Verkeerslig-mammas bedel met babas PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 17 August 2018 08:56
Untitled Document

Die prentjie van ‘n bedelende vrou met ‘n baba op die rug het ‘n alledaagse gesig geword. CMR Gauteng Oos sê dat hulle voortdurend klagtes oor dié sogenaamde verkeerslig-mammas ontvang.

Louise Pieters van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) in Faerie Glen sê: “Ons sien die gevaar daarin vir moeder en kind; ons het morele besware daarteen en tog lyk dit nie vir my of ons ‘n onmiddellike oplossing het nie.”

Volgens ‘n vrouekommissaris, Mbuyiselo Botha, blyk dit of die meeste van die vroue wat met kinders in die strate bedel, van Zimbabwe af kom. Louise, wat self al ‘n paar keer na die vroue uitgereik het, het ook ervaar dat hulle van Zimbabwe afkomstig is.

Sy meld dat volgens die SA Kinderwet en regslui, daar nie ‘n duidelike omskrywing van kindermishandeling is nie en daar is ook nie melding van die gebruik van kinders vir bedeldoeleindes nie. Die eerste bladsy van die Kinderwet verwys wel na kindermishandeling as ‘n “arbeidspraktyk wat daarop gerig is om ‘n kind te eksploiteer”.


Motoriste kla oor verkeerslig-mammas wat met babas bedel
Foto: Verskaf

Louise sê dat die publiek hieroor kla, maar dat dit lyk of niemand verantwoordelikheid wil aanvaar nie. Sy sê dat sy vroeg vanjaar met twee verkeerslig-mammas gepraat het. Hulle het in ‘n woonstelblok in Marabastad gebly, waar die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling dienste lewer en kospakkies voorsien.  

Louise sê dat haar groot kommer die groter kleuters is, wat op die middel van die witstreep tussen die motors saam met mamma loop en van kleins af leer om te bedel. “Hoe skrikwekkend moet dit nie vir ‘n kleuter wees om met groot motors, taxis en busse omring te word nie. Dié kleuters se lewens is in gevaar,” sê sy.

Kan maatskaplike werkers dié kinders verwyder en in ‘n plek van veiligheid plaas? Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng Oos verduidelik: “Die realiteit is dat die landdros by die Kinderhof nie ‘n Vorm 36 om die baba te beveilig en te verwyder sal bekragtig nie, want hierdie mammas woon nie in CMR Gauteng Oos se gebied nie. Hulle is dikwels onwettige buitelanders sonder die dokumente wat die CMR vir hofdoeleindes nodig het.”

Vir meer inligting, bel Henda van der Merwe, by 072-801-0092.

 

© 2018 Die/The Bronberger