Stoepkuier by ‘n egte plattelandse hotels PDF Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 20 July 2018 20:59
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons verneem dat ‘n splinternuwe kuierplek in die mooi ou hotel op Cullinan oopgemaak het. Ordentlike plattelandse hotelle is deesdae rooidataspesies en dis boonop altyd vir ons aangenaam om ‘n dagdraai in Cullinan te maak . . .

Hulle het die dek van die Premier Hotel in Hotelstraat toegeglas en dit ouwêrelds en smaakvol ingerig en opgetooi. Die ‘International Timeless Cafe’ noem hulle dit. Neffens die ruim aansitplek is ‘n volledig toegeruste kroeg ewe smaakvol aangebring. Volop en veilige nuwe parkeerplek is deesdae beskikbaar.

Ons neem plaas by ‘n tafeltjie binne voelafstand van ‘n welkome, stewige houtvuur wat in die kaggel knetter. In die agtergrond (waar dit hoort) speel ou, bekende popliedjies. ‘n Groepie besoekers, nog nader aan die kaggel, gesels en lag gesellig. Hier kan dit lekker raak, dink ek.


Die stylvolle, toegeglasde stoep

‘n Netjiese kelner bring die spyskaarte nader en ons bestel koffie. Die koffie is ryk en geurig en die spyskaart is redelik uiteenlopend en konsentreer veral op Tapas (‘around the world’) en vlamgebraaide vleisgeregte. Sommige inskrywing sal by baie ‘n redelike sterk leesbril verg.

In die deelbordtradisie van tapas kan jy ‘n kontinentale ontbyt vir twee teen R85,99 bestel of ‘n Engelse een, ook vir twee, teen R105,99. As jy nie twee is nie, of nie lekker honger is nie, sal ‘n enkele Engelse ontbyt jou R59,99 kos. Ek wonder so op my eentjie wat sou gebeur as iemand sou aandring op sy een sent se kleingeld.

Vyf verbuigings van tapas word gelys en almal in die vorm van deelborde vir twee. Die Lucca (‘n Toskaanse stad) is Italiaanse kouevleise met ‘Caprese’ slaai, mini pizzas, olywe, geroosterde eiervrug, ciabatta brood, ‘n pesto, olyfolie, basmatiese asyn en skywe parmesaankaas. Dit weeg in teen R149,99.

Die Madrid (R125,99) is soos verwag sou word, deeldisse van eg Spaanse afkoms en die Cairo (R105,99) se vingergeregte, soos hoenderkebabs (sosatie), is van midde-Oosterse oorsprong. Polanco is ‘n voorstad van Meksikostad en ek neem aan jy kan brandkos verwag as jy die tapas met dié naam bestel. Dit kos R105,99.


Seekosdeelbord genaamd Velddrif

Metgesel stel voor ons deel die Velddrif. Dit word omskryf as ‘n Suid-Afrikaanse Weskus-spesialiteit en ek val by die voorstel in, want deel van die deelbord is omkrummelde garnale en ek het mos nou al lankal lus vir lekker garnale. Mossels in ‘n witwynroomsous, gebraaide stokvisvingers met suurlemoenbotter, roosterkoek en ‘slap chips’ is bykomstig tot die ses garnale. R135 en ja, 99 sent kos dit. Maar eers meer oor die spyskaart:

Biefstuk, varkribbetjies, vlamgebraaide hoender of boerewors kan van die rooster af bestel word. Die kleiner porsies word as ‘ladies’ aangedui en die groteres as ‘hungry’. Die pryse is billik met die T-been van 500 g wat byvoorbeeld R75,99 kos en die varkribbetjies wat R49,99 vir 500 g kos.

Die Timeless Cafe se ‘huisburger’ kos ‘n skamele R35,99 terwyl die duurste van die tien burgerkeuses, hulle noem dit die ‘Ursula Andress’,  R79,99 kos.

Ligter etes soos Griekse frikkadelle (R25,99), samoesas en buffelvlerke van hoender is ook lig op die sak en daarmee saam kan jy allerlei bykomstighede soos biltong en roomkaas en agt soorte sousighede, soos romerige peri-peri of ‘n bloukaassous, geniet.


Deel van die netjiese kroeg

Jy kan ook jou eie slaai bou deur uit 13 moontlike items te kies, sou jy wou. Van die drie nageregte op die spyskaart lyk die ‘soetbekkie’ met malvapoeding en allerlei daarby vir my erg verleidend.

Ons het redelik lank vir ons Velddrif-tapas gewag en ek wou net begin vrees dat die ‘timeless’ in die plek se naam dalk ‘n dieper vergestalting mag voorspel, toe ‘n ander netjiese kelner ons vertel dat dit nou nie meer lank is nie en dat hulle alles ‘van scratch’ af maak. Ek verstaan, keur goed en die wagtyd was daarby redelik aangenaam.

Metgesel is dadelik gaande oor die wonderlike wynroomsous waarin die mossels verdrink en ek stem volmondig saam. Die garnaalsterte is omkrummel en in olie onderdompel vir die gaarmaakslag. Die krummellaag en die krummelkors om die stokvis is soos dit moet wees en die sterte se binnetekstuur is stewig soos dit ook moet wees. Ek sou die kok tog aanraai om die garnaalsterte net ‘n bietjie meer tyd te gun om te dreineer voor dit bedien word. Die roosterkoek is ‘n wenner.

Ons stem met die wegryslag saam dat ‘n besoek aan  Cullinan se hotel met die toevoeging van sy ‘timeless’ kuierstoep meer as die moeite werd is. Bel hulle by 012-734-1810 vir meer inligting.

 

© 2018 Die/The Bronberger