Dis oorlog teen kabeldiewe en ‘saboteurs’ PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 17 August 2018 08:48
Untitled Document

Kabeldiefstal word nou met viertrek-bakkies in Pretoria beveg. Die Tshwane Metropolisie het op
24 Julie 103 voertuie wat boewe in die veld agterna kan sit, ontvang. Dié nuwe taktiek volg ná die Wapadrandse substasie uitgebrand het en een van die ernstigste elektrisiteitskrisisse wat Pretoria ooit ervaar het, veroorsaak het.

Die brand by die substasie het op 10 Julie uitgebreek en het gebiede soos Wapadrand, Equestria, Silver Lakes, Faerie Glen, Shere, Lombardy, Olympus en dele van Zwavelpoort vir ‘n week lank sonder krag gelaat.

Volgens burgemeester Solly Msimanga verloor die stad ongeveer R119 miljoen per jaar weens kabeldiefstal. Hy het aangekondig dat die stad se substasies beter bewaak sal word en dat 1 000 veiligheidswagte by kritiese infrastruktuur sal waghou. Die stad se anti-kabeldiefstal-eenheid het ook hoë-tegnologie-toerusting, soos nagvisie-brille, ontvang.


Kabels word ná die brand by die Wapadrandse substasie herstel
Foto’s: Verskaf

Sabotasie
Volgens die burgemeester word die moontlikheid van sabotasie ondersoek omdat van die skade aan infrastruktuur verdag strategies is. Hy sê dat twee metro-amptenare op 14 Julie in hegtenis geneem is en dat interne ondersoeke gedoen word. Planne is onderweg om lewenstyl-ondersoeke van metro-personeel te doen.

In die tyd voor en ná die Wapadrandse substasie-fiasko was daar kabeldiefstal in verskeie dele van Pretoria, insluitende die Koedoeberg-substasie in die ooste. Toe die Wapadrandse substasie op
15 Julie gereed was om krag te herlei, is kabels op die Faerie Glen- en Silver Lakes-lyn gesteel, wat die herstelproses vertraag het.

Slotte is op 17 Julie van die Centurion-substasie verwyder en amptenare het net betyds ‘n brand daar gekeer. Daar is ook met die Pretoria-Wes-substasie gepeuter.

Volgens die burgemeester het kabeldiewe meer gesofistikeerd en gevaarliker geword en inligting oor kabeldiefstalsindikate word bekom. Goed georganiseerde misdaadsindikate teiken die elektrisiteitsnetwerke van groot infrastruktuur soos spoorwegnetwerke, elektriese substasies en waterbehandelingsaanlegte.


Die nuwe viertrek-bakkies wat teen kabeldiefstal ingespan word

Uitroei
Burgemeester Msimanga het samesprekings met Johannesburg en Ekurhuleni se burgemeesters gevoer om ‘n gekoördineerde poging aan te wend om dié diefstal uit te roei.

Gesamentlike pogings deur die gemeenskap en die plaaslike, provinsiale en nasionale regerings is nodig om dié maatskaplike probleem op te los. Kabeldiefstal het die potensiaal om die voorsiening van dienste soos vervoer, kommunikasie, water en krag te kortwiek. Dit beïnvloed die lewensgehalte van inwoners en ry ook plaaslike ekonomiese ontwikkeling in die wiele.

Volgens die burgemeester blyk daar geen gekoördineerde plan deur wetstoepassingsagentskappe op nasionale vlak te wees om deur polisiëring daadwerklik teen dié gevalle op te tree nie.


Koperkabels wat deur Pretoriase polisie gekonfiskeer is

Bemagtig
Stad Tshwane het beperkte wetstoepassingsvermoëns en word soos enige ander munisipaliteit nie deur wetgewing bemagtig om klaarblyklike kabeldiefstalsindikate in die munisipaliteit te bestry nie.

Die burgemeester het gesê dat die polisiedienste sal moet saamwerk sodat misdadigers wat vir kabeldiefstal gearresteer is, nie so maklik weer vrygelaat word om dieselfde misdade te pleeg nie.

Hy sê dit is noodsaaklik dat die minister van polisie, nasionale en provinsiale polisiekommissarisse, LUR vir gemeenskapsveiligheid en munisipaliteite moet saamwerk om ’n plan in te stel om kabeldiefstal hok te slaan en die skuldiges tronkstraf op te lê.

Kabeldiefstalpraktyke floreer omdat daar ’n mark vir gesteelde kabels is. Daarom is dit nodig om te weet waar die materiaal beland en wie dit koop.

Kopers het ’n verantwoordelikheid om seker te maak dat die materiaal wat hulle koop, nie gesteelde eiendom is nie deur aan te dring op die nodige dokumente.


Gesteelde kragkabels in Silverton

 

© 2018 Die/The Bronberger