Liezl slaan rol in 7de Laan los PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 25 June 2018 10:24
Untitled Document

Liezl Geldenhuys, ‘n inwoner van Paul Jungnickelhuis in Zwavelpoort, het aan die einde van Mei haar debuut as aktrise op die gewilde Afrikaanse sepie, 7de Laan, gemaak. Haar karakter se naam is ook Liezl en sy speel Kosie se meisie.

Kosie, gespeel deur Kosie Schoeman, ‘n Down-sindroom-man, is die afgelope 11 jaar deel van 7de Laan en verskyn gereeld in Oppiekoffie. Op 22 Mei het Kosie se oog op ‘n spesiale meisie, Liezl, geval.

Die 26-jarige Liezl is ook met Down-sindroom gediagnoseer. Paul Jungnickelhuis is ‘n tehuis vir volwasse gestremdes en huisbestuurder, Johannie Burger, verduidelik dat daar verskillende vlakke van funksionering is met dié sindroom.


Liezl Geldenhuys saam met 7de Laan-karakters, voor: Kopano (Thabo Mhlanga). Middel: Olivia (Nadia Herbst), Liezl, Kosie (Kosie Schoeman) en Nozi (Dimpho More). Agter: Rickus (André Lotter)

Liezl is intellektueel gestrem en funksioneer op die vlak van ‘n laerskoolkind. Sy bly in Paul Jungnickelhuis sodat sy vriende kan hê en kan deelneem aan die aktiwiteite wat die tehuis aanbied.

‘n Familielid aan Liezl se pa se kant werk op die 7de Laan-stel en het Liezl vertel van die geleentheid om Kosie se meisie in die sepie te speel. Sy het vir ‘n oudisie gegaan en die rol gekry.

Liezl vertel dat dit nog altyd haar droom was om ‘n aktrise te wees. Sy is mal oor die rol wat sy speel en het vinnig vriende gemaak op 7de Laan se stel, veral met haar gunsteling karakter, Connie, gespeel deur Quinne Brown Huffman.


Kosie en Liezl

Liezl was nog altyd ‘n aanhanger van 7de Laan en kyk die sepie sedert die begin in 2000, toe sy nog ‘n dogtertjie was.

Johannie sê dat dit soos Bybelstudie in die Paul Jungnickelhuis is wanneer dié sepie aan die gang is. Sy sê dat die personeel gou geleer het om geen aktiwiteite in dié tyd te reël nie.

Liezl sê sy hou daarvan om beroemd te wees en die aandag wat dit bring. Sy hou ook daarvan om met ander mense te gesels en dis hoekom sy by die tehuis is – dit sou net te eensaam en vervelig by die huis gewees het.


Liezl Geldenhuys saam met Reandi Grey, wat Esti in die sepie speel

Haar droom is om in die toekoms rolle in ander stories te kry sodat almal kan sien dat mense met gestremdhede ook dinge kan doen wat ander mense doen en dat hulle dieselfde drome en ambisies het. Sy droom ook daarvan om te sing.

Liezl se volgende verskyning in die sepie gaan op 16 Julie wees

 

© 2018 Die/The Bronberger