Dit verg ‘n verloskundige PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 20 July 2018 21:06
Untitled Document

Hy is seker voorvereistes vir iemand wat in die verpakkingsbedryf se ontwerpafdeling wil werk, is asprisgeit en sadisme, sê Gert Mossie.

Jy moet net nie dink as jy nou byvoorbeeld ten duurste vir ‘n bottel pilletjies by die apteek betaal het, dat dit nou joune is om daarmee te maak soos jy moet nie. Nee, dit kos eers baie bloedsweet en bas-af-sukkel voor jy jou pilletjie vir die doel ter sprake kan aanwend, sê Gert.

Die ou wat dié botteltjies van glas of plastiek ontwerp het, is ‘n opperste sadis. As dit nou tyd word om jou eerste pilletjie te sluk, begin die moeilikheid. Groot moeilikheid, sê Gert.

Eers draai jy jou vingers nerf-af soos jy sukkel om die geriffelde proppie af te skroef, voor jy toevallig agterkom dat daardie proppie eers afwaarts gedruk moet word voor en terwyl jy dit draai: Geen maklike taak op sigself nie.

Met die prop van die bottel af en die eerste oorwinning agter die rug loop jy jou vierkantig in die tweede hindernis vas: Netjies oor die bottel se opening gespan, is ‘n dun, ronde kartonskyfie. Duidelik het die verpakkingssadiste ‘n kontrak met die vervaardigers van die soeperste soepergom op die mark: Daardie kartonskyfie sit oor die bottelbek geplak asof dit deel van die bottel se anatomie is, sê Gert Mossie.

Eers probeer jy jou duimnael tussen die skyfie en die bottel inwikkel om die twee met geweld van mekaar af te laat skiet gee. Met twee duimnaels wat die lewe in geskeur is, loop haal jy ‘n skerppuntkombuismes en val die spulletjie soos ‘n reeksmoordenaar van bo af aan. Jy behaal jou tweede oorwinning as jy die mespunt met moeite deur die wolframtaaie skyfie geplons kry en dan saag dat die rook trek totdat dit af is. Maar nog is het de einde niet, sê Gert.

Jy loop jou teen die derde, baie uitdagende hindernis vas as jy jou wysvinger deur die bottelnek druk om uiteindelik jou pilletjie te probeer uithaal. Jy stamp jou vingerpunt blouwordens toe vas teen dié klipharde hindernis: Dit blyk by nadere ondersoek ‘n papierdokument te wees wat só klein en só vas opgevou is dat dit alle wette van die wetenskap oortree.

G’n enkele mens, sê Gert, kan om te dood daardie lywige dokument deur daardie nou bottelnekkie die bottel binne geforseer kry nie. Hulle het sweerlik die papier met die hulp van stoomrollers of iets so vas gevou gekry en toe die botteltjie daarom gebou.

Die bottelnek is te nou om twee vingers in te kry en ‘n eensame wysvinger staan geen kat se kans om die papierklip selfs te beweeg, wat nog te sê van uitkry nie. Dit verg minstens ‘n graad en al die gereedskap van ‘n verloskundige om die takie baas te raak. Met ‘n platpunt-skroewedraaier en die kombuismes en baie sweet en swets kry jy baie later die inligtingsdokument uit.

Terloops, sê Gert Mossie, moet nie eers probeer om die inligting op die dokument te lees as jy dit met moeite oopgevou gekry het nie. Hy dink nie eers ‘n arend met ‘n vergrootglas sal dié piepklein lettertjies kan ontsyfer nie.

Hy kan verstaan dat ‘n spons nogal in ‘n klein bondeltjie gedruk kan word om dan van bo af die bottel binne gedwing te word, sê Gert. Maar die sadistiese verpakkingspersoon het mos geweet dat die ligte badspons wat tussen die papier en die pille lê, nie binne in die bottel saamgepers en uitgelig kan word nie. Dit verg nog gereedskap en geduld voor die pille in die bottel blootgelê word.

Maar moenie dink die slag is nou gelewer nie, sê Gert Mossie. Die pille lê nou in die boepens van die bottel en jy wend weer die wysvinger aan om enetjie uit te haal. Maar die sadis het die bottel só ontwerp dat die skouer tussen die boepens en die bottelbek ‘n bykans onoorbrugbare hindernis vorm.

Dit is ‘n titaniese taak om daardie gladde pilletjie met ‘n vingerpunt verby die skouerskans en by die bek uit te haak.

Al genade is om versigtig te probeer om die botteltjie stadig om te keer sodat ‘n pilletjie in jou hand uitrol. Dit was al amper middernag toe hy die laaste pilletjie opspoor en van die vloer af optel, sê Gert Mossie.

 

© 2018 Die/The Bronberger