Waterfiskaal moes varke uit leivore hou PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 17 August 2018 09:10
Untitled Document

‘Die Waterfiskaal’ is een van die 23 olieverfskilderye van Pretoria tussen 1860 en 1900 deur Eric Bolsmann. Eric het ‘n gids met inligting oor elke skildery in die versameling, wat deur ‘n anonieme versamelaar gekoop is, opgestel. Hier kyk ons na die skildery wat wys hoe ou Pretoria se waterfiskaal sy rondtes in Markstraat doen.

In die 1850’s het baie Pretorianers waterputte gehad vir drinkwater, omdat die watertafel baie hoog was.

Leivore het glo water uit die Apiesrivier gebring en later is water vanaf die Fonteine verkry. Die Fonteinedal was daardie jare ‘n lushof. Die fontein was ‘n groot poel helder water wat deur die wit sand opgeborrel het en weelderige plante het tot aan die rand van die water gegroei.

Eric se skildery wys hoe die onderkant van Markstraat, wat later Paul Krugerstraat geword het, in die 1870’s gelyk het. Die aansig is vanaf die hoek van Skinnerstraat in die rigting van die kruisvormige kerk vanaf die suide.

Die watervoor, wat al langs stowwerige Markstraat geleë is, is duidelik sigbaar. In sy gids noem Eric dat die man in die koets dalk die waterfiskaal was wat sy rondtes gedoen het.

Inligting oor dié vore kom van Theo M Tromp se boek, ‘Herinneringen uit Zuid-Afrika ten tijde der annexatie van der Transvaal van 1876’, wat ‘n rekord van die alledaagse lewe in vroeë Pretoria nagelaat het.


Die waterfiskaal doen sy rondtes in Markstraat

Theo was ‘n jong Hollander wat na Pretoria gekom het op soek na werk. Hy is deur president Thomas Burgers as privaatsekretaris aangestel.

“Pretorianers,” skryf Theo, “kry hulle water uit die vore komende vanaf die Apiesrivier. Hierdie vore is vlak, en van tyd tot tyd selfs droog. Aangesien voertuie en perde dit kruis . . .  is die water dikwels ondrinkbaar.”

‘n Beampte, genoem die waterfiskaal, is belas om eende en varke uit die vore te jaag en moes toesien dat niemand water uit die vore tot die nadeel van iemand anders neem nie.

Toe Shepstone Transvaal vir Brittanje geannekseer het, is Theo werkloos gelaat. Hy het met leedwese van Pretoria se vuil watervore en stowwerige strate afskeid geneem en na sy vaderland teruggekeer.

Eers in 1889, meer as 20 jaar ná Theo se tyd hier, is ‘n konsessie vir die voorsiening van skoon water, wat vir menslike gebruik geskik sou wees, aan ‘n maatskappy toegestaan. Die bedryf is in 1903 deur die stadsraad vir die som van £110 000 oorgeneem.

Ná Pretoria pypwater gekry het, was daar vir ‘n ruk nog leiwater na die erwe en volgens die herinneringe van Leon Sydney Zeiler, was die waterfiskaal toe ‘n man met ‘n gebreekte rug, bekend as Boggeltjie Nel.

Erfenis- en restourasiekonsultant, Anton Jansen, het in 2005 die ou leivore gesien toe die stadsraad in Van der Waltstraat sypaadjies voor Burgerspark Hotel vervang het. ‘n Stukkie van die vore voor die Staatsteater in Kerkstraat is bewaar.

Anton sê dat daar ‘n mangat op die suid-oostelike hoek van Bosman- en Boomstrate is en dat die vore daar onder duidelik sigbaar is. ‘n Stadsraad-ingenieur het Anton vertel dat baie van die oorspronklike vore nog gebruik word om oortollige stormwater weg te lei.

 

© 2018 Die/The Bronberger