Gebied se ‘kangaroetjie’ is g’n haas nie PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 20 July 2018 20:29
Untitled Document

Daar is ‘n kangaroe-agtige diertjie wat hier by ons ‘n haas genoem word, maar glad nie verwant is aan ander hase nie. Die springhaas, wat so twee meter per sprong met sy kragtige agterbene spring, is eintlik ‘n andersoortige knaagdier.

‘n Springhaas, Pedetes capensis, is 35–45 cm lank, met ‘n stertlengte van nog 36–47 cm en weeg gemiddeld 3 kg. Soos ‘n kangaroe is sy voorbene baie kort en die agterbene lank en sterk. Die agterpote het vier tone elk met groot naels wat amper soos klein hoefies lyk, en die voorpote het vyf lang, gepunte kloue wat vir grouwerk aangepas is.


Die springhaas
Foto: Wikipedia

Wanneer hy deur ‘n roofdier gejaag word kan ‘n springhaas drie tot vier meter ver spring. As hy gevang word, sal hy die roofdier met sy agterbene skop en met sy skerp naels probeer oopkloof.

Die springhaas se kleur wissel van ligte vaalbruin tot geelbruin, terwyl die ken wit en die onderkant vuilwit is. Die stert het ’n breë swart kwas op die punt en is verder rooierig van kleur. Die oë is opvallend groot en die ore is smal en regop. Daar is ‘n stukkie vel aan die binnekant van die eksterne oor wat verhoed dat sand by die ore inkom as die springhaas besig is om sy tonnels te grou.

Dié hase woon langs riviere of panne met afsettings van sanderige slikgrond en hulle vermy swaar en harde grond. Hulle is snags aktief en skuil bedags in tonnels waarvan die ingang met grond vanaf die binnekant geblokkeer word om slange en muishonde uit te hou. Springhase is enkellopend en bly alleen in die tonnels, behalwe as ‘n wyfie kleintjies gekry het. Hulle grou gewoonlik drie sirkelvormige tonnels met verskeie ontsnappingsgate. Dié tonnels is naby die naaste groot bos of boom in hulle gebied. ‘n Springhaas se gebied is 25–250 meter vanaf dié tonnelstelsel, maar kan in ‘n droogte groter wees.


‘n Springhaas hou sy voorbene in die lug as hy spring
Foto: Glogster

Dié diertjies vreet grootliks plantmateriaal, maar sal soms ook insekte vreet. Hulle gebruik die voorbene om kos by te kom en hop op al vier bene terwyl hulle wei. Springhase drink omtrent nooit water nie, omdat hulle die bietjie vloeistof wat hulle nodig het, uit hulle kos kry.

‘n Wyfie is 72 tot 82 dae lank dragtig en skenk geboorte aan ‘n enkele kleintjie. Sy is gewoonlik drie keer ‘n jaar dragtig. Die kleintjies word met hare gebore en hulle ogies maak binne twee tot drie dae oop. Hulle kom op ses tot sewe weke-ouderdom vir die eerste keer uit die tonnel om gras te begin vreet.

‘n Springhaas kan 12 tot 15 jaar oud word.

 

© 2018 Die/The Bronberger