Plunderaar laat vals alarms weergalm PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 17 August 2018 08:54
Untitled Document

Mikstertbyvangers blink daarin uit om ander voëls se alarm-roepe na te maak. Hulle kry omtrent ‘n kwart van hulle daaglikse kalorieë in deur vals alarms uit te stuur en die diere en voëls wat dan vlug, se kos te steel.

Veral in die winter, wanneer prooi nie volop is nie, vorm mikstertbyvangers ’n tafelgenoot-verbinding met ander diere, wat as prooi-aandrywers beskryf word. Dié is grootliks ander voëls wat op die grond jag en ook voëls wat agter wilde diere aanloop.

Mikstertbyvangers tree meestal op ‘n indirekte klepto-parasitiese manier op deur hulle tafelgenote ‘n rat voor die oë te draai, maar daar is ook enkele gevalle van direkte klepto-parasitisme waar ‘n mikstertbyvanger ‘n ander spesie voël se kos van hom af sal wegneem.

Die mikstertbyvanger, Dicrurus adsimilis, is maklik herkenbaar aan sy gevurkte stertvere en word van ander blinkswart voëls onderskei deur sy rooi oog. Die mannetjie is ‘n glanserige swart kleur, alhoewel sy vlerkvere dowwer is. Die wyfie lyk soortgelyk, maar haar vere het minder glans.

Die mikstertbyvanger is 23 tot 26 cm lank en weeg 38 tot 55 gram, omtrent so groot soos ‘n Indiese spreeu. Hy het ‘n groot kop, kort beentjies en sit kierts regop, net soos ‘n laksman.


Die mikstertbyvanger in vlug
Foto: Thomas Varto Nielsen, africanbirdclub.org

Prooi
Dié voëls sit gewoonlik alleen of in pare op dooie takke, telefoonpale of heinings vanwaar hulle vlieg om insekte in die lug of op die grond te vang. Mikstertbyvangers is hoogs aanpasbaar; hulle vreet hoofsaaklik bye, krieke, kokonne, larwes, termiete, sprinkane en spinnekoppe, maar sal ook bosluise van beeste afpik en sal skerpioene, vis, klein voëltjies sowel as aalwynnektar, vrugte en sade vreet.

Hulle soek gewoonlik bedags kos, maar is bereid om bykans nagdeur langs ‘n buitelig te sit om die motte te vang wat deur só ‘n lig aangetrek word. Met veldbrande kan groot groepe van dié voëls gesien word waar hulle jag maak op insekte wat voor die vlamme vlug.

Mikstertbyvangers drink water deur ‘n suigaksie te gebruik om die water in sy snawel op te trek. Daarna gooi hy sy kop agteroor sodat die water in sy keel kan afloop.


Die mikstertbyvanger
Foto: Hermanus Voëlklub

Broei
Dié voëltjies se broeityd piek van September tot Oktober. Die wyfie lê twee tot vyf eiers, wat 16 tot 18 dae vat om uit te broei. Die kleintjies verlaat die nessie ná 16 tot 22 dae.

‘n Vlak nessie word van takkies gemaak en word dan met spinnerakke in die vurk van ‘n boom vasgebind. So ‘n nessie hang gewoonlik soos ‘n hangmat tussen die takke van die boomvurk.
Omdat die mikstertbyvanger so ‘n brawe voël is en baie groter roofvoëls wegjaag, sal ander klein, skugter voëltjies hulle nessies in dieselfde boom as syne maak.

 

© 2018 Die/The Bronberger