Kunstenaar se tyd in Parys leer hom om kritiek te hanteer Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 20 April 2009 14:12
Untitled Document

Alle kunstenaars droom van Parys. Min kry die kans om dié stad te besoek, wat nog te sê daar te werk. Dink jou nou net in hoe dit moet voel as jy gekies word om vir vier maande in ’n ateljeewoonstel in dié kunstenaarstad te gaan woon en werk.

Johan Marais van Woodlands was die kunstenaar wat deur die Suid- Afrikaanse Vereniging vir Visuele Kuns gekies is om van September tot Desember 2006 in ’n woonstel in die Cité International Des Arts kompleks in Parys te woon.

In Mei vanjaar hou Johan sy sewende solo uitstalling by die Pretoriase Kunsvereniging en dink terug aan die tyd toe hy vir die eerste keer in Parys uitgestal het sonder om ’n enkele skildery te verkoop.


Johan Marais verduidelik wat skilder vir hom beteken

Land
Johan vertel dat hy op Maandag 4 September 2006 in Parys aangekom het, dadelik uitgepak het, die nodige kruideniersware gaan koop het en toe vir ’n lang wandeling gegaan het. Teen die einde van daardie dag het hy klaar besluit dat hy sy werk gaan fokus op landskappe, spesifiek die parke en woude in en om Parys en suidelike Frankryk. Hy het sy eerste skildery daardie selfde aand begin.

Johan sê hy is oortuig daarvan dat daar iets in Parys se drinkwater is wat ’n mens vrolik en entoesiasties maak. Of dalk was die euforie te danke aan die bekostigbaarheid van die Franse wyn, spot hy. Reeds op sy tweede dag in Parys het hy ’n plek bespreek vir ’n uitstalling van 6 tot 16 Desember. Sy doel was om 40 skilderye klaar te maak wat werke in akriel op doek, asook pen en ink sketse op papier sou insluit.


?Swaziland Blue Gums? kan by Johan se uitstalling van naderby bekyk word

Eie
Hy het ure in museums spandeer om ou meesters se werk te bestudeer, net om te besluit dat dit dalk belangriker sou wees om sy eie benadering te volg. “In Parys is jy op jou eie,” sê hy. “Jy doen jou eie navorsing, werk alleen en ondervind kuns alleen.”

Tog was daar kunstenaars om hom te help met die kommunikasie-probleem wat hy ondervind het omdat hy nie vlot Frans kon praat nie. Nog iets wat hom gehelp het was sy daaglikse ‘landskap meditasie’ op die banke van die Seine of in die parke van die stad.

Johan sê dat die sukses van ’n landskap skildery afhang van die vermoë om ’n mens se inspirasie oor te dra op doek sodat dié wat na die skildery kyk kan voel hoe dit is ‘om daar te wees’.

Vir hom is skilder nie ’n blote weergee van feite nie; dit grawe diep in die kunstenaar se siel in en is ’n uitdrukking van sy menslikheid. Of dit die moeite werd is om sekere onderwerpe te skilder, is iets wat Johan homself gereeld afgevra het met sy verblyf in Parys. Veral nadat hy negatiewe kritiek ontvang het. Die 350 ateljees in die Cité was vol kunstenaars van dwarsoor die wêreld, elk met sy eie opinie oor Johan se werk.


?Grief, Sorrow but Hope? is die skildery wat in 2007 gekies is om uitgestal te word by die Salon D?Automne in Parys

Kritiek
Net voor sy uitstalling het Johan ’n klomp van dié kunstenaars na sy ateljee genooi om na sy werk te kyk. Dit was miskien nie ’n goeie idee nie, maar hy het geglo dat hy iets uit hulle opinies kon leer. Wat hy op die ou einde geleer het is dat hy bowenal aan homself as skilder getrou moet bly, ondanks ander se opinies. Dit was nie altyd maklik nie, veral na die bittere teleurstelling toe hy nie ’n enkele skildery verkoop het met sy 10-dag uitstalling nie.

Johan sê dat sy ondervindings in Parys hom gebring het waar hy vandag is. Dit is daar waar Johan vir die eerste keer in sy lewe in staat was om in sy ateljee te skilder sonder enige inmenging. Op ’n reënerige dag kon hy tot 12 ure lank skilder.


Een van die skilderye wat Johan in Parys gedoen het - die tuine van die paleis van Luxembourg

Voltyds
Johan het eers toe hy in 2005 afgetree het, ’n voltydse kunstenaar geword. Hy is in Kimberley gebore en het sy eerste kunslesse aan die Diamantveld Hoërskool gehad. Na matriek het hy kuns buitemuurs studeer en ook sy B.Com graad aan die Universiteit van Suid-Afrika voltooi.

Oor die jare het hy verdere kunsklasse bygewoon en homself nie net tot een medium beperk nie. Vandag fokus hy op stillewes en landskappe en sy voorkeur is om helder, vars kleure te gebruik wat ’n impressionistiese gevoel aan die werk gee. Hy sê dat mense kleur in hul lewens nodig het, veral as alles rondom hulle so vaal lyk.

Wat hy bowenal wil hê is dat sy werk duidelik moet uitstaan van die werk van ander hedendaagse kunstenaars, maak nie saak hoe goed of sleg sy werk is nie. Johan se doel is om uitdrukking te gee aan wie hy is en hoe hy die wêreld rondom hom sien.

As ’n kunstenaar is hy in die vermaaklikheidsbedryf en wil hy aandag trek. Johan sê hy wil hê dat sy skildery mense wat in ’n galery of museum instap, waar daar hordes kunswerke is, se aandag lank genoeg moet trek sodat hulle daarop reageer. En dit kan maar ’n goeie of ’n slegte reaksie wees.


‘Sunset at the Lake’ is te siene by Johan se uitstalling in Mei

Gekies
Dit lyk egter asof die reaksie op sy werk oorweldigend goed is. In 2004 en 2005 is Johan se werk gekies vir die Alette Wessels Kunskamer jaarlikse kunsinisiatief.

In 2004 was hy een van die finaliste vir die Johannesburgse Kunsstad kompetisie. Sy werk is ook gekies vir die Alice Kunsgalery se ‘Vars Talent 2006’. Een van sy skilderye verskyn in een van die 2007 Parmalatadvertensies en sy werk word uitgestal in verskeie kunsgalerye in Suid-Afrika.

Johan het in 20 groepuitstallings en ses solo-uitstallings in Suid-Afrika deelgeneem. Hy het ook al in Oostenryk uitgestal. Na sy 2006 Parys-uitstalling is sy werk, ‘Grief, Sorrow but Hope’ gekies om in November 2007 uitgestal te word by die Salon d’ Automne in Parys. Hy het opdrag van Absa Bank ontvang om 13 landskappe vir dié bank se top presteerders te skilder. ’n Ander opdrag was om 20 skildery vir ’n gastehuis in Pretoria te skilder en sy werk verskyn gereeld in tydskrifte, kunsboeke en koerante.

Johan se sewende solo uitstalling is van 10 tot 28 Mei by die Pretoriase Kunsvereniging, Mackiestraat 173, Nieuw Muckleneuk. Galery-ure is van Dinsdag tot Vrydag van 9.30 vm tot 5.30 nm en op Saterdae van 9.30 vm tot 1 nm. Die uitstalling word op 10 Mei om 6 nm geopen.


Johan se werk word in talle galerye uitgestal

 

© 2020 Die/The Bronberger