Korter seisoen PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Monday, 25 June 2018 10:36
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Die Suid-Afrikaanse Inkomste ‘monster’ het afgekondig dat die belastingseisoen vir 2018 korter as gewoonlik sal wees.

Waar die sperdatum om opgawes in te dien in die verlede vir nie-voorlopige “e-filers” 22 November was, is dit nou 31 Oktober. Dit sal SARS die geleentheid gee om verifikasies af te handel voor die meeste belastingbetalers weg is in die Desember-feesseisoen.

SARS het begin om e-posse te stuur aan belastingbetalers wat moontlik nie nodig het om opgawes in te dien nie. Dié e-posse is gebaseer op inligting wat SARS in die vorige belastingseisoen ontvang het. Dit bly elkeen se verantwoordelikheid om seker te maak of hy moet indien of nie. 

Die volgende is die kriteria vir indiening vir mense jonger as 65 jaar: Salaris was minder as R350 000; salaris is vanaf een werkgewer ontvang (een IRP5); daar is geen ander vorm van inkomste nie, soos toelae, sake-inkomste of rente ontvang; daar is geen aftrekkings om te eis nie, soos medies en annuïteit.

Dit is baie belangrik om daarop te let dat bogenoemde glad nie geld in die geval van sake-inkomste nie. Indien jy een of ander sake-onderneming bedryf moet jy ‘n opgawe indien, of die omset/wins minder as R350 000 is of nie.

SARS sal ook hierdie jaar meer spesifiek wees wanneer die verifikasiebriewe uitgereik word en presies noem watter dokumentasie hulle verlang. 

Maak seker of jy wel moet indien. Indien nie – bêre jou IRP5 op ‘n veilige plek en ontspan. As jy moet indien – skep ‘n “e-filing” profiel as jy nie reeds een het nie. Dit is ‘n groot frustrasie om in ‘n tou by SARS te gaan sit.

Indien tegnologie nie jou “ding” is nie, vra hulp. Ons omgewing het heelparty geregistreerde belastingkonsultante wat kan uithelp. As jy jou aantekenbesonderhede vergeet het, skakel SARS. Doen dit vroegtydig.

Kry die dokumente gereed en spring weg met die indiening. Indien SARS ‘n brief uitreik om verifikasiedokumente aan te vra, kry dit gereed en laai dit op met “e-filing”.

Die belastingseisoen skop op 1 Julie af.

 

© 2018 Die/The Bronberger