Wynfees blaas nuwe lewe in ou dorpie PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 20 July 2018 20:04
Untitled Document

Cullinan se wynfees op 23 Junie het besoekers van heinde en verre gelok.

Die afskop van die fees, bekend as die R513 Diamant Wynroete, was op Vrydagaand 22 Junie in die Village Tasting Room by Cullinan Junction.

Saterdag 23 Junie het die pers partytjiebus mense al om 9 vm in Centurion en daarna in Hatfield opgelaai en die wynproe het sommer al op die bus begin.


Amanda Taljaard van Just Ginger en JB Becker van Village Tasting Room by die afskop-funksie

Die registrasiepunt was by Cullinan Junction, waar mense by wyn-, gin- en bierkraampies en ‘n verskeidenheid wegneemete-waentjies aangedoen het. Hier het feesgangers ‘n roetekaart van die dorp gekry en gehoor dat die proe-ondervinding volgens temas aangebied word, soos Village Tasting Room se Pinocchio-tema met seerowervlaggies die wêreld vol, Cullinan Premier Hotel se Alice in Wonderland-tema en die sjokolade proe-maats by Lemon Tree.


Besoekers by die gin-kraampie

JB Becker, ’n vyfde generasie seerower-afstammeling, en sy vennoot Danie Booysen het vroeër vanjaar die proe-kamer by Cullinan Junction oopgemaak. Hulle verduidelik dat alles begin het toe hulle Dullstroom in die begin van 2016 besoek het en besef het dat historiese toerismedorpies daarna smag om ‘n gebeurtenis aan te bied wat nuwe besoekers na die winkels en restaurante van die dorp sal lok.


Van die mense wat die proe-sessie in die hotel se kelder aangedurf het

Echo Events RSA het met die Dullstroom Wynroete begin en ná dié sukses het hulle roetes in Mpumalanga, Gauteng en Vrystaatse dorpies begin. Dit was die tweede jaar wat die wynfees in Cullinan gehou is en vanjaar het dit die eerste keer afgeskop met wynproe by die Village Tasting Room, wat plaaslike wyne soos Diamond Wines ingesluit het, asook Old Salt, Ooh La La Wines, Dull Wines, Spinnekopsop en Brazil Cognac.

By Just Ginger kon ‘n mens gemmerlikeurs en -bier proe asook die Cullinan Wines en Boer & Brit. By Busted Knuckle was The Wine Guy met Highlands Road en ook OC Craft Brewery. By Duty Free en The Wine Collector was Montpellier, Sparkling Blue en Hamiltons Craft Gin.


Mense proe aan Cullinan-wyne by Just Ginger

Gaste het vanaf Cullinan Junction na die Cullinan Premier Hotel geloop waar oesters met sjampanje afgesluk is, asook Frisky Zebra, Leopard Frog en Gauteng Olives. Die proe-kaskenades was nie tot die hotel se kroeg beperk nie; gaste kon met styl trappe afklim na die hotel se historiese kelder, waar dit glo spook, en kon boontoe klim na die Diamantsaal waar die Alice-in-Wonderland-tema deur Maritza Oosthuizen uitgebeeld is en ‘n hele paar Mad Hatters rondgedwaal het.


Twee vriendinne reguleer Oaklaan se verkeer terwyl hulle Tipo Tinto-proe

Besoekers het deur die dorpie afgeloop na Oaklaan waar Time 4 Wine hulle Ernie Els, Clarington en Middelvlei by The Lemon Tree tuinrestaurant uitgestal het. By Whispering Oaks was Del Almar-wyne en gin-proe en by The Windmill was Fortress Hill, Michelle D’Or en Tipo Tinto R&R.

Die dag is afgesluit met ‘n langtafel-aandete by bekende verhoogkunstenaar en sjef, Willie Strauss, se sinkhuis.

 

 

© 2018 Die/The Bronberger