Die lang en merkwaardige lewe van Anna Vermaak PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 20 July 2018 21:51
Untitled Document

Angie Kleijn

Wat het met weeskinders in Pretoria se ontstaansjare gebeur? Daar was geen weeshuise nie en as families nie die wesies kon inneem nie, moes die kerk ingryp. Ons vertel die verhaal van ‘n jong meisie wat weggegee is en na ‘n verre dorp sonder haar boeties en sussies moes trek. Dié wesie is in ‘n kort tydperk drie keer aangeneem tot sy op 16-jaar met ‘n man 32 jaar ouer as sy, getroud is. Sy het drie eggenote oorleef, het 33 kinders versorg en het 96 jaar oud geword.

Anna Vermaak was maar ses jaar oud toe haar ma dood is. Daarná is haar pa weer getroud, maar hy is aan geelkoors dood toe sy agt jaar oud was en die vier Vermaak-kinders is in die sorg van hulle stiefma gelaat, saam met een kind wat uit dié huwelik gebore is.


Anna, ‘n nooi Vermaak, in omstreeks 1947
Foto: Almanak van die GKSA, 1949

Die stiefma het die kinders Pretoria toe gebring en het om hulp aangeklop by ouderling Hendrik Hermann van die Gereformeerde Kerk. Diaken Lukas Meyer het na die gesin se beeste omgesien.

Al vier stiefkinders is weggegee en Anna, as die jongste, het ‘n rukkie by ouderling Booysen in Pretoria gewoon voor sy vir die eerste keer aangeneem is en weg van almal wat sy geken het, Kaapkolonie toe moes trek.


Ouderling Hendrik Hermann van die Gereformeerde Kerk het die stiefma en wesies gehelp. Hy het die kerksake behartig met die ballingskap van dominee Petrus Postma op Ceylon
Foto: Wikipedia

Gebore
Anna Sophia Catharine Vermaak is op 18 April 1860 op Schoemansdal in die distrik Soutpansberg gebore. Sy was die dogter van Jacob Johannes (Jurgens) Vermaak en Maria Petronella Bezuidenhout, wie se ouers op die plaas Wag-‘n-bietjie-bos tussen Pretoria en Rustenburg gewoon het.

Jacob was saam met Hendrik Potgieter in die Potgietertrek, wat in die Soutpansberg-distrik op Schoemansdal finaal uitgespan het. Dié dorp is in 1855 Schoemansdal gedoop na generaal Stephanus Schoeman, die ZAR se eerste kommandant-generaal en later waarnemende president.


Anna is deur dominee Dirk Postma aangeneem
Foto: Wikipedia

Schoemansdal het 2 000 blanke inwoners gehad wat in 278 huise gewoon het. Dit is hier waar Anna se ma dood is en in die Schoemansdalse kerkhof begrawe is. Haar pa het toe met die weduwee Wolhuter getrou.

Die dorpie het ‘n Hervormde kerkgebou gehad, ‘n skool en pastorie waar die Hollandse dominee, Nicolaas Jacobus van Warmelo, vanaf 1864 gedien het. Schoemansdal, 15 km wes van waar Louis Trichardt vandag is, was ‘n welvarende dorpie danksy ivoorhandel en die handelsverbindings wat João Albasini met Mosambiek onderhou het.


Anna se stiefma het by die Gereformeerde Kerk, bekend as die Paul Krugerkerk, in Pretoria om hulp aangeklop
Foto: Wikipedia

Dominee Van Warmeloo se eerste vrou, Josina van Vollenhoven, is 11 maande en 11 dae ná hulle huwelik op Schoemansdal oorlede. Hy is daarna getroud met Maria Magdalena Elizabeth, ‘n nooi Maré van Pretoria en hulle dogter was die bekende spioen, siener, sieketrooster en skrywer, Johanna Brandt.

Knap ná dominee Van Warmelo se aankoms op Schoemansdal het die spanning met die omliggende swart stamme tot ’n uitgerekte oorlog gelei. Paul Kruger was toe kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en die krygsraad het onder sy leiding besluit om die dorp en distrik op 15 Julie 1867 te ontruim.

Die dorp is afgebrand en die stamme het die Schoemansdallers agterna gesit toe hulle suidwaarts gevlug het. Dit is op dié vlugtog wat Anna se pa dood is. Haar stiefma het die kinders veilig tot in Pretoria gekry.


Andries Hendrik Potgieter
Foto: Wikipedia

Aanneem
In die tyd toe Anna by ouderling Booysen gewoon het, het dominee Dirk Postma, herstigter van die Gereformeerde Kerk, in Pretoria aangekom. Hy het haar saam met hom na Burgersdorp geneem, maar sy vierde vrou, Susanna Lasea Kruger, is bykans ‘n jaar later op 3 Oktober 1869 oorlede en hy kon Anna nie meer hou nie. Dominee Postma is later met sy vyfde en laaste vrou, Johanna Wilhelmina Van Biljon, getroud.

Die negejarige Anna is deur Jan Steenkamp van Bakkraal, distrik Burgersdorp, aangeneem. Sy was tot 1872 deel van die Steenkamp-gesin. Dit is nie duidelik wat hierdie keer gebeur het nie, maar die 12-jarige Anna is weg by die Steenkamps en is deur Philippus Snyman aangeneem.


Anna se handtekening
Foto: RJ du Preez

Daar het Anna gewoon tot sy 16 jaar oud was en op 31 Oktober 1876 met Jan Jacobus van der Walt, wat 32 jaar ouer as sy was, getrou het. Jan was die wewenaar van Heiltje Johanna Steenkamp en Johanna Alida van der Walt en het ses kinders gehad van wie etlike ouer as Anna was. Hulle het op die plaas Poortjie in die Burgersdorp (Albert) distrik gewoon.

Anna was vir 14 jaar met Jan getroud en hulle het sewe kinders gehad. Ná Jan se dood op 15 Mei 1890 is Anna daardie selfde jaar met nog ‘n wewenaar getroud – Floris Petrus Coetzee van Geduldsfontein in die Steynsburg-distrik. Hy was die wewenaar van Johanna Lodewica Pretorius. Dié keer het Anna sewe stiefkinders bygekry.


’n Uittreksel uit ’n brief wat Anna aan een van haar kinders geskryf het
Foto: RJ du Preez

Hertrou
Anna was toe 30 jaar oud en sy en die 38-jarige Floris het saam 14 kinders gehad. Anna en Floris het ‘n verdere ses kinders gekry, maar tragedie het keer op keer toegeslaan. Drie van dié kinders is dood toe hulle nog klein was en twee ander is voor hulle tiende lewensjaar dood. Net een seun uit dié huwelik het grootgeword. Hy was Josef A Coetzee, wat later ‘n onderwyser geword het en in die Potchefstroom-distrik gewoon het.

Floris is kort ná die Vrede van Vereeniging in 1902 oorlede.

Anna trou toe op 23 Februarie 1903 op Steynsburg vir die derde keer; dié keer met die seun van Koos Venter, wat ‘n ruk die Vrystaatse Republiek se waarnemende president was. Hy was Jan Adriaan Venter van Broekpoort in die Bethulie-distrik, en die eggenoot wat die naaste aan Anna se ouderdom was. Jan, wat so twee en ‘n half jaar ouer as Anna was, was ook ‘n wewenaar met ses oorlewende kinders. Dié kinders was erg getraumatiseer ná hulle ondervindings in die konsentrasiekamp.


Anna se derde skoonpa, Koos Venter, was vir ‘n ruk waarnemende president van die Vrystaatse Republiek
Foto: Wikipedia

Jan was in die Anglo-Boereoorlog op kommando en is daarná na ‘n krygsgevangenekamp op Bermuda gestuur terwyl sy vrou, Susanna, ‘n nooi Du Plessis, en hulle kinders in die Springfonteinse Konsentrasiekamp gegooi is. Susanna was bykans 39 jaar oud toe sy daar aan ingewandskoors oorlede is. Hulle vierjarige seun, Sarel Jacob Venter, is ook in dié kamp aan brongitis dood.

Jan en Anna het een kind saam gehad, wat beteken dat sy die biologiese ma van nege oorlewende kinders was, alhoewel sy 14 keer geboorte geskenk het, en die stiefma van 19 kinders. Jan is op 23 November 1941 in die ouderdom van 83 jaar oorlede en sy boedel het aangedui dat hy ‘n rustende boer was, wat in Collinstraat 24, Bethulie gewoon het.


Anna en Jan Adriaan Venter se grafsteen op Bethulie
Foto: RJ du Preez

Ouetehuis
Anna het Jan met 14 jaar oorleef. Sy was 81 jaar oud toe hy dood is en het besluit dat sy nie by een van haar kinders gaan intrek nie. Sy het haar tuiste in die Dirk Postma-tehuis vir bejaardes op Burgersdorp gekry, waar sy die oudste inwoner was.

Ironies genoeg is dié ouetehuis vernoem na die man wat Anna in Pretoria aangeneem het, haar as klein dogtertjie Burgersdorp toe geneem het en omtrent ’n jaar later weer weggee het.

Anna se seun, Josef Coetzee, het vertel dat haar selfstandige, onafhanklike aard haar nie toegelaat het om by die een of ander van die kinders in te woon nie.


Die kerkie op Schoemansdal is in 1858 gebou, maar is in 1867 saam met die hele dorp afgebrand
Foto: Wikipedia

“Sy was ’n haastige vrou van geaardheid en ’n uithaler plannemaker. Sy besit ’n vaste, deurdrywende wil. As sy eenmaal op iets besluit het wat moes uitgevoer word, kon niks haar stuit nie. En sy was gasvry en liefdevol. Vir siekes en minder bevoorregtes was sy ’n ware weldoenster.”

Alhoewel die oudste, was Anna glo die sterkste in die ouetehuis en het gereeld dorp toe geloop om vir die swakker inwoners inkopies te doen. Toe sy 87 jaar oud was, het sy nog ’n gereelde briefwisseling met 22 van haar kinders en kleinkinders onderhou.

Anna is op 26 Mei 1956 in die ouderdom van 96 jaar oorlede.


Dominee Van Warmeloo se pastorie op Schoemansdal
Foto: Wikipedia

 

© 2018 Die/The Bronberger