Tiende KragDag ekspo bied hope idees en oplossings PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 20 July 2018 21:02
Untitled Document

Die tiende KragDag ekspo is van 9 tot 11 Augustus, van 9 vm tot 4 nm daagliks.

Daar was sowat 13 000 mense by verlede jaar se ekspo en vanjaar maak KragDag voorsiening vir 410 uitstallers op die 2,4 hektaar ekspo terrein.

Deur uitstallings, produkdemonstrasies en spesialis sprekers in die opvoedkundige raadsaal het besoekers die geleentheid om inligting te bekom, selfbehoudoplossings beter te verstaan en beter toegerus te word om die regte besluite te neem.


‘n Blik op verlede jaar se KragDag-terrein

Feestelik
Hier kan jy hope idees en oplossings kry om meer onafhanklik te lewe. Die KragDag tema strek  oor verskeie terreine soos alternatiewe energie, opvoedkunde, veiligheid, tegnologie, water, voedselproduksie, gesondheid, konstruksie, ontspanning, vervoer, ekonomie, finansies, doen-dit-self planne, die bevordering van ‘n makersingesteldheid en entrepreneurskap.


Dié feestelike dag bied ook lewendige vermaak, hope lekker kos, kultuur en pret vir die kinders. Daar is onder andere ‘n glybaan, laser avonture, Boeresport, eksperimente en modelle, ‘n wetenskapstasie, ‘n gratis opvoedkundige speelruimte, onuitputbare pretpark, ‘n klassiekemusiekfabriek en ‘n plaasdieruitstalling deur die Mpumalanga Landbou jeugskou.

AfriSake KragDag is ‘n unieke geleentheid en word van ander ekspo’s en feeste daarin onderskei dat dit ‘n inspirerende leersame inhoud binne ‘n karnaval atmosfeer bied en dat dit met die ekspo en vermaak wat aangebied word, gerig is op die hele gesin.


Daar word voorsiening vir 410 uitstallers gemaak

Ontstaan
Buitensporige stygings in Eskom-tariewe met gepaardgaande onbetroubare kraglewering, het Hendrik en Alida Verwoerd van Diamantvallei Landgoed in 2007 daartoe beweeg om geskikte inligting, produkte en diensverskaffers vir alternatiewe energie-oplossings te soek.

Hulle het gou vasgestel dat die meeste van die beskikbare inligting en oplossings destyds nog op groter ondernemings en die staat gerig was. Dit het in 2008 die eerste KragDag Ekspo die lig laat sien. Oorweldigende reaksie van die publiek het die ekspo ‘n jaarlikse geleentheid gemaak.


Spesialis sprekers gee besoekers die geleentheid om inligting te bekom en selfbehoudoplossings
beter te verstaan

Toekomsgerig
KragDag se inspirasie om jou eie ding te doen is nie net beperk tot volwassenes nie, maar met ‘n toekomsgerigtheid word die lewenslustigheid van ‘n opkomende geslag gekoester. Van filosofies na prakties word daar met KragDag ‘n entrepreneur- en makerkompetisie aangebied en daar is ook ‘n opvoedkunde sub-ekspo.

Daar is verskillende afdelings in die junior-entrepreneurskompetisie: Vir bestaande of voornemende entrepreneurs tot op die ouderdom van 21 jaar; ‘n afdeling gerig op jonger (ongeveer tot 13 jaar) junior entrepreneurs; en ‘n pret-afdeling vir jongelinge wat hulle produkte op KragDag wil verkoop, maar nie aan die beoordeling of kompetisie-beplanningsaspekte wil deelneem nie.

Die makerkompetisie is vir diegene wat meer in die tegniese kant van dinge belangstel, en word in samewerking met BotShop aangebied. Deelnemers kan enige innoverende ding/dingetjie bou. Die belangrikste vereistes is dat jou ontwerp herwinde materiaal, asook ‘n mate van elektronika moet bevat.


Daar is hope lekker kos beskikbaar

Waar
Die KragDag Ekspo word op Diamantvallei Landgoed, Rhenosterfontein, 20 km oos van Pretoria, gehou. GPS koördinate: Suid: 25º 48’ 58.66" Oos: 28º 31’ 35.97"

Kinders tot 18 jaar oud kan gratis ingaan. Hekgelde is R80 per volwassene, maar deur vooraf te registreer kry jy 100% afslag.

Skakel: 087-231-1644; stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Besoek www.kragdag.co.za vir meer inligting of om vooraf te registreer.

 

© 2018 Die/The Bronberger