Waar is ons verkeerslig? PDF Print E-mail
News - Briewe
Friday, 20 July 2018 19:48
Untitled Document

Juanita Jamneck van Mooiplaats skryf:
Die Boschkoppad-aansluiting by Lynnwoodweg-verlenging (oftewel Grahamweg) is die afgelope aantal jare uiters gevaarlik en daar is gereeld ongelukke.

Groot was ons verbasing toe daar onlangs begin is om straatligte vanaf die kruising in die Boschkoppad op te sit – en nie net ‘n paar nie, maar sommer ‘n hele ry tot oorkant die Portugese klub.
Op dieselfde dag wat daar begin is met die oprig van die ligte, is daar weer ‘n voetganger by die kruising raakgery.

Lede van die gemeenskap soebat al vir die afgelope agt jaar of langer dat daar ‘n verkeerslig opgesit moet word by die kruising, maar die verskoning is nog altyd dat daar nie geld is nie. Die nuutste verskoning (op Facebook van ons raadslid) is dat dit ‘n provinsiale pad is en daar word gewag op ‘n besluit van die provinsie. Aangesien daar nou blykbaar geld is vir die nuwe straatligte om helder oordag te brand, neem ek aan dat die verskoning van “geen geld” nie meer gaan opgaan nie en dat die munisipaliteit maar vir die provinsie kan geld leen.

Daar is skynbaar ook geld vir die vreemde wyse waarop daar te werk gegaan is om die ligte te plant. Eers is gate gegrou deur die normale Suid-Afrikaanse spanwerk – twee grou en vier staan op die grawe en kyk – en die pale is ingeplant.

Daarna is ‘n laaigraaf gebring om die sloot vir die kabels te maak. Ek wonder hoekom dit nie die gate ook kon maak nie. Daarna is die sloot toegegooi en ‘n paar dae later is ‘n klomp van die pale weer uitgehaal! Al die kontrakteurs moes seker hulle deel van die tendergeld kry en dus is daar so gewerk.

Indien daar steeds nie geld is nie, is dit nie tyd dat die besighede langs die Boschkoppad asook dié aan die oorkant van Grahamweg, wat baie van die verkeer veroorsaak, soos by ontwikkelings, moet bydra vir ‘n verkeerslig nie?

Om alles te kroon en die kruising nóg meer gevaarlik te maak, is die informele vrugte en groenteverkoper met haar sleepwa duidelik weggejaag waar dit eers voor die besighede parkeer was.

Nou parkeer sy digby die kruising met die gevolg dat vragmotors daar stop om by haar te koop en ‘n mens kan dan glad nie die aankomende verkeer sien as jy vanuit Boschkop wil indraai nie.

Die Metro-polisie staan gewoonlik net ‘n klein entjie verder in Grahamweg om padblokkades en dies meer te hou, maar niks word aan hierdie uiters gevaarlike situasie gedoen nie.

Ek veronderstel die positiewe van die straatligte is dat motoriste nou beter in die lig sal kan mik om die voetgangers raak te ry.

 

© 2018 Die/The Bronberger