Groot dele van gebied in duister gehul PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 20 July 2018 19:57
Untitled Document

Wapadrand se krag-substasie het op 10 Julie uitgebrand. Die brand, wat om 10 vm uitgebreek het, het Wapadrand, Equestria, Silver Lakes, Faerie Glen, Shere, Lombardy, Olympus en dele van Zwavelpoort sonder krag gelaat.

Nooddienste was gou op die toneel en die vlamme is net ná 12 uur geblus. Tshwane-metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, het berig daar word vermoed dat die oorsaak van die brand ‘n paneel binne die substasie is wat weens ’n fout uitgeskop het en weens die erns van die fout aan die brand geraak het. Daar is ‘n ondersoek aan die gang om die presiese oorsaak vas te stel.


Die brand by die Wapadrandse substasie het om 10 vm op 10 Julie uitgebreek
Foto’s: Verskaf

Paniek is gesaai toe daar aanvanklik bespiegel is dat die gebied vir twee weke sonder krag kan wees.

Die volgende dag het Darryl Moss, lid van die metro se bestuursraad, gesê dat tegnici nog nie herstelwerk aan die substasie kon doen nie omdat dit wat van die struktuur oor was, te veel hitte afgeskei het.

Lindela het gesê die stad se tegniese span het aan ‘n tydelike plan gewerk om kragtoevoer binne ‘n paar dae na die gebied te herlei voor die substasie ten volle herstel sal word.


Die verwoesting aan die binnekant van die substasie

Die Wapadrandse substasie is verwoes ná die grootste deel van Pretoria-oos en dele van die noord-ooste die dag voor die brand, op 9 Julie, vanaf 7 vm sonder kragtoevoer was. Daardie dag is die 132 kv dubbellyn van Njala tot Waltloo volgens die metro-woordvoerder uitgeskop, wat gebiede vanaf Moreletapark en Faerie Glen tot so ver noord as Pumulani en Pyramid sonder krag gelaat het.

In dieselfde onderbreking is die Mooikloof substasie, met al die hoewegebiede wat deur dié stasie bedien word, kragloos gelaat.


Nooddienspersoneel by die brandende substasie

Die Stad Tshwane het met dié onderbreking op hulle blad laat weet dat inwoners minder krag moet gebruik omdat die netwerk wat krag voorsien oorlaai word en sodoende uitskop.

Volgens onbevestigde inligting het dinge egter anders verloop en is die brand by die Wapadrandse substasie deur die volgende gebeure voorafgegaan: Kragkabels is by die Njala Kragstasie, wat krag aan die grootste deel van Pretoria-oos voorsien, gesteel. Krag is toe van iewers anders herlei terwyl die kabels by die stasie vervang is. Toe die krag aangekom het, was daar ‘n fout met die kabel, wat dele van Faerie Glen en Olympus nog sonder krag gelaat het.

Die herstelspan het probeer om die kabelfout op te spoor, maar die masjien het glo gebreek. ‘n Ander masjien is vanaf Mamelodi laat kom en die span moes wag terwyl dié masjien in ‘n verkeersknoop vasgesit het. Die masjien het by die kragstasie aangekom en die fout is gekry. Tagtig persent van inwoners het herleide krag van elders gekry terwyl die kabels reggemaak is.


Werkers identifiseer en herstel kabels

Die opvolgspan wat in die nag moes uitgaan om die kabel reg te maak is egter met vuurwapens aangehou en kon nie by die perseel uitkom nie. Spanne het die perseel die volgende oggend bereik en die probleem is opgelos. Toe hulle die krag weer aangesit het, is kortsluitings elders veroorsaak, wat daartoe gelei het dat die Wapadrandse substasie ontplof het.

Intussen is ‘n groot toeloop ervaar van inwoners in die gebied wat kragopwekkers en ander kragalternatiewe aangekoop het. Baie inwoners het besluit om hulle koue, donker huise agter te laat en het die skoolvakansietyd gebruik om weg te gaan. Daar het lang toue mense by die gebied se gimnasium-stortgeriewe gestaan.


Nuwe skakeleenhede is geïnstalleer

Teen 13 Julie het metro-woordvoerders laat weet dat herstelwerk aan die Wapadrandse substasie volgens beplanning verloop. Daar is 26 skakeleenhede en ook T-4 toevoereenhede geïnstalleer. Kabels is geïdentifiseer en gemerk en al drie transformators is ongedeerd verklaar.

Dié is as ‘n ongekende nood-herbouery beskryf en spanne kabelwerkers het 24 uur per dag gewerk. Inwoners het sop, koeldrank, koffie, vetkoek, vrugte en ander versnaperings aan die werkers verskaf.

Volgens Darryl Moss kan dié herstelwerk tot R80-miljoen kos.
 

© 2018 Die/The Bronberger