Stofwolke op grondpaaie is groot gevaar PDF Print E-mail
News - Artikels
Friday, 20 July 2018 21:04
Untitled Document

Die grootste deel van ons gebied is net met grondpaaie bereikbaar en in die winter is die verstikkende stof wat op dié paaie opgeskop word, onuithoudbaar vir diegene wat naby aan die paaie woon.

Dwarsdeur die Bronnie se bykans 16-jaar-lange bestaan, skryf lesers gereeld briewe om oor dié toestand te kla. “Is dit regtig te veel gevra van motoriste om stofpaaie teen ’n slakkepas aan te durf sodat diegene wat langs daardie stofpaaie bly, nie asemnood kry van al die stof wat onnadenkende motoriste in hulle haas opjaag nie,” vra Anoniem van Boschkop.

“Wanneer laas het iemand langs die Mooiplaats-pad gekyk hoe vol stof alles is, vra ’n leser van Mooiplaats. “Die swaar vragmotors wat die pad gebruik om die N4 weegbrug te omseil jaag soos besetenes. Kyk skemeraand hoe hang die stof soos mis. Huise, karre, alles is vol stof. Kan daar nie ‘n oplossing gevind word nie?”


Selfs met hulle hoofligte aan, kan motoriste mekaar skaars sien in die stofwolk

“Kan iemand nie iets hier omtrent doen nie,” vra nog ’n leser. “Daar gaan nog ‘n gruwelike ongeluk wees omdat die stofwolke alle uitsig verhoed.”

‘n Stofwolk kan ‘n mens so verblind dat jy op ‘n sonskyn-oggend met jou hoofligte aan, steeds nie aankomende verkeer op ‘n grondpad kan sien nie. Wat nog te sê die voetgangers wat langs die pad loop.

‘n Verdere euwel in sekere dele van die gebied is motorfietse en vierwielfietse wat oor naweke hulle ‘sport’ op serwituutpaaie kom beoefen.

Hoewebewoners sê dat die ergste stofwolke opgeskop word deur voertuie wat heeltemal te vinnig ry.

Menige inwoners het self vaartbrekers op grondpaaie wat voor hulle huise verby loop gebou, maar hulle sê elke keer as kontrakteurs die paaie skraap, die vaartbrekers ook platgeskraap word.


Die voetgangers is byna onsigbaar in die stofwolk en staan ‘n goeie kans om deur ‘n stof-verblinde motoris raakgery te word

Nat
Grondpaaie wat op sekere tye van die dag baie verkeer dra, soos paaie na skole en kleuterskole, word op inwoners se versoek gereeld deur watertrokke natgespuit. Tog help die natspuitery net ‘n paar minute voor die stofwolke weer staan.

Inwoners wat langs grondpaaie bly vertel dat bykans niks die stof kan keer nie. Dit dring huise binne deur toe vensters en deure en ontaard in enige skoonmaker se nagmerrie.

Fyn stof in die lug kan lei tot ongesteldheid soos allergieë, akute en chroniese infektiewe sinusitis en dit dra by tot longsiektes, akute en chroniese bronchitis en asma.

Die kenners sê dat sommige soorte fyn stof baie skadeliker vir ‘n mens se gesondheid is as ander.

Volgens nuwe studies is die stof wat voertuie op grondpaaie opskop op plekke, verantwoordelik vir 33% van lugbesoedeling en is dit baie skadeliker as stofdeeltjies afkomstig van gewone bogrond.

Die stof wat saam met die deeltjies van voertuigbande en remskoene sowel as uitlaatgasse van verkeer op grondpaaie gepaard gaan, dra by tot die opwekking en vrystelling van atmosferiese aërosoldeeltjies, wat ‘n impak op die klimaat het.

Dié fyn stof kan ook die stomatale openings van plante verstop en met fotosintese inmeng.

 

© 2018 Die/The Bronberger