‘Nag van die lang messe’ eis digter PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 17 August 2018 08:51
Untitled Document

Bekende digter en dramaturg, Tom Gouws, is op 25 Julie koelbloedig in sy huis op ‘n Tijgervallei-landgoed doodgeskiet.

Sy dood weerspieël onderwerpe waaroor hy geskryf het. Sy bekroonde drama ‘Nag van die lang messe’, ‘n drama in vier bedrywe, is in 2005 met die Nagtegaalprys vir nuwe dramas bekroon.

Die beoordelaars het dié drama beskou as teater van geweld, wat ‘n totale aanslag op Afrikanerdom verteenwoordig. In die drama bevind sewe Afrikaners, wat weens geweld in Suid-Afrika, onder andere plaasmoord, uitgewyk het na die buiteland, hulle in Londen.

In Tom se digbundel, ‘Stigmata’, skryf hy in die eerste afdeling oor mense wat gedood is soos Eugène Terre’Blanche (plaasmoord), die joernalis Chris Louw (selfdood) en Inge Lotz (moord deur onbekende moordenaar).


Wyle Tom Gouws

Tom, sy vrou Retha en hulle 16-jarige seun is die Woensdagaand 8 uur by hulle huis op die landgoed van sowat 20 wonings, ingewag ná hulle gaan uiteet het. Daar was sewe verdagtes, waarvan drie gewapen was.

Retha is in die kombuis deur vier mans oorval. Toe Tom gaan kyk het wat aangaan is hy oor die kop geslaan en in die bolyf geskiet. Intussen het drie ander mans die seun in sy kamer oorval en met kabelbinders vasgemaak. Hulle het sy selfoon gegryp en gevlug toe die skoot afgaan. Die ander verdagtes is met Retha se handsak, selfoon en Tom se skootrekenaar weg.

Tom is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Retha en hulle seun is nie beseer nie en het by een van die egpaar se ouer seuns gaan bly.


‘Ligloop’ is in 2011 by die ATKV-Woordveertjies met die prys vir poësie vereer

Gebore
Thomas Gouws is op 2 Augustus 1961 as die sesde van sewe kinders op Mafeking gebore. Hy het sy BA-graad in 1982 aan die Potchefstroomse Universiteit ontvang. In 1983 het hy sy Hoër Onderwysdiploma met spesialisering in remediërende onderwys, voltooi.

Tom is in 1984 as onderwyser by Potchefstroom Gimnasium aangestel en het dieselfde jaar sy BA Honneurs-graad met lof geslaag. In dié jaar het hy met Retha Fourie, ‘n maatskaplike werker, getrou.

Hy is in 1985 as junior lektor in die departement Afrikaans-Nederlands aan die Potchefstroomse Universiteit aangestel en het dieselfde jaar sy MA-graad met lof en die Diploma vir Universiteitsonderwys behaal.


In ‘Stigmata’ skryf Tom in die eerste afdeling oor mense wat gedood is, soos Eugène Terre’Blanche (plaasmoord)

Tom het in 1986 lektor aan die Vaaldriehoekkampus van die Potchefstroomse Universiteit geword en in 1988 ‘n dosent in die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Hy het sy doktorsgraad daardie selfde jaar op die ouderdom van 27 behaal.

Tom is op 29-jarige ouderdom as professor en hoof van die departement Afrikaans aangestel en later vise-rektor aan die Universiteit van Bophuthatswana in Mafeking, waarna hy weer ‘n betrekking by die Universiteit van Pretoria aanvaar het. Hy was later kanselier by die Graduate Academy of Southern Africa.

In 1990 is hy tot assistent-sekretaris van die Afrikaanse Skrywerskring en as voorsitter van die werkgemeenskap in Pretoria verkies.

Hy het sy loopbaan in die akademie verlaat en ‘n betrekking by die JC Group of Companies aanvaar, waarna hy voltyds begin skryf het en op die direksies van Foundation Publications en Plumbline Productions gedien het.


‘Nag van die lang messe’, ‘n drama in vier bedrywe wat plaasmoord insluit, is in 2005 met die Nagtegaalprys vir nuwe dramas bekroon

Sy digbundels sluit in, ‘Diaspora’, Troglodiet’, Syspoor’, ‘Ligloop’ en ‘Stigmata’. Hy het in 2011 die ATKV-veertjie vir poësie vir ‘Ligloop’ ontvang.

Tom het ook aan die stuur van Elijah Africa, ‘n internasionale bedieningsnetwerk, gestaan.

Ten tye van sy dood was hy besig om ‘n bydrae oor die digter Breyten Breytenbach vir ‘n publikasie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns te skryf. Die misdadigers is weg met die rekenaar waarop dié bydrae waarskynlik geberg is.

Hy laat sy vrou Retha, ses kinders en talle kleinkinders agter.

 

© 2018 Die/The Bronberger