Koeël suksesvol verwyder ná wildhoewe-aanval PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 17 August 2018 09:03
Untitled Document

Die koeël wat in Matthew Joubert se ribbebeen-senuwees vasgesit het is op 18 Julie verwyder.

Verlede maand het ons berig dat Matthew op 9 Julie, enkele dae voor sy 20ste verjaardag, op sy ouers se De Wagensdrift-kleinhoewe, noord van Cullinan deur ‘n onbekende aanvaller in die bors geskiet is.

Hy het 7 uur die aand die duiwehok, wat omtrent 30 meter van die huis af is, gaan toemaak. Die aanvallers het buite in die donker weggekruip en het op hom geskiet. Matthew sê hy het gevoel dat iets sy bors tref en het begin terughardloop huis toe. Op pad terug het hy twee keer inmekaargesak en bloed het by sy wond uitgespuit.

Matthew se pa, Gideon, het twee mense buite die huis sien beweeg en het saam met sy oudste seun, die 23-jarige Gideon, met ‘n vuurwapen uitgegaan en waarskuwingskote afgevuur. Die aanvallers het van die toneel gevlug en niks is gesteel nie.


Matthew Joubert

Matthew is na ’n hospitaal in die noorde van Pretoria geneem waar hy gestabiliseer is. Die dokters het gesê dat die koeël sy aorta net-net gemis het en dat hulle nie die koeël kon uithaal nie, omdat dit dalk kon veroorsaak dat hy die gebruik van sy linkerarm verloor.

Matthew is uit dié hospitaal ontslaan en is vir ‘n tweede mening na ‘n chirurg, wat eers probeer het om die koeël, wat 5 mm onder die vel was, onder lokale verdowing te verwyder. Die koeël het egter bly rondskuif en Matthew is na die Zuid-Afrikaans-hospitaal verwys waar die koeël onder narkose verwyder is.

Die koeël is deur ‘n sersant van die Cullinan-polisiestasie afgehaal en die familie hoop dat dit binnekort tot ‘n inhegtenisneming kan lei. ‘n Saak van poging tot moord word ondersoek.

 

© 2018 Die/The Bronberger