As jy ?n skinkbord op jou hond se rug kan neersit PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Monday, 20 April 2009 10:28
Untitled Document

Dr Liesel van der Merwe is ’n spesialis veearts by Onderstepoort en senior dosent in die klein diere-afdeling. Stuur jou vrae oor troeteldiere aan This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .


Dr Liesel van der Merwe

“Is hierdie ’n hond of ’n mobiele koffietafel?” vra ek. “Ag dokter, jy weet sy is mos reggemaak, en dis hoekom sy so oorgewig is,” sê die eienaar.

Veeartse hoor dié verskoning elke dag. Daar is ’n greintjie waarheid in die stelling: gesteriliseerde honde is meer geneig om vet te word, maar dit kan beslis beheer word. Eers ’n paar feite oor vetsug. Die ras van jou hond speel ’n groot rol in die risiko. Labradors, worshonde en spaniels is meer geneig om vet te word. Ander risiko faktore is sterilisasie, veelvoudige dier huishoudings, honde wat baie binnenshuis bly, oorvoeding, min oefening en metaboliese siektes (wat selde die oorsaak is).

Te veel kos en te min oefening is die basiese oorsaak van vetsug. Dit maak nie saak of die hond gesteriliseer is of nie. Jy doen jou hond geen guns om hom so vet te laat word nie. Vet versamel onder die vel; binne-in die borskas, om die hart en lugpyp; en in die buik. Dit veroorsaak gewrigsprobleme, maak dit vir die hond moeilik om fiks te bly en hitte te verloor - honde het nie sweetkliere in hul vel nie.

Klein honde is gewoonlik oorgewig omdat hulle te veel eet. Dit is al daardie lekkernye wat gegee word. Klein honde is geneig om degeneratiewe long- en hartkwale op te doen as hulle ouer word, en ekstra vet vererger die toestand.

Die hart en longe is gemaak vir die hond se normale gewig; al die ekstra gewig gee net meer werk. Worshonde kry rugprobleme weens skade aan die werwelkussinkies. Die hond se gewig vererger die probleem en al die onderhuidse vet veroorsaak komplikasies met wondgenesing. Gewrigsprobleme is algemeen in honde. Groot honde is geneig tot heup-, knieg- en elmboogprobleme, terwyl klein honde meer geneig is tot kniegprobleme. Vetsug vererger mankheid.

So, hoe kry ons daardie vetlagie af? Daar is spesiale diëte beskikbaar van ’n veearts om jou hond tot by sy teikengewig te kry. Daarna word hulle op ’n beperkte kalorie dieet gesit. Gewigsverlies behoort omtrent 1% van liggaamsmassa per week te wees. Dit sal ten minste vier tot ses maande neem om die teikengewig te bereik.

As jy met jou hond se gewone kos will aangaan, moet jy net die hoeveelheid sny. Dit maak nie saak hoe klein die porsie vir jou lyk nie, as jou hond vet is, gee jy te veel kos. Premium kossoorte het maatkoppies waarmee jy ’n spesifieke hoeveelheid kan uitskep. Moenie honde voer soveel as wat hulle wil eet nie. Gulsige honde wat ander honde se kos afneem, moet apart gevoer word.

Sny al die lekkernye uit. As jy iets will gee, voer kleiner porsies, minder dikwels en gebruik gesonde kos of dieet hondepilletjies.

Oefening is die volgende stap. Jy sal stadig moet begin as jou hond baie vet is, maar doen dit daagliks en gereeld. Dit is nie genoeg om te sê “maar ek het ’n groot erf” nie: dit is soos gym lidmaatskap . . .

Laastens is daar hormonale siektes wat jou hond kan vet laat word. Groter rasse is geneig tot ’n onderaktiewe skildklier, en kleiner rasse tot ’n ooraktiewe adrenale klier.

Albei toestande het ander simptome wat saam met die vetsug voorkom. Jou veearts sal kan toets vir dié siektes.

 

© 2019 Die/The Bronberger