Vlakvarkfees vier hoop saam met Mathys PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 25 June 2018 10:40
Untitled Document

Die Vlakvarkfees word op 7 en 8 Julie by Aquizi Lodge, Boekenhoutskloofdrift, ongeveer 10 km vanaf Cullinan gehou. Daar gaan vermaak vir oud en jonk wees en verskeie kunstenaars gaan optree, soos Mathys Roets, Lieflinge, Morné van der Sandt, Neil du Preez, Stephan Kruger en Talana Vuren.

‘n Vlakvark-potjiekoskompetisie word gehou asook ‘n model-kompetisie. Besoekers kan uitsien na ‘n vlooimark en optredes deur die Dixies-dansers.


Mathys Roets met die Klofies op tou in die Moreletakloof Natuurreservaat
Foto’s: Verskaf

Die inisiatief vir die fees is deur die Klofies Rolstoelvriendeklub geneem. Dié klub is deur die bekende Afrikaanse sanger Mathys Roets gestig, en hulle hou fees om fondse vir behoeftiges in die klub in te samel.

Mathys was op 6 April 2009 in ’n ernstige motorfietsongeluk op pad na die KKNK op Oudtshoorn. Hy het ’n rugbesering opgedoen, wat hom permanent in die onderlyf verlam gelaat het.


Sommige van die roetes wat die Klofies aanpak kan as 4x4 beskryf word

Vandag is Mathys ‘n inspirasie vir almal in sy rolstoel. Hy het sy solo-sangloopbaan ná die ongeluk voortgesit en tree saam met Kevin Leo en Danie Niehaus onder die verhoognaam ‘Drie van die Bestes’ op.

Mathys is ook mede-aanbieder van KykNET se leefstylprogram, ‘Kamp dit uit’, waar hy saam met Alexa Strachan in ‘n spesiale rolstoel-toeganklike woonwa toer.


‘n Kronkelpaadjie deur ‘n bos

Hy sê dat hy graag vir mense wil hoop gee. Dit is hoekom hy en sy parapleegvriend, Pieter Pretorius, in Maart 2011 op die staproetes van die Moreletakloof-natuurreservaat begin oefen het. Later het hulle ander mense begin saamnooi en so is die Klofies, soos die rolstoelvriende hulle self gedoop het, gebore.

Mathys sê die boodskap is dat ‘n mens se lewe voortgaan, al is jy verlam. Jy kan laat waai en fiks word, die lewe geniet en saam met vriende kuier. “Ek is trots daarop om deel van dié groep te wees,” het hy gesê.


Die Klofies keer laatmiddag terug van hulle avonture in die reservaat

Die Klofies het begin om elke Dinsdag in die Moreletakloof Natuurreservaat in Moreletapark te gaan oefen en daarna te kuier. Hulle ry in rolstoele op die paadjies tussen sebras, blesbokke en volstruise. Hulle het ook begin om 10 km wedlope op Saterdae te doen.

Die Moreletakloof Natuurreservaat het ‘n netwerk roetes van ongeveer 7,5 km. Die Rademeyer is 1,57 km lank, die duiker is 2,89 km en suikerbos is 3,32 km. Jy bereik die reservaat deur uit Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) in te draai by Rubensteinstraat en dan links in Heliosstraat, waar parkering beskikbaar is.


Só kuier die Klofies saam

Dié uitstappies in die natuur gee mense hoop, sê Mathys. “Daar is elke week iemand wat nuut bykom – jonger ouens wat pas in ongelukke was. Die groep het ook ouer ouens wat al jare in rolstoele is. Hier is ‘n hele mengsel van mense – mense wat wil fikser word en mense wat klaar fiks is. Dit is ‘n bewys dat die lewe kan aangaan.”

Brenda Bester verduidelik dat die Klofies ‘n groep vriende is met die verskil dat “sommige van ons in rolstoele sit en ander in gewone stoele en dan kuier ons lekker saam”. Sy sê die Klofies gaan vang vis, oefen saam, maak saam kos en van hulle scuba-duik selfs. Hulle ondersteun en inspireer mekaar en daag mekaar uit om aan te gaan en moed te hou.


Die Vlakvarkfees word op 7 en 8 Julie gehou

“Die Klofies kom bymekaar met een gemeenskaplike oortuiging: Ons handel nie in ‘n raamwerk van beperkings nie, maar in ‘n raamwerk van moontlikhede,” sê Brenda. “Wanneer die lewe vir jou ‘n rolstoel gee, kry jy jou sit en dan laat loop jy met die ding.”

Toegang tot die Vlakvarkfees op 7 en 8 Julie is R50, maar rolstoel-gebruikers kan gratis ingaan. Vir meer inligting, skakel 072-947-6340 of 066-201-3378

 

© 2018 Die/The Bronberger