Tronkbewaarders agter tralies ná moord PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 17 August 2018 08:53
Untitled Document

Twee beskuldigdes in die saak van die moord op ‘n Cullinanse landdros, Victor Mabunda, is op
23 Julie borgtog geweier.

Ons het vroeër berig dat die 50-jarige Victor, bekend vir sy opspraakwekkende uitlatings in die hof, op 10 Januarie koelbloedig doodgeskiet is in die oprit na sy huis in Prinsloostraat 52 A, Bronkhorstspruit.

Victor is glo vier keer geskiet en is op die toneel dood verklaar. Niks is in die voorval gesteel nie en daar is dadelik vermoed dat die moord verbind kan word aan hofsake waarby Victor betrokke was en dat ‘n sluipmoordenaar gehuur is.

Paulos Fourie en Thomo Ngoato, tronkbewaarders by Baviaanspoort Korrektiewe Dienste, is op
1 Februarie vir die moord op Victor aangekeer. ‘n Derde verdagte, Thato Maringa, ‘n gevangene in Baviaanspoort wat uit was op parool, is die volgende dag in Soweto in hegtenis geneem. Hy was in besit van ‘n voertuig wat aan die moord gekoppel kon word.


Landdros Victor Mabunda
Foto: verskaf

Victor was glo op die punt om sy beslissing te gee in die Cullinanse Landdroshof in ‘n saak waar Thomo daarvan beskuldig is dat hy dwelms in Baviaanspoort-tronk ingesmokkel het.

Die staat voer aan dat Thomo die moord op Victor beplan het omdat die landdros hom skuldig sou bevind. In die hof is dit aan die lig gebring dat Thomo en Paulos erken het dat hulle die moord laat pleeg het. Hulle ontken egter die stelling en sê dat hulle deur die polisie gemartel is en gedwing is om skulderkenning te onderteken.

Die derde beskuldigde, Thato Maringa, het nie saam met dié twee in hulle borgtogaansoek by die Pretoriase Landdroshof verskyn nie. Hy word verbind aan sewe ander sake en was uit op parool toe hy aangekeer is vir sy moontlike betrokkenheid in Victor se moord.

Die polisie soek nog na ‘n vierde verdagte, die 48-jarige Solly Sifiso Ngobeni van Soweto. Hy staan ook as Solly Dlamini en Alias Dinga bekend.

Die moordsaak is geskeduleer om op 10 September te begin.

 

© 2018 Die/The Bronberger