Seniors leer sien met hulle harte PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 17 August 2018 08:58
Untitled Document

Die Augustus-winde het meer as 60 mense by Tierpoort Seniors se byeenkoms op 1 Augustus ingewaai.

Daar was knetterende kaggelvure in elke hoek van die saal by Imperfect Perfection in Cheetahstraat, Tierpoort en die tafels is keurig gedek deur die eienaars, Dave en Lenè van Leeuwen en Noleen de Jager.


Doreen Fourie en Amanda Alberts luister met konsentrasie

Met ‘n glasie glühwein of ‘n stomende koppie koffie in die hand het die koue vinnig plek gemaak vir warm kuier en geselsies.

Die gasspreker was die sig-gestremde Janetta Kannenberg, beter bekend as die digter Saphira. Sy het al 11 digbundels en ‘n outobiografie die lig laat sien en is ook bekend vir haar “Husse met lang ore”.


Die Tierpoort Senior-manne smul aan die kos

Sonder haar bestuurder en regterhand, Marco Chiti, sou die seniors nie die voorreg gehad het om dié merkwaardige vrou se optrede te kon ervaar nie. Die gehoor se emosies het gewissel van uitbundige skaterlag tot diepe bepeinsing.


Marco Chiti met Saphira in aksie

‘n Geurige maaltyd is deur die komitee voorberei. Die hoofmaal was Sri Lankaanse kerriehoenderporsies op bruin rys en lensies met oondgebakte groente as aanvulling. Vir nagereg was daar appel-krummeltert met room en vla.

Die komitee voel geseënd dat nuwe Tierpoorters sowel as agt gaste by die verrigtinge aangesluit het.

 

© 2018 Die/The Bronberger