Wat is dienslewering? PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Friday, 20 July 2018 20:52
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Ons leef in ‘n era (en area) waar “dienslewering” byna so skaars soos renosters (of is dit hoendertande?) is. Die goeie nuus is dat daar ná byna ses jaar weer ‘n ‘Handves van Dienslewering’ deur ons geliefde Taksman uitgereik is. 

Waarom is die handves van belang? Die grootste doelstelling is dat dienslewering van SARS sal verbeter en daarmee saam ‘n herstel van die vertrouensverhouding van die belastingbetaler teenoor SARS. Dit poog ook om bedrog en korrupsie teen te werk en nakoming van belastingverpligtinge aan te moedig.

Wat staan in die handves geskryf? In kort het dit te doen met die regte en verpligtinge van elke belastingbetaler en dan ‘n omskrywing van die tydsraamwerke waarbinne sekere terugvoer vanaf SARS verwag kan word.

Ons as belastingbetalers kan dus die volgende verwag: Hoflike en professionele diens; duidelike en akkurate terugvoer; presiese instruksies indien belastingbetalers moet reageer op korrespondensie; en maklike toegang tot SARS deur “e-filing”, die inbelsentrum en SARS-kantore.

SARS verwag van jou: Eerlikheid; om akkurate inligting betyds in te dien; nakoming van administratiewe prosesse en tydsraamwerke; om betyds, ten volle en met korrekte verwysingsnommers SARS-betalings te doen; om ander belastingpligtiges aan te moedig tot nakoming; om nie bedrog en korrupsie aan te moedig of betrokke daarby wees nie; om seker te maak dat SARS jou korrekte persoonlike besonderhede het; om verantwoordelikheid te vat vir jou eie belastingsake, selfs waar jy ‘n verteenwoordiger aangestel het; en om respek te betoon teenoor SARS-werknemers.

Gaan besoek gerus SARS se webtuiste en soek die “Service Charter” vir meer besonderhede. ’n Proses word altyd vergemaklik sodra die wat-wanneer-en-hoe gedokumenteer is. Dus sien ek uit na ‘n kort maar vreugdevolle belastingseisoen.

 

© 2018 Die/The Bronberger