Ysbeerweer vier dié winter weer hoogty in die grootste deel van die Bronbeg-gebied. Vroegoggend lê die ryp spierwit op die gras en baie mense glo verkeerdelik dat ryp gevriesde dou is. As dit nie so is nie, wat is ryp dan?
Dou en ryp val nie op die grond nie, maar vorm direk op plante en ander voorwerpe. Dit is iets heeltemal anders as bevrore water op plante, soos wat kan gebeur wanneer ’n tuinsproeier in die nag naby plante oop gelos word.
Dit kan wel gebeur dat dou, wat reeds gevorm het, agterna vries om bevrore dou te vorm, maar dié bevrore dou is ysdruppels en nie ryp nie. Partykeer kan dit so koud word in die onderste luglaag, dat reën eers vries ná dit geval het en nie in die bolug wanneer dit as hael uitsak nie.
Ryp smelt in die oggendsonnetjie, maar bly nog vir ‘n rukkie in die skadu agter
Foto: Wikipedia
Witryp
Daar is drie soorte ryp, waarvan twee redelik algemeen by ons voorkom. Witryp kan met sneeu vergelyk word omdat dit altyd kristalle is en nie gevriesde water of dou nie. Dié kristalle kom meestal in die vorm van waaiers, vere, naalde of skubbe voor. Dit word in wolklose nagte wanneer die wind nie waai nie, gevorm.
Witryp word gevorm wanneer die lug naaste aan die grondoppervlak vinniger as die hoër lug afkoel en temperature onder vriespunt bereik. Hoe droër dit is, hoe laer die ryppunt. As die humiditeit hoog genoeg is, sal die ryppunt ook relatief hoog wees, maar dit sal altyd laer as 0ºC wees.
Die ryppunt is die temperatuur wat die lug moet bereik om atmosferiese vog te laat vries. Witryp is die direkte oorgang van atmosferiese vog (die gasfase) na yskristalle (die vaste fase). Dou is die oorgang van atmosferiese vog na water (die vloeibare fase), ‘n proses wat ons as kondensasie ken.
Ryp op plantblare
Foto: Tnews
Swartryp
Waar witryp hoofsaaklik in wolklose nagte waar geen wind waai nie gevorm word, gaan swartryp grootliks met redelike sterk winde en temperature onder vriespunt gepaard en daar kan wolke in die lug wees.
’n Laag yskoue lug word skielik ingewaai, wat temperature vinnig laat daal. Die gevolg is dat die selsap van plantselle vries en bars.
Jy sal geen ys op die plante sien nie, omdat die lugvog naby die grondoppervlak te laag is. Al hoe jy weet dat ‘n swartryp sy ysige swaard geswaai het, is dat jy die volgende oggend sal sien hoe plante en blare swart verkleur.
Ruigryp (“hoarfrost”) op gras
Foto: Wikipedia
Ruigryp
Ruigryp (“hoarfrost”) lyk soos varingagtige kristalle. Dit kom in die lang winternagte van veral die koue lande voor, wanneer die lug tot ver onder vriespunt afkoel. Die ruigryp vorm dan op plante, maar ook op voorwerpe taamlik hoog bo die grond.
Baie mense sê dat ruigryp nie regtig ryp is nie, omdat dit nie die direkte oorgang van atmosferiese vog na yskristalle is nie. Wanneer daar mistige toestande is, sweef fyn waterdruppeltjies in die lug. As die temperatuur onder 0ºC daal, raak dié waterdruppeltjies so koud dat hulle vries sodra hulle met iets in aanraking kom. |