Beskerm die kwesbares PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 25 June 2018 10:23
Untitled Document

Kinders is van die mees kwesbare lede van ons samelewing en baie tragedies kan verhoed word as gemeenskapslede die owerhede van mishandeling laat weet. Stappe kan dan geneem word om ‘n kind na veiligheid te verwyder.

So sê Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos.
“Junie, die maand waarin ons op ons kinders en jeug fokus, behoort ons te help om te besin oor kinders se veiligheid in hulle huislike omstandighede,” sê Henda.

’n Kind wie se lewe in gevaar is moet na ‘n plek van veiligheid verwyder word en vandaar na ‘n pleeghuis of pleegfamilie geneem word, sê sy. Dit is nie die laaste hoofstuk vir die ouers nie, aangesien pleegsorg se einddoel is om die kind met die biologiese ouers te herenig.

Om ‘n kind te verwyder beteken nie dat die ouers die kind nooit weer sal sien nie, ‘n opvatting wat maatskaplike werkers gereeld raakloop. Dit is hoekom mense skrikkerig is om die kind te hulp te snel.

‘n Duidelike pleegsorgooreenkoms, wat die biologiese ouers en kontak onder toesig insluit, word opgestel en die ouers word aangemoedig en bemagtig om hulle vaardighede op alle vlakke te verbeter. Dié is ‘n intensiewe proses wat deur die maatskaplike werker gemonitor word.


Henda van der Merwe

In terme van die Kinderwet, doen ons alles in ons vermoë om kinders in kontak met hulle biologiese ouers te hou, en ons bou altyd op die hoop dat die ouers se omstandighede tot so ‘n mate verbeter dat die kind na sy eie huis kan teruggaan.

Henda sê dat daar ‘n gebrek aan plekke van veiligheid in die Pretoria-omgewing is en dat pleeghuise ook te min kapasiteit het. Dit is hoekom die maatskaplike werkers sterk op pleegfamilies steun.

“Ons dienste sluit ook ondersteuning aan pleegfamilies in, omdat pleegsorg ‘n hele familie se lede aanraak. Kinders wat erge trauma beleef het, plaas ‘n emosionele uitdaging aan almal wat met hulle in aanraking kom,” sê Henda.

CMR Gauteng-Oos ondersteun 896 kinders in pleegsorg en het verlede jaar 135 sake in die Kinderhof gefinaliseer.

Vir meer inligting, bel Henda van der Merwe by 072-801-0092.

 

© 2018 Die/The Bronberger