Jong man op wildhoewe in bors geskiet PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 20 July 2018 19:58
Untitled Document

Matthew Joubert is op 9 Julie, enkele dae voor sy 20ste verjaardag, op sy ouers se De Wagensdrift-kleinhoewe, noord van Cullinan deur ‘n onbekende aanvaller in die bors geskiet.

Matthew se ma, Nicky, sê dat die gesin die Maandagaand voor die kaggel gesit het toe Matthew omtrent 7 uur onthou het dat hy nie die duiwehok, wat omtrent 30 meter van die huis af is, toegemaak het nie.


Matthew Joubert voer ‘n koedoe op hulle hoewe
Foto’s: Verskaf

Die aanvallers het buite in die donker weggekruip en het op hom geskiet. Matthew sê hy het gevoel dat iets sy bors tref en het begin terughardloop huis toe. Op pad terug het hy twee keer inmekaargesak en bloed het by sy wond uitgespuit.

Matthew se pa, Gideon, het twee mense buite die huis sien beweeg en het saam met sy oudste seun, die 23-jarige Gideon, met ‘n vuurwapen uitgegaan en waarskuwingskote afgevuur. Die aanvallers het van die toneel gevlug en niks is gesteel nie. Die hulp van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, buurtwag, die polisie se lugvleuel en die Bronkhorstspruit-polisie se honde-eenheid is ingeroep.

Matthew is na ’n hospitaal in die noorde van Pretoria geneem waar hy gestabiliseer is. Die dokters het gesê dat hulle nie die koeël kan uithaal nie, omdat dit in sy ribbebene se senuwees vassit en hy dalk die gebruik van sy linkerarm kan verloor as hulle dit uithaal.


Die X-strale wys dat die koeël wat in die senuwees van Matthew se ribbebene vassit met ‘n kleinkaliber-vuurwapen afgevuur is

Die X-strale wys dat die koeël Matthew se aorta met 3 mm gemis het. Hy is die volgende dag uit die hospitaal ontslaan.

‘n Saak van poging tot moord is oopgemaak. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Matthew en sy ouer broer, Gideon, boer op die kleinhoewe met inheemse wildsbokke. Omtrent ‘n jaar gelede het dié twee op ‘n groep mans by die grensheining afgekom en een van hulle het op Matthew geskiet, maar hom nie getref nie. Matthew en Gideon het toe die mans met ‘n haelgeweer verjaag.

 

© 2018 Die/The Bronberger