Grafstene word kroegstoele PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 17 August 2018 08:50
Untitled Document

Besoekers aan die Pretoria-Oos Begraafplaas het onlangs op ‘n vreemde gesig afgekom – inwoners van die naburige plakkerskamp het bo-op die grafstene met bottels alkohol gesit en kuier.

Mense wat geliefdes in die Pretoria-Oos Begraafplaas begrawe het, sê lankal dat dit nie veilig is om alleen daar besoek af te lê nie en dat diefstal en vandalisme hoogty vier. Hulle kla dat inwoners van die plakkerskamp die begraafplaas as hulle enigste bron van water gebruik.

In April het ons berig dat begraafplaaspersoneellede sê hulle word deur plakkerskamp-inwoners, wat daagliks deur die begraafplaas loop, aangeval. Besoekers kla dat daar voetpaadjies reg bo-oor grafte loop en dat die gronde nie behoorlik in stand gehou word nie.


Daar word goed gekuier rondom en bo-op die grafstene
Foto: Ria van Vuuren

Volgens metroraad-woordvoerder, Lindela Mashigo, is ‘n insident van ‘n kaal man wat in Junie in ‘n skottel in die begraafplaas gebad het, aan die raad gerapporteer. Lindela sê dat geen ander insidente gerapporteer is nie.

Hy sê dat die heining wat in 2016 tussen die plakkerskamp en die begraafplaas opgerig is, stuk vir stuk gesteel is. Volgens Lindela sien die metroraad se behuisingsdepartement om na dié plakkerskamp, maar die mense kan nie elders heen geskuif word nie omdat so ‘n skuif deur ‘n hofbevel verhoed word.

 

© 2018 Die/The Bronberger