Eerste miershooptiere in gebied vrygelaat PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 25 June 2018 10:39
Untitled Document

Die wêreld se eerste vrylating van miershooptiere het in ons kontrei gebeur. Die ‘tier’ is Afrika se heel kleinste wilde kat, maar kanse dat jy een sou sien is skraal omdat hulle grootliks ondergronds bly.

Dié katjies, wat op die Internasionale Unie vir Natuurbewaring se rooidatalys vir bedreigde spesies is, is baie antisosiaal en bly bedags in gate of tonnels wat hulle verkieslik in ou miershope uitgrawe. Die ‘tier’ deel van die naam verwys na die feit dat hulle onder die heel suksesvolste jagters van alle wilde katte is.

Waar hulle vroeër jare net in die dorre gedeeltes van suidelike Afrika opgemerk is, leef miershooptiere, Felis nigripes, deesdae reg onder ons neuse. Twee handgrootgemaakte weeskinders wat in die Delmas-omgewing gevind is, het by die Johannesburgse FreeMe beland. Hulle is by Ezemvelo Natuurreservaat op die R25 buite Bronkhorstspruit vrygelaat.


Die foto wys hoekom dié kat ‘n miershooptier genoem word
Foto: Chris Harvey – Arkive

Bronkhorstspruit
Die twee klein katjies is in 2011 op ‘n plaaspad buite Delmas gevind en grootgemaak tot hulle onhanteerbaar geraak het. FreeMe het ingespring en begin om die katte te leer hoe om vir hulle self te sorg terwyl kontak met mense afgeskaal is. Hulle is na die Nasionale Dieretuin in Pretoria geneem waar dr Adrian Tordiffe uriene-, stoel-, bloed- en hare-monsters geneem het.

Daarná is hulle na Ezemvelo geneem, waar ‘n hele paar miershooptiere reeds doenig was. Die FreeMe-katte was aanvanklik in ‘n afgekampte hok, waarvandaan hulle later vrygelaat is met elektroniese halsbande sodat hulle bewegings gemonitor kan word.

Dr Alex Sliwa, ‘n miershooptier-kenner van die Wuppertal Dieretuin in Duitsland, het Ezemvelo se personeel opgelei om dié opsporingsmetode te gebruik. Daar is gevind dat die wyfie binne weke van haar vrylating deur ‘n wilde mannetjie gedek is. Sy het twee gesonde kleintjies gekry, wie se afstammelinge in Ezemvelo vermenigvuldig het.


Twee miershooptiere by ‘n miershoop
Foto: Hayden Oake – Arkive

Witbank
‘n Spesiale afdeling vir miershooptiere is ook by die Loskopdam Natuurreservaat buite Middelburg gebou. Dit is nadat ‘n sogenaamde baba ‘rondloperkatjie’ by die Goedehoop Steenkoolmyn buite Witbank gevind is en by nadere ondersoek as die bedreigde miershooptier uitgeken is.

Die myn het onderneem om ‘n hok vir die kat, wat Tsetse gedoop is, te bou en om vir hom ‘n maat te kry. In 2008 het hulle nog ‘n wyfie en mannetjie na die hok geneem. Igoya was die eerste wyfie wat van ‘n sekere dood op ‘n plaas in die Vrystaat gered is. Die mannetjie, wat as ‘n baba-katjie op ‘n plaas buite Hendrina gevind is, is Ingwe gedoop.


Hy kry sy alternatiewe naam, swartpootwildekat, van die onderkant van sy pote
Foto: Black-footed Cat Working Group

Daar was nie baie hoop dat die katte sou oorleef nie. Hulle vaar glo nie goed in gevangeskap nie, word maklik siek en teel nie aan nie. Tog het dié eksperiment gewerk en vier klein katjies is gou gebore.

Die Duitse dr Alex Sliwa het daar ook ‘n draai gaan maak. Die katte is onder verdowing geplaas, geweeg, gemeet en teen parasiete behandel. Die kleintjies het mikro-skyfies vir identifikasie-doeleindes gekry.


Twee ses-weke-oue katjies by die ingang na hulle miershooptonnels
Foto: Dr Alex Sliwa

Werkgroep
Dr Sliwa besoek gereeld ‘n miershooptier-werkgroep in die Karoo om halsbande wat radio-seine uitstuur, aan die katte te sit. Die groep doen navorsingsprojekte in die Benfontein Natuurreservaat en Nuwejaarsfonteinplaas naby Kimberley. In 2012 is die projek uitgebrei tot by Biesiesfonteinplaas naby Victoria-Wes. Dit is in dié omgewing wat die katte indrukwekkende tonnelstelsels onder miershope uitgrou.

Die internasionale stamboek vir miershooptiere word by die Wuppertal Dieretuin, waar Dr Sliwa werk, gehou. Dié dieretuin het reeds in 1957 miershooptiere aangeskaf en het in 1963 met hulle begin teel. Gedetailleerde rekords bestaan vir 726 miershooptiere wat sedert 1964 bestudeer is.


Een van die katte by die Loskopdam Natuurreservaat
Foto: Vriende van Loskop

Vandag word daar wêreldwyd 74 individue in 23 instansies in Duitsland, die Verenigde State, Verenigde Arabiese Emirate, Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika aangehou.

Die Audubon Natuurinstituut in New Orleans, Louisiana werk aan die bewaring van dié katte deur genetika. In 2011 het die eerste wyfie in gevangeskap geboorte gegee ná in vitro bevrugting. Die proses het die volgende behels: bevrore sperm, wat in 2005 geoes is, is met ‘n eiersel gekombineer om embrio’s te vorm. Dié embrio’s het vir bykans ses jaar bevrore gebly.

Die instituut het ook in 2012 sukses behaal toe ‘n surrogaat-mak-kat-ma ná inter-spesie embrio-oordrag aan ‘n klein miershooptiertjie geboorte gegee het. Dit lyk of daar ‘n voortplantingsversperring is wat verhoed dat wilde miershooptiere met mak katte kruisteel.


Dr Adrian Tordiffe van die Nasionale Dieretuin neem monsters van ‘n miershooptier
Foto: Wild Revolution

Burchell
Die miershooptier is in 1824 vir die eerste keer deur natuurkundige, William John Burchell, beskryf.

Daar is twee subspesies van die genus Felis: Felis nigripes, wat in Namibië, Botswana, Mpumalanga, Gauteng, Noordwes en Noord-Kaap voorkom; en Felis thomasi, wat in Botswana en Griekwaland-wes woon.

Felis nigripes is kleiner en het ‘n ligter kleur, alhoewel die kenners deesdae bevraagteken of daar twee subspesies moet wees, omdat daar individue met karaktertrekke van altwee subspesies is.


Dr Alex Sliwa het radio-halsbande aan die miershooptiere by Ezemvelo Natuurreservaat gesit
Foto: Wild Revolution

Die miershooptier, ook bekend as die swartpootwildekat, se kleur wissel van ’n gelerige kaneelbruin tot ligte geelbruin, met verspreide strepe en kolle. Slegs die voetkussings en onderkant van die voete is swart.

Agter op die nek en rug is vier swart strepe waarvan die buitenste twee oor die skouers afdraai. Dié strepies is dikwels verdeel in korter strepies of kolle. Daar is drie ringe om die keel.


Die tydelike hok by Ezemvelo Natuurreservaat buite Bronkhorstspruit
Foto: Wild Revolution

Stewig
Dié katte het ‘n stewige bou en kort stert, en sukkel daarom om boom te klim. Hulle hou baie meer daarvan om ondergrondse tonnels te grou en woon nie net binne-in termiethope nie, maar ook in die gate van springhase, ystervarke of erdvarke.

Hulle slaap in die dag en jag ná sonsondergang, hoofsaaklik muise, spinnekoppe, reptiele, insekte en voëls, maar sal ook prooi groter as hulle vang, soos dassies en hase. Dié katte kan voëls uit die lug vang en spring tot 1,4 meter hoog en twee meter ver.

Die miershooptier het ‘n buitengewone aptyt en vang gemiddeld elke 50 minute in die nag prooi. Hulle kan in een nag prooi wat ‘n vyfde van hulle liggaamsmassa weeg, vreet. As die prooi te groot is om op een slag op te vreet, steek hulle dit in hulle tonnels weg.


Dr Alex Sliwa haal ‘n miershooptier uit sy tonnel om ‘n radio-halsband aan te sit
Foto: Holly Ganz

Dié katte loop omtrent 8 km per nag op soek na prooi en gebruik reukmerke om hulle gebied af te baken. Mannetjies, wat ‘n gebied van 22 km2 het, spuit elke 12 ure uriene. Hulle merk ook die gebied deur teen voorwerpe te skuur, met kloue te krap en hulle stoelgang op sigbare plekke te los. Wyfies se gebied is 10 km2 groot.

‘n Miershooptier kan tot 10 jaar oud word in gevangeskap. Hulle is volwasse ná agt tot 12 maande en is dan vir net twee dae op hitte. Die wyfie is 63 tot 68 dae lank dragtig en kry gewoonlik twee kleintjies wat 60 tot 84 gram weeg en blind gebore word.

Hulle kan na twee weke loop, kan ná ‘n maand vaste kos vreet, word op twee maande gespeen en is op vyf maande onafhanklik. Volwasse mannetjies (1,5–1,7 kg en 36.7–43.3 cm) is effens groter as wyfies (1–1,4 kg en 36.9 cm).

Die miershooptier is die tweede kleinste wilde kat ter wêreld. Die enigste wilde kat kleiner as hy is die roesvlek kat, Prionailurus rubiginosus, wat in Indië en Sri Lanka voorkom.

 

© 2018 Die/The Bronberger