'Spookuil? se onaardse gegil Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 20 April 2009 12:25
Untitled Document

Het jy al in die middel van ’n Bronbergse nag wakker geword van ’n onaardse gegil; ’n onheilspellende, kras ‘sjreee’ geluid wat enige mens se hare sal laat rys? Dan het jy ’n uil gehoor wie se volksname strek van duiwelsuil of kerkuil tot spookuil, doodsuil, rotuil of aapgesig-uil.

Ons praat van die nonnetjie-uil, Tyto alba, wat die mees wyd-verspreide uilspesie is en een van die voëlsoorte wat die wydste verspreiding in die wêreld het. Hulle kom bykans oral voor behalwe in pool- en woestyn-gebiede.


Nonnetjie-uil
Foto?s: Wikipedia

Die nonnetjie-uil is een van die suksesvolste roofdiere op aarde, alles danksy sy hartvormige gesigmasker wat dien as ’n paraboliese terugkaatser om sy gehoor te verstrek.

Hy kan in volkome donkerte jag deur net sy gehoor te gebruik om die posisie van die prooi, meestal knaagdiere, vas te stel. Sy reputasie en roep laat jou dink aan ’n reus, maar dié voël is net tussen 33 en 36 cm lank, skaars groter as ’n tuinduif. Dié dofgoud-en- wit uil se wit gesigskyf beklemtoon sy buitengewoon klein, swartbruin ogies.

Die geslagte lyk eners en die onvolwassenes lyk soos die volwassenes. Dié uil se witterige snawel is kort met die skerp haak van ’n roofvoël. Nonnetjie-uile kom gereeld naby mense voor omdat hulle huise, skure en geboue gebruik om nes in te maak. Hulle word wêreldwyd verwelkom, veral in skure op plase, omdat hulle rotte en muise vreet. Hulle kom gewoonlik in pare voor en spandeer die dag in ’n versteekte holte, wat ’n ou gebou, ’n solder, mynskag, hamerkopnes of ’n natuurlike holte in ’n rots of boom kan wees.


Kuikens het reeds die tipiese hartvormige gesig

Dié uile kan enige tyd van die jaar broei, afhangende van die beskikbaarheid van prooi. In ’n goeie jaar kan hul twee keer broei. Ten tye van ’n rot- of muisplaag kan die hoeveelheid nonnetjie-uile in ’n gebied drasties toeneem.

Nonnetjie-uile bou nie ’n nes nie, maar lê eiers in ’n geskikte holte. Drie tot ses eiers word gelê met twee-dag tussenposes. Tot 12 eiers kan gelê word wat 30 tot 34 dae vat om uit te broei.

Die kuikens is bedek met wit donsies en is na 50 tot 55 dae gereed om die nes te verlaat. Hulle sal vir so ’n week in die omgewing van die nes bly om te leer jag, en daarna verdwyn uit die gebied. Jong voëls kan begin broei as hulle 10 maande oud is.


?n Nonnetjie-uil skedel met die skerp haak aan die snawel

Die meeste nonnetjie-uile leef net ’n jaar of twee in die natuur. In gevangeskap kan hulle rondom 10 jaar oud word. Die oudste nonnetjie-uil waarvan mense weet was ’n wyfie wat in Engeland vir broeidoeleindes gebruik is. Sy het 25 jaar oud geword.

 

© 2020 Die/The Bronberger