Sal die gemeente sit? PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 25 June 2018 10:32
Untitled Document

Die voorstelling van nuwe kerkraadslede was in sy dae ‘n baie gewigtige saak, het Linde se oupa Neels vertel. Nie dat dit deesdae minder gewig dra nie, maar toe hy nog jonk was, was dit al asof kerksake met meer erns en gewydheid aangepak is, het oupa Neels gesê.

So gebeur dit een Sondag, sê Oupa Neels, dat ‘n hele tien of twaalf nuwe ouderlinge en diakens in sy grootworddorp aan die gemeente voorgestel moes word. Die broers (net broers in daardie jare) word in ‘n netjiese halfmaan voor die kansel staangemaak.

Daar staan hulle toe waardig uitgevat in hulle swart manelle (net manelle in daardie jare), kiertsregop in ‘n halwe sirkel voor die preekstoel toe oudominees Dreyer ‘n gepaste gesang opgee. Die gemeente sou dié gesang uit volle bors sing sodat die broeders geïnspireer kon word vir die moeilike taak wat op hulle wag, het oupa Neels vertel.

Oudominees se sig was nie meer van die beste nie en, soos die duiwel dit wou hê, gebeur dit toe dat hy die verkeerde gesang, naamlik gesang 172, opgee en wel vers drie. Nou was gesang 172 een wat spesiaal vir Geloftedag geskryf is en wat die gemeente toe op daardie dag uit volle bors vir die halfmaan ampsdraers in hulle swart manelle toegesing het, was:
“Halfmaan van geweldenare, buig die horings om en om, skrikkelike moordbarbare, tot vergelding aangedrom! Wie sal red uit diepste ellende? Wie die vloed van onheil wende? Wie kan nou die kleine skaar, teen verdelging nog bewaar?”

Oupa Neels het vertel dat dit bitter moeilik was vir die gemeente om die lagspiere in toom te hou, want die kleinste snaaksigheid tydens ‘n kerkdiens neig mos op daardie oomblik verskriklik snaaks te wil wees.

~*~

Hy dink nie dit is vandag meer die geval nie, sê Gert Mossie, maar etlike jare gelede was baie predikante van die gewoonte om in hulle preke en prate sterk klem op die s-klank te plaas deur dit as ‘sj’ uit te spreek. “Onsj sjing nou sjaam uit gesjang 47,” sou die predikant byvoorbeeld sê. Hy vermoed dit is iets wat hulle op kweekskool geleer is, sê Gert, want hy glo nie die skuld kon op die nagmaalwyn geplaas word nie.

Só is ‘n nuwe predikant na hulle gemeente beroep en gou was dit met sy eerste Sondagdiens duidelik dat ds Van der Merwe sy tong vir beklemtoning kwaai oor die esse laat sleep: “Broedersj en sjusters, kom onsj stjaan en sjing sjaam . . .”

Hy het byna ‘n aar gebars, sê Gert, soos hy die lag probeer binnehou het, toe sy ousus met die opstaanslag hier langs hom in sy oor fluister: “Ek hoop net nie ds Van der Merwe vra ons agterna om te sit nie.

 

© 2018 Die/The Bronberger