Spreek andersheid só aan PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 20 July 2018 20:02
Untitled Document

Die kinders van Duifie Kleuterskool by Moreletaparkgemeente is in Junie met ‘n poppekas-opvoering getrakteer deur personeel van die Situla skool, ‘n voorskoolse instansie vir kleuters wat gespesialiseerde aandag benodig.

Dié geleentheid was deel van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Moreleta-tak se Kinderbeskermingsweek-aktiwiteite in Junie.

Die poppekas-storie het vir die kinders geleer dat almal mekaar moet aanvaar en met mekaar moet speel, en dat maatjies wat “anders” is, nie uitgelaat of gespot behoort te word nie.

“Om kinders te leer om mekaar te aanvaar is ‘n grondliggende konsep in vroeë kindontwikkeling,” sê Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng Oos.


Die poppekas-opvoering by Duifie Kleuterskool

“Soveel kan verkeerd gaan in die vormingsjare en selfs kinders wat in die hoofstroom grootword is kwesbaar vir boelie, isolasie, en ander sosiale kwessies wat op ’n baie vroeë ouderdom in kleuterskole aangespreek behoort te word,” het Henda gesê.

CMR Gauteng Oos werk met kinders en gesinne deur 13 streekkantore wat strek vanaf Bronkhorstspruit tot by Midrand. Jy kan ‘n bydrae lewer tot hulle Kinderfonds: SMS 36343 om R5 by te dra, of SMS 47722 om R2 by te dra.

Bel Henda van der Merwe by 072-801-0092.

 

© 2018 Die/The Bronberger