En nou vir die goeie nuus PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 20 July 2018 19:48
Untitled Document

In hierdie sogenaamde ‘tegnologiese eeu’ word mense toenemend blootgestel aan digitale inligting wat in byna verstikkende oormaat op rekenaar of selfoon beskikbaar is – veral as jy jou ophou met sosiale media.

Tien jaar gelede het die Bronnie ook die ‘tegnologie’ nadergesleep, sy eie webblad geskep en is begin om die redaksionele inhoud, ‘n week of wat ná die tydskrif se verskyning, aan ‘n ‘wyer’ leserskorps beskikbaar te stel.

Van meet af was ons webtuiste uiters gewild en word deurlopend goed meer as ‘n duisend besoeke per dag ontvang. Goeie nuus aan ons adverteerders is dat ons van volgende maand af die ‘nuwe’ tegnologie gaan inspan om die volledige gedrukte Bronnie (met advertensies en al) ‘aanlyn’ beskikbaar te stel.

Die formaat van die webblad gaan dieselfde bly, maar met die bykomende opsie om op ‘n funksie te klik wat jou daartoe in staat stel om bladsy-vir-bladsy deur die tydskrif te blaai en redaksionele inhoud en advertensie te lees, net soos dit in die ‘regte’ Bronnie uiteengesit is. Dié aansienlike ekstra blootstelling gaan ons adverteerders nie ‘n enkele sent ekstra kos nie.

Ons is seker dat die gedrukte Bronnie, wat binne ons gemeenskap versprei word, altyd by verre die gewildste weergawe sal bly. Die ‘Papierbronnie’ bly na ons mening nog die nuttigste, mooiste, tasbaarste, bêrebaarste, vervoerbaarste en deurblaai-en-leesbaarste tegnologie denkbaar.

In ‘n onlangse studie wat deur Amerika se Temple Universiteit vir die VSA se posdienste gedoen is, is bevind dat mense meer tyd gebruik om ‘n ‘papieradvertensie’ as ‘n digitale advertensie te bekyk. Ná ’n week het die lesers van die gedrukte advertensie dit beter onthou en ‘n groter ‘emosionele’ reaksie op die gedrukte weergawe getoon. Die papieradvertensies het volgens die studie ook meer breinaktiwiteit ten opsigte van waarde en begeerte veroorsaak.

Hoekom dan hoegenaamd ‘n webblad met die Bronnie se volledige inhoud? Ons sit by die Bronnie met die aangename probleem dat ons eenvoudig nie kan voorbly om in die vraag te voorsien nie. Die tydskrif word letterlik opgeraap by ons verspreidingspunte en dit gebeur ongelukkig dat gereelde lesers soms Bronnieloos gelaat word. Vir hulle en natuurlik vir die derduisende lesers wat buite ons verspreidingsgebied bly en groot Bronnie-liefhebbers is, is die digitale weergawe ‘n welkome alternatief.

En ons is dankbaar dat ons voortaan hierdeur ook waardevolle bykomende blootstelling kosteloos aan ons gewaardeerde adverteerders kan bied. Want hulle is die lewensbloed waarsonder Die Bronberger nie kan voortbestaan en groei nie.

 

© 2018 Die/The Bronberger