Al padlangs tot by skilpadjies en nachos PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 25 June 2018 10:38
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

‘n Vriend vertel ons van ‘n seekosplek neffens Zambeziweg-verlenging in Cullinan se koers en ons vat pad, want die verlang na goeie garnale is groot. Groot ook was die teleurstelling toe ons voor die geslote hek van die ‘Weskus Mossel’ te staan kom. Duidelik bot toe en in sy dop gekruip, was dié mossel op daardie Saterdag.

‘n Entjie verder padlangs in Pretoria se rigting is Padlangs by die Derdepoortsentrum. Dié kuierplek het sedert ons etlike jare gelede daar gedraai het, nuwe eienaars gekry en terwyl ons nou hier is . . .


‘n Billike bord nachos met guacamole en roomkaas

Slap regs as jy ingedraai het, sit Padlangs. Sedert ons vorige besoek aldaar is die sitstoep vergroot en is ‘n buitekroegie aangebring. Sitvlakke het skaars stoel gevat toe staan ‘n netjiese kelnermens nader met sy ‘tablet’ in die hand: Nie die soort wat teen kwale ingespan word nie, maar van die rekenaartipe.

Met sy tablet kommunikeer hy direk met die kombuis en die kroeg om die bestellings vinnig en reg by die aansitters te kry, sê Leendert, die kelnermens. En inderdaad het ons flinke, foutlose diens geniet.

Padlangs se spyskaart is redelik ruim en dit is tweetalig. Duidelik weet die nuwe eienaars wie hulle klante is. Jy kan jou spyskaart grootliks in keurige Afrikaans verken. Ek en Metgesel wonder net oor die hofie wat sê ‘Oop Toebroodjies’ net onder die een wat ‘Toebroodjies’ sê. Ons besluit dat ‘n toebroodjie wat nie toe is nie, tog sekerlik ‘n oopbroodjie moet wees?


Die skilpadjies op grofgedrukte kapokaartappels

Die plek bied ‘n baie wye keuse van ontbytkosse, met die opsie om allerlei ekstras by die basiese te voeg. Die kleiner Engelse ontbyt kos ‘n geringe R24,50. Bo aan die skaal is die ‘slagtersontbyt’ met eiers, spek, boerewors, kruisskyf met gebraaide uie en sampioene teen R87,50.

Die omelet, gebou met drie eiers en saam met kaas kos R30. Teen ‘n ietsie ekstra kan jy spek en/of maalvleis, ham, soetrissie, uie, tamatie of sampioene byvoeg. Twee volle bladsye van die spyskaartboek word aan ontbyt gewei en die moontlikhede is legio.

Voorgeregte soos rissiehoenderlewers en krummel-calamari kos rondom R40 en slaaie sluit in een met hoender en een met kruisskyf. Tuisgebakte boerbrood word gebruik om die sewe keuses van geroosterde toe toebroodjies en vyf van ‘oop’ toebroodjies te bou. Skaapwagtersnye word, luidens die spyskaart, vir die oop toebroodjies aangewend. Die toebroodjies (oop en toe) wissel in prys vanaf R36,50 vir ‘n toe kaas-en-tamatie tot R70 vir ‘n oop een met kruisskyf, smeltkaas en sampioensous.


Die ingang na Padlangs met ‘n kuierstoep regs

‘n Padlangsburger sal jou R55 kos en ‘n boerseunburger, met twee tuisgeboude burgerfrikkadelle, R85. Jy kan kies uit ‘n verskeidenheid souse om by een van die nege burgerverbuigings te geniet.

Hoender, vark en bees word ingespan as hoofgeregte. Sosaties (R70), schnitzel (R75) en cordon bleu (R82) is die hoenderkeuse en van vark is dit tjops (R75) of ribbetjie (R125,50 vir 600 g).

T-been of kruisskyf is jou beeskeuse. Vir kruisskyf betaal jy R95,50 vir 250 g en net R135 vir 500 g. ’n T-been van 300 g kos R98,50 en een van 500 g net R125. ‘n Andersgeit is die gerookte T-been en ek oorweeg dit omdat dit vir my ‘n nuwe ervaring sou wees. Die hoofgeregte word bedien saam met ‘n keuse van skyfies, pap, kapokaartappels of groente.

Metgesel kies haar Padlangsgereg uit die afdeling wat ‘ligte maaltyd’ as hofie het. Moenie glo nie: Die nachos wat sy bestel word bedien saam met guacamole (gedokterde avokadopeer), slaai en kaas en dit is allermins lig. Jy kan jalapenos ook bykry, sou jy wou, maar sy wou nie. Metgesel eet baie lekker en baie en vra agterna vir ‘n braksakkie vir ‘n herhaling hiervan by die huis. Die nachosgereg kos R65.


Die kroegie op die kuierstoep

Ander ‘ligte etes’ sluit allerlei deelmandjies en ‘n biltongbord (R98,50) in.

Soos vermeld had ek ‘n smagting na garnale en die naaste daaraan wat ek by Padlangs sien, is skilpadjies. Nou nie egte ‘bosveldprawns’ (niertjies) nie, maar amper. Die skilpadjies is een van net twee ‘tradisionele geregte’ op die spyskaart. Die ander is pap en kaiings.

Die skilpadjies geval my. Dit is goed gaargebraai met die netvet net reg en nie oordadig dik nie. Die kapokaartappels is nie te fyngedruk nie en die sous komplimenteer die dis. Die twee skilpadjies kon na my smaak met effe meer koljander doen. Dit kos R65.

Ons het die terloopse kuier by Padlangs terdeë geniet. Die atmosfeer is gemaklik en ontspanne en die diens is (danksy die tegnologie) vriendelik en doeltreffend. Bel hulle as jy meer inligting wil hê:
072-777-3875.

 

© 2018 Die/The Bronberger