Vuurwater vloei deur mampoerkoning se are PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 25 June 2018 10:24
Untitled Document

Boet Schoeman is weer as nasionale kampioen van die Kultuurstokersgilde bekroon by die Mampoerfees op 2 Junie.

Die dag van dié fees, wat by die Willem Prinsloo Landboumuseum gehou is, was lekker koud in die oggend, maar ’n glasie mampoer het vinnig die koue verdryf. Mampoer, witblits en likeurs is per sopie geproe en per bottel verkoop.


Primrose Khanyile, ’n raadslid van Ditsong Museums van Suid-Afrika, oorhandig die skild aan Boet Schoeman, nasionale kampioen van die Kulturstokersgilde
Foto: Alda Bronkhorst

Distilleerders wat aan die Kultuurstokersgilde behoort het van dwarsoor die land saamgetrek om aan dié nasionale kampioenskappe deel te neem. Boet, wat al menige kere met die louere weggestap het, vertel dat daar blinde beoordelings is – die beoordelaar weet nie wie die stoker is nie. Die beoordeling is streng en jy mag geen ekstra suiker of chemiese middele in die stookproses gebruik nie.


Vuurwater in die winter
Foto: Alda Bronkhorst

Boet stook dwarsdeur die jaar en gebruik vrugte soos pere, appels, pruime en hanepoot druiwe. Hy vertel dat die Schoemans hulle stookketels in 1844 met die ossewaens noordwaarts gebring het. Boet se pa, wat die vierde geslag stoker was, het die stookkuns aan hom geleer net soos hy dit aan sy seun Dawie geleer het.


Die skinkers moes bontstaan by die Mampoerfees
Foto: Verskaf

Feesgangers het die optrede van sanger Pieter Koen geniet en met heimwee teruggedink aan die dae van weleer met die optrede van die tradisionele boeredansers. 


Boeredansers het by die fees opgetree
Foto: Verskaf

Daar is gesmul aan pap en kaiings en vars boerebrood uit die bakoond, skilpadjies met pap en sous, skaap op ’n spit en lekkernye by talle ander koskraampies. Die trekkeroptog en demonstrasie deur die Hoëveld Trekker- en Enjinklub van veteraanenjins was ’n groot aantrekkingskrag vir die manne.

 

© 2018 Die/The Bronberger