‘n wynglas insluit. Daar is ook ‘n groot verskeidenheid deli-soort koskraampies, musiekopvoerings, pret vir kinders, ‘n wynakademie en veilige parkering. Daar is beperkte kaartjies by die hek. Kaartjies is vooraf te koop by www.itickets.co.za. Bel Charmaine: 082-335-5659, stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek: www.fijnwyn.co.za. Shokran is op plot 99 Luiperdstraat, Tierpoort.

 

© 2018 Die/The Bronberger